Kersmark op NAMPO Park vanjaar jaar selfs groter

Gepubliseer: 3 November 2022

1059

Die OFM NAMPO Park Kersmark vind vanaf 24 November tot 26 November 2022 op NAMPO Park buite Bothaville plaas.

Dit is die vierde jaar dat die Kersmark aangebied word en met 130 uitstallers en ’n verskeidenheid van stalletjies vir dames, mans en kinders, kan besoekers na hartelus Kersgeskenke kom koop. Daar sal ook verskillende kosstalletjies, ’n teetuin, gin bar en kroegfasiliteite wees.

Anders as vorige jare sal die mark op die Vrydagaand tot 20:00 oop wees. Daar is dus nog heelwat tyd om inkopies na werk te kom doen.

Almur Marais, wat bekendheid verwerf het met sy deelname aan The Voice South Africa, tree Vrydagaand vanaf 17:00 tot 20:00 op. Besoekers kan heerlik op die grasperk voor die Fanie Ferreira-saal ontspan en na sy musiek luister. Slegs ’n toegangskaartjie van R20 is betaalbaar om die vertoning by te woon. Die kos- en ander stalletjies sal ook tot 20:00 oop wees.

Kersvader sal die Saterdag sy verskyning maak om lekkers uit te deel en vir fotogeleenthede saam met die jongspan. Vir die avontuurlustiges sal daar helikopterritte teen R500 per rit op die Saterdag wees, asook ’n veteraanmotoruitstalling.

Nog ’n eerste is ’n 5 km-pretdraf vir die hele gesin op NAMPO Park die Saterdag om 08:15. Toegang tot die Kersmark is R20 per persoon en voorskoolse kinders kry gratis toegang.