August 2017
Dr Danie Beukes, onafhanklike grondkundige en Carel Koch, onafhanklike landboukundige
In Deel 1 van die artikel is daar gekyk na die agtergrond en proewe wat in die navorsing op die watertafel-sand-gronde van die Noordwes-Vrystaat gedoen is.
Drie produsentemedewerkers, naamlik mnre Danie Minnaar (Springboklaagte, Kroonstad), Lourens van der Linde (Klein Constantia, Wesselsbron) en Thabo van Zyl (Visagieskuil en Gerrie, Bothaville), het ingewillig om proewe uit te voer waar diepskeurploegbewerking (rip-op-ry), met variasies, vergelyk is met verminderde bewerking onder monokultuur-mielies.
In hierdie artikel (Deel 2) word gefokus op die evaluering van die bewerkingspraktyke onder monokultuur-mielies.
Seisoenale reënval
Grafiek 1 toon die seisoenale reënval (Augustus tot April) vir die drie proeflokaliteite. Terwyl die gemiddelde reënval van 487 mm vir die 2013/2014- tot 2014/2015-seisoen voldoende was om mielies te produseer, het die droë 2015/2016-seisoen veroorsaak dat min of geen mielies in die Bothaville-Kroonstad-Wesselsbron-omgewing geplant is.
Die lae reënval van sowat 55 mm op Klein Constantia en Visagie-skuil tydens die 2015-plantseisoen het meegebring dat geen
proewe geplant kon word nie. Met ’n reënbui van 61 mm op 20 en 21 November 2015 op Springboklaagte kon al die Sandgrond-ontwikkelingskomitee (SOK)-proewe geplant word.
Opvolgreën van 128 mm tydens Januarie tot Maart 2016 het die proewe gered en voorkom dat die plaas se oes misluk. Hiermee
word die feit dat die verspreiding van reënval op sandgronde met hul lae waterhouvermoë belangriker is as die totale hoeveelheid reënval weer eens bevestig.
Wortelverspreiding
Wortelstudies is in die 2013/2014-seisoen op die bewerkingsproef op Visagieskuil uitgevoer. Profielgate is loodreg oor twee mielierye gegrawe, waarna ‘n raamwerk met 15 cm x 15 cm-vierkante oor die wortelgebied geplaas is.
Die voorkoms van wortels is op ‘n relatiewe skaal van 0 tot 5 bepaal met 0 = min of geen wortels en 5 = goeie voorkoms van wortels. Figuur 1a tot Figuur 1c toon wortelverspreiding as ‘n funksie van twee seisoene se bewerkingstelsels.
Die volgende waarnemings kan hieruit gemaak word:
- Rip-op-ry (2013/2014)/rip-op-ry (2012/2013): Goeie wortelontwikkeling met diepte, asook tussen die mielierye. Die gemiddelde verspreiding was 63% in die 0 cm- tot 30 cm-laag (Figuur 1a).
- Rip-op-ry plus tussenry-rip/rip-op-ry: Figuur 1b toon ietwat swakker wortelontwikkeling (57% in 0 cm- tot 30 cm-laag) as
rip-op-ry/rip-op-ry, maar met goeie ontwikkeling (63%- 81%) in die dieper lae. - Verminderde bewerking/rip-op-ry: Kompaktering deur die wiele van ‘n swaar planter het gelei tot swak laterale wortelverspreiding sowat 45 cm tot 60 cm vanaf die plantry. Die gemiddelde verspreiding was 37% in die 0 cm- tot 30 cm-laag (Figuur 1c).
Mieliegroei en -opbrengs
Foto 1 tot Foto 3 toon dat met rip-op-ry (links) heelwat beter vegetatiewe groei verkry is as met verminderde bewerking (regs)
op Springboklaagte, Gerrie en Klein Constantia, onderskeidelik. ‘n Algemene verskynsel onder verminderde bewerking was die onegalige groei van die mielies (sien Foto 3 regs). Foto 4 toon bevredigende groei in Februarie 2016 onder rip-op-ry op Springboklaagte ten spyte van die lae reënval.
2013/2014-seisoen
Grafiek 2a tot Grafiek 2c toon dat die bewerkingsbehandelings verskille in graanopbrengs in die 2013/2014-seisoen (gemiddelde seisoenale reënval = 525 mm) meegebring het. Op al drie lokaliteite het een of ander vorm van primêre bewerking (rip-op-ry, rip-op-ry plus tussenry-rip, tussenry-rip) statisties-betekenisvolle hoër op-brengste gelewer as verminderde bewerking.
Opbrengste onder eersgemelde bewerkings het gewissel van 5 906 kg/ha tot 8 514 kg/ha teenoor 5 026 kg/ha tot 7 482 kg/ha
onder verminderde bewerking.
Die hoë opbrengs van 8 339 kg/ha onder rip-op-ry plus tussenry-rip op Visagieskuil (Grafiek 2c) is heel waarskynlik te danke aan die goeie wortelontwikkeling (sien Figuur 1b).
2014/2015-seisoen
Grafiek 3a tot Grafiek 3c toon dat die bewerkingsbehandelings onder ‘n laer reënval (448 mm) ook verskille in graanopbrengs teweeggebring het. Op al drie lokaliteite het een of ander vorm van primêre bewerking-bewerking (rip-op-ry, rip-op-ry plus tussenry-rip, slegs tussenry-rip) hoër opbrengste gelewer as verminderde bewerking.
