May 2017
LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom: Graan SA
Die vorige bemarkingseisoen (2016/2017) is gekenmerk deur heelwat onsekerheid in die markte. Die groot droogte is sekerlik een van die faktore wat steeds die varsste in die geheue van die oorgrote meerderheid van produsente is. Dit het ’n verskeidenheid uitdagings vir die landboubedryf en produsente ingehou en almal het in groot geloof en met afwagting uitgesien dat die nuwe seisoen moes aanbreek.
Goeie reën wat oor die meeste gedeeltes van die land geval het, het groot verligting gebring en die herstel wat ons in die natuur waargeneem het, is onbeskryflik. Met groot dankbaarheid het die produsente begin plant. Rekordaanplantings is vir witmielies aangeteken; daar word boonop ‘n rekordoes vir die seisoen verwag.
Die goeie produksiesyfers het egter weer sy eie uitdagings na vore gebring. Die vorige seisoen was een met ‘n groot aantal produksierisiko’s; pryse was hoog as gevolg van lae voorrade. In hierdie seisoen is die produksierisiko aansienlik minder en die goeie verwagte produksie plaas pryse skerp onder druk – wat steeds druk op die winsgewendheid van produsente plaas. Dit is dus vir produsente belangrik om goeie bemarkingsbesluite te neem en risiko’s in hierdie seisoen sover moontlik te vermy. Daar is verskeie bemarkingsopsies wat produsente vir bemarkingsdoel eindes en ook risikobestuur kan oorweeg.
Alternatiewe strategieë
Produsente wat nie voorseisoenkontrakte in plek het of reeds verskans het nie, sal ander alternatiewe moet oorweeg om nou in die na-seisoen te bemark. Bemarking speel ‘n integrale rol in die wins gewendheid van produsente. Dit is daarom belangrik dat produsente deeglik ingelig sal wees oor die verskillende alternatiewe beskikbaar by die bemarking van mielies. In die April-uitgawe van die SA Graan/Grain het ek verwys na alternatiewe wat deur produsente toegepas kan word in die na-stroopbemarking van mielies.
Hierdie alternatiewe sluit in om die fisiese mielies te stoor tot en met die pryse weer ondersteuning vind (gewoonlik nader aan Desember of Maart). ‘n Groot aantal produsente is deeglik vertroud met hierdie manier van bemarking en pas dit geredelik toe. Die ander alternatiewe wat deur produsente oorweeg kan word, is om die mielies net ná strooptyd te verkoop en dan van instrumente op die Safex-mark gebruik te maak vir bemarkingsdoeleindes.
Hierdie instrumente sluit in die gewone koop van termynkontrakte vir lewering in Desember en/of Maart ná die verkoop van die fisiese mielies. Die ander alternatief wat oorweeg kan word, is die koop van call-opsies (koopopsies) vir lewering in Desember en/of Maart nadat die fisiese mielies in die mark verkoop is. Alhoewel al hierdie strategieë suksesvol aangewend kan word in die na-oesbemarking van mielies, is dit noodsaaklik dat produsente vertroud sal wees met die verskillende faktore verbonde aan die gebruik van die strategieë, asook die moontlike risiko’s wat daarmee gepaard gaan.
Faktore om in ag te neem
Elkeen van die verskillende strategieë sal ‘n ander impak op die boerdery se finansies hê en die grootse invloed is sekerlik op kontantvloei. Kontantvloei word gesien as een van die belangrikste aspekte van die finansiële bestuur van ‘n besigheid of ‘n boerdery. Dit is om verskeie redes noodsaaklik vir produsente, waaronder die vereffening van hul produksiekredietrekeninge, asook die dek van maand-tot-maandkostes.
Wanneer verskillende strategieë oorweeg word, moet die impak op kontantvloei in ag geneem word, asook die risiko’s wat die strategieë beperk of die moontlike risiko’s wat die gebruik van die strategieë inhou. Die produsent kan die mielies net na strooptyd direk in die mark verkoop. Dit sal kontantinvloei verseