So lyk die protokol vir toegang tot plase

Gepubliseer: 1 Oktober 2020

2071
Kobus Visser,
direkteur: Landelike
Veiligheid en Provinsiale
Sake, Agri SA

Die Landelike Beveiligingstrategie, soos ontwikkel en toegepas deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, maak voorsiening vir die implementering van ’n protokol om toegang tot plase te bestuur.

In die lig van die hoë vlak van misdaad in landelike boerderygebiede en aanvalle op plaasbewoners, sal die volgende besoekergroepe­rings toegang verkry tot plaaseiendom ingevolge die reëlings soos hierin uiteengesit.

Veiligheidsdienste
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag moet toegang verkry – verkieslik per reëling. Hierdie reëling sal nie van toepassing wees waar die grondeienaar of die persoon in beheer van die eiendom die onderwerp van optrede deur die veiligheidsdienste is nie. Voertuie moet duidelik gemerk wees en lede van die veiligheidsdienste moet in uniforms geklee wees. Veiligheidsdienste moet onmiddellik by die eienaar of persoon in beheer van die eiendom aanmeld wanneer die eiendom betree word en ’n aanstellingsertifikaat moet getoon word.

Beamptes wat toegang moet verkry
Inspekteurs van die Departemente van Arbeid, Binnelandse sake, Gesondheid, Landbou, ensovoorts het ’n vooraf reëling of afspraak met of toestemming van die eienaar of persoon in beheer van die eiendom nodig om toegang te bewerkstellig. Wanneer toegang tot die eiendom of perseel verkry word, moet dit onmiddellik aan die eienaar of persoon in beheer van die eiendom gerapporteer word. Die beampte moet hom/haarself behoorlik identifiseer en mag geen take of aksies onderneem behalwe dié waarvoor toestemming ontvang is nie.

Indien die beampte nie daarin slaag om ’n afspraak te maak nie, aangesien hy/sy nie kontak met die eienaar of persoon in beheer van die eiendom kon maak nie, of waar die versoek om ’n afspraak geweier is, moet hy/sy die plaaslike boerevereniging of provinsiale landbou-organisasie of die Suid-Afrikaanse Polisiediens nader vir hulp.

Privaat persone wat die plaas mag besoek
Dit sluit persone wat byvoorbeeld die reg het om plaasbewoners te besoek ingevolge die Wet op die Uitbreiding van Verblyfreg in.

Toegang kan slegs verkry word per reëling of afspraak met die eienaar of persoon in beheer van die eiendom. Die besoeker mag slegs die vooraf geïdentifiseerde roete na die plaaswerkerhuise of voorva­derlike grafte volg. Die ooreenkoms moet duidelik voorsiening maak vir die duur van die besoek. Die besoekers mag geen aktiwiteite onderneem behalwe dié waarvoor skriftelike toestemming ontvang is nie.

Figuur 1: Dié kennisgewingbord is deur Agri SA se Algemene Sakekamer vir gebruik aanvaar. Die bord bestaan uit twee dele, naamlik ’n plaasprotokol-gedeelte en ’n gedeelte vir ’n plaasnommer. Beide Agri SA en die provinsiale organisasie van Agri SA mag hul logo’s op die bord aanbring.

Privaat persone sonder statutêre regte
Navorsers, organiseerders van politieke partye of vakbonde, godsdienswerkers, ensovoorts kan ’n reë­ling tref om plaaswerkers te ontmoet by ’n geskikte openbare plek weg van die plaas af. Die landbouprodusent sal dit moontlik maak vir werkers om sodanige vergaderings by te woon, insluitend die voorsie­ning van vervoer na die vergaderplek indien prakties moontlik.

Slegs in buitengewone omstandighede sal die persone toegang verkry tot die eiendom en dan wel onderhewig aan ’n baie eksplisiete reëling met die eienaar of persoon in beheer van die eiendom en onder voorwaardes soos gestel mag word.

Begrafnisse op plase
Familielede wat hul voorvaders se grafte op plase wil besoek, kan slegs met vooraf toestemming van en deur reëling met die eienaar of persoon in beheer van die eiendom toegelaat word. Skriftelike toestemming moet duidelik melding maak van sodanige toegang en die roete na die begraafplaas. Daar moet ’n duidelike reëling wees oor die duur van die besoek asook die aantal persone wat die plaas sal besoek. Die besoekers mag geen aktiwiteite onder­neem behalwe dié waarvoor skriftelike toestemming ontvang is nie en mag nie die roete na die begraafplaas en die begraafplaas as sodanig besoedel nie. Hierdie reëlings moet redelik wees vir beide partye en moet verkieslik onderhandel en op skrif gestel word.

Operasionele besoeke
Dit sluit in gemagtigde lede van die weermag, die polisie, regeringsbeamptes, kontrakteurs en privaat persone wat besoek by sodanige plase moet aflê of/en persone met statutêre regte om toegang tot sodanige eiendom te verkry. Die operasionele gebied vir die weermag en die polisie beslaan die gebied vanaf die grenslyn tot en met 10 km binne Suid-Afrika.

’n Vooraf reëling met die eienaar of persoon in beheer van die eiendom is noodsaaklik om geredelike toegang tot die eiendom te bewerkstellig. ’n Struktuur moet beskikbaar wees vir skakeling tussen die grondeienaar en die veiligheidsdienste om hierdie proses te fasiliteer.

Regeringsbeamptes, met inbegrip van lede van die veiligheidsdienste en kontrakteurs, moet behoorlik identifiseerbaar wees. Lede van die veiligheidsdienste en kontrakteurs moet ten alle tye ’n aanstellingsertifikaat kan toon.

Voertuie wat deur regeringsbeamptes gebruik word, moet staatsvoertuie wees en maklik identifiseerbaar wees. Voertuie van kontrakteurs moet duidelik gemerk wees om aan te dui dat hulle aan die kontrakteur behoort.

Persone wat hierdie eiendomme besoek, sal geen take of aksies onderneem nie, behalwe dié wat nodig is ingevolge statutêre vereistes. In die geval van privaat persone en kontrakteurs sal slegs aktiwiteite waarvoor skriftelike toestemming ontvang is, plaasvind. Besoedeling van die eiendom sal nie geduld word nie.

Oop vure word verbied en sal slegs toegelaat word met die uitdruklike en skriftelike goedkeuring van die grondeienaar en onderhewig aan sodanige voorwaardes wat die eienaar mag stel. Jag van wild en die versameling van vuurmaakhout is streng verbode. Skade aan flora en fauna word verbied.

Geen gepeuter met departementele slotte of dié van die eienaar sal toegelaat word nie. Grondeienaars onderneem om saam te werk met die persone wat toegang tot plase in die operasionele gebied benodig om hul pligte uit te voer.