May 2017

ELMARIE HELBERG, SA Graan/Grain medewerker

Die MBFi-inligtingsdae het vanjaar vir die tweede jaar op toer gegaan en verskeie streke in die graanverbouingsgebied bedien. Dié reeks van vier afsonderlike dae is op Bethlehem, Bethal, Frankfort en Delmas gehou. Sodoende kan grootskaalse proewe in elke streek in die verskillende grondtipes en klimaattoestande gedoen word.

Volgens mnr Jonathan Etherington (hoof uitvoerende beampte: MBFi) het hulle hul Agricultural Excellence Centres gevestig om te verseker dat die maatskappy se navorsing deurlopend van uitstekende gehalte is.

Op die Delmas-perseel, wat ook die hoofkantoor van MBFi is, is daar 1 248 statistiese blokke met 312 verskillende behandelings van produkte en 36 sy-aan-sy-proewe. “Dit verseker dat ons deurlopend groei en as landbouers volhoubaar bly,” het hy tydens die Delmas-inligtingsdag genoem. Hy het ook die toestande waarin die gewasse geplant is, bespreek – wat onder meer bestaan uit vier verskillende grondtipes en 21 verskillende gronddieptes.

Van die proewe wat tydens die dag vertoon en gedemonstreer is, is biologiese swamdoders, blaarvoeding en bio-stimulante, ‘n nuwe tipe bakterieë vir mielies, ‘n nuwe generasie kunsmis, watergehalteverbeteraars, stikstofbestuur en ‘n verskeidenheid entstowwe. Tydens die proefbesoeke het mnr Alejandro Lehmann van Rizobacter ‘n kort voorlegging oor entstowwe gedoen. Hy het genoem dat sojabone ‘n veeleisende gewas is wat stikstof betref, aangesien dit ‘n peulgewas is en hoë vlakke van proteïen bevat. Hy het ook die stelling gemaak dat hoe meer stikstof beskikbaar is, hoe hoër is die opbrengs – daar is dus ‘n direkte verhouding tussen stikstof en opbrengs.

Die verskil in die vraag na stikstof se aanpassing by die seisoene is ook bespreek, asook die feit dat plante verskillende bronne van stikstof kan gebruik en dat stikstofbinding baie energie van die plant verg. Stikstofbinding kan op sy eie genoeg stikstof vir sojabone verskaf om in die plant se stikstofbehoefte (met die oog op hoë opbrengs) te voldoen.

By ‘n ander proefpunt het mnr Christo Kritzinger (Navorsing en Ontwikkeling: MBFi) genoem dat proewe jaarliks gedoen word en dat die maatskappy oor ‘n wye verskeidenheid kennis en inligting beskik wat prakties en toepasbaar oorgedra moet word.

“Ons bevraagteken alles – ons wil weet waarom kry ons reaksie uit plante met sekere produkte. As ons dit weet, kan ons ons programme verbeter.” Volgens hom kom alles neer op plantfisiologie. “Dit gaan oor energieomskakeling in ‘n plant – stikstof is ‘n energiekomponent, maar hoe essensieel is stikstof op ‘n laat stadium vir ʼn plant? Dit is net so essensieel soos die mikro-elemente komponent,” het hy gesê.

Publication: May 2017

Section: Relevant