June 2017
Beste Grootneef
In die goeie ou dae het jy deur die Vrystaat gery en net nou en dan ‘n verkeersberig oor die draadloos gehoor. Meestal was dit oor ‘n trop beeste op die pad of ‘n stadige sleepwa. Soms is noodberigte uitgesaai van iemand wat op soek was na ‘n Tant San van Christiana, op reis in ‘n blou voertuig in ‘n noordelike rigting. En dan is ‘n nommer gegee waarheen Tant San kon bel.
Maar deesdae se verkeersverslae gaan oor paaie wat gesluit is met brandende bande of mense wat klippe na karre gooi. Amper elke dag hoor jy van onmin en gerugte van onmin in groot dele van ons land.
Ou Neef, dit laat my dink aan die vraag wat Neef Clem eendag gevra het: Hoe bang is jy en wat maak jy as moeilikheid op die horison flikker? Trek jy laer, steek jy jou kop in die sand à la struisvoël, of bou jy ‘n goue kou om die wêreld buite te hou. Bly jy of gly jy?
Die eerste drie opsies is deur die eeue beproef. Van die vroegste tye het monnike kloosters gebou om die storm en drang van die wêreld buite te hou. Die goue kou-ding is dus niks nuuts nie. Die volstruis-ding kom ook al die jare. Die probleem is, dit werk nie eintlik nie. As jy opkom vir lug, is dit nie meer 1965 nie. Die laer-trekkery en skiet op alles wat roer, kan ook net hou tot die lood en pappotte se pote uitgeskiet is.
Die grootste probleem met die goue kou-ding, is egter dat jy nie die mure hoog genoeg kan bou nie; vra maar vir oom Donald Trump. As dit lekkerder lyk ín die kou as daarbuite, sal mense ‘n plan maak om oor te klim.
Elke mens reageer op sy eie manier op moeilikheid. Sommige mense neem die groot besluit om die Suidland vir die vreemde te verruil. Hul trek die tentpenne, skud die stof van hul voete en vat die pad. Ná die Bataafse bewind, toe die Engelse weer die Kaap beset het (nare Kolonialiste), het die Groot Trek gevolg; rigting: Noord. Nou is die Noorde nie meer ‘n gewilde bestemming nie. Die núwe geslag pak vinnig ‘n skeepshouer vol, klim op Qantas en gaan soek ‘n nuwe lewe “Daar Onder”.
Daar gekom, is die aanvanklike verwondering oor goed, wette, paaie en stelsels wat werk groot. Maar met verloop van tyd is dit duidelik dat daardie land se mense ook maar in sonde ontvang en gebore is. En dan is daar die troppe vlieë. En geen rooibokke vir winterbiltong nie.
En die groot verlange na die ou bekendes. En die gemis van die oop, wye Vrystaatse vlaktes. Die hunkering na die Suidland sal altyd bly, soos ‘n geamputeerde been wat onder die knie bly jeuk.
Die res van ons gaan nêrens heen nie. Ons bly. Hoe laat los jy die grond waarop vier geslagte al ‘n lewe gemaak het? Jy is mos maar eintlik net ‘n rentmeester vir die wat nog kom. Buitendien, ons verstáán die Suidland se moeilikheid. Anderkant die water se probleme val vreemd op die oor. Soms weet hul dit nie, maar hul eie moeilikheid is geboek, omdat die wêreld se mense besig is om oor húl goue mure te klim. Vra maar die Franse en die Duitsers waar die kat se snor deesdae sit!
Soos Buurman sê: Ons moet dinge hier in die Suidland laat werk. En dit beteken klein treetjies van welwillendheid. Elke dag: Empatie met die gesin wie se pa of ma op jou werf werk. ‘n Vriendelike woord vir die man wat die diesel kom aftap. Die uitdeel van surplus groente vir die sopkombuis. Die skenk van ‘n ou ooi aan die skool se sosatiefonds. Wat ook al nodig is om ‘n helpende hand te verleen aan dié wat op hul eie nie ‘n verskil aan hul lewens kan maak nie. Die onus om die Suidland te laat werk, lê by elkeen van ons.
Ou Neef, gaan voort om met die tyd wat aan jou toegedeel is, ʼn verskil vir die mense om jou te maak. Moenie dat die kwaad wat jy sien en hoor jou gees van welwillendheid afstomp nie.
Vrede op die Oosgrens!
Kleinneef
Publication: June 2017
Section: Features