Statisties-betekenisvolle verskille is op Springboklaagte en Gerrie verkry. Van belang is dat die goeie opbrengste oor seisoene heen verkry is, waar rip-op-ry met verminderde bewerking afgewissel is (rip-op-ry/verminderde bewerking, verminderde bewerking/rip-op-ry) (sien Grafiek 3a). Opbrengste onder rip-op-ryvariasies het gewissel van 3 059 kg/ha tot 4 643 kg/ha teenoor 3 457 kg/ha tot 3 833 kg/ha onder verminderde bewerking.
2015/2016-seisoen
Grafiek 4 toon dat vir Springboklaagte uiters lae opbrengste ver-kry is onder ‘n uiters lae seisoenale reënval van 308 mm (sien
Grafiek 1). Trouens, die reënval vir Januarie tot Maart 2016 was sowat 50% van die 110 jaar-gemiddeld van 260 mm.
Alhoewel die bewerkingsbehandelings verskille in graanopbrengs meegebring het, was dit nie statisties betekenisvol nie. Duidelike tendense dat mielie-opbrengste vir hierdie uitermate droë seisoen hoër was onder:
- Rip-op-ry/verminderde bewerking vergeleke met rip-op-ry/rip-op-ry (2 093 kg/ha versus 1 197 kg/ha);
- verminderde bewerking/rip-op-ry plus tussenry-rip vergeleke met rip-op-ry/rip-op-ry (1 784 kg/ha versus 1 197 kg/ha); en
- verminderde bewerking/verminderde bewerking vergeleke met rip-op-ry/rip-op-ry (1 576 kg/ha versus 1 197 kg/ha) is waargeneem.
Die gevolgtrekking kan daarom gemaak word dat ‘n rip-op-ry/verminderde bewerking en ‘n verminderde bewerking/verminderde bewerking-bewerkingstelsel tydens ‘n droë seisoen gebruik kan word om die beste mielie-opbrengste te verkry.
Die verklaring hiervoor lê heel waarskynlik in die verskynsel dat minder grondwater tydens ‘n verminderde bewerkingseisoen deur die mielies onttrek word, met ‘n gevolglike hoër residuele watervoorraad vir die volgende seisoen.
Samevatting en gevolgtrekkings
Terwyl die gemiddelde seisoenale reënval van 487 mm vir die 2013/2014- tot 2014/2015-seisoene vir die drie proeflokaliteite voldoende was om mielies te produseer, het die lae reënval van sowat 55 mm tydens die 2015-plantseisoen op Klein Constantia
en Visagieskuil meegebring dat geen proewe geplant kon word nie.
Met voldoende reën in November 2015 op Springboklaagte kon al die SOK-proewe geplant word. Opvolgreën van 128 mm tydens Januarie tot Maart 2016 het die proewe gered en ‘n mislukte oes op die plaas voorkom.
Die verspreiding van reënval op sandgronde is belangriker as die totale hoeveelheid reënval. Hierdie stelling is veral waar die bydrae vanaf ‘n watertafel tot die totale grondwatervoorraad in droë jare afwesig is.
Wortelstudies het getoon dat wortelontwikkeling en -verspreiding goeie aanduiders is van die opheffing van grondverdigting deur middel van bewerkingspraktyke. Skeurploegbewerking het gelei tot goeie vertikale wortelontwikkeling, asook laterale verspreiding. Daarteenoor het die nie-opheffing van die planterspore onder verminderde bewerking gelei tot swak laterale wortelverspreiding – veral in die bogrond.
Gedurende beide die 2013/2014- en 2014/2015-seisoene het skeur-ploegbewerking (rip-op-ry, rip-op-ry plus tussenry-rip, slegs tussenry-rip) op al drie lokaliteite gelei tot beduidend hoër mielie-opbrengste as met verminderde bewerking.
Die voordeel van die diep bewerking van hierdie sandgronde is dat dit grondverdigting ophef, met gevolglike beter wortelontwikkeling, wat weer gelei het tot verhoogde voedingstof- en wateropname – ook uit die kapillêre sone bokant die watertafel.
In die uiters droë 2015/2016-seisoen het skeurploegbewerking, waar dit in die vorige seisoen afgewissel is met verminderde bewerking, beter opbrengste gelewer as opeenvolgende skeurploegbewerkings. Die verminderde wateropname onder ver-minderde bewerking in die vorige seisoen het gelei tot ‘n oordrag van grondwater na die volgende seisoen.
Dit bly egter steeds ‘n risiko om in so ‘n droë seisoen te plant. Dit is duidelik dat ‘n skeurploegbewerking vir hierdie spesifieke sandgronde onontbeerlik is, maar dat dit deel moet vorm van ‘n holistiese produksiestelsel wat biologiese, chemiese en fisiese grondeienskappe sal verbeter en wisselbou sal insluit, ten einde grondgesondheid te bevorder vir ekologies-volhoubare mielieverbouing.
Erkenning
Die produsentemedewerkers Minnaar, Van der Linde en Van Zyl word bedank vir hul entoesiasme, toewyding en die kostes verbonde aan die suksesvolle voltooiing van die proewe.
Insetverskaffers soos Omnia, Pannar en Syngenta word ook bedank vir hul volgehoue belangstelling en die kostes verbonde aan die suksesvolle afhandeling van die proewe.
Publication: August 2017
Section: On farm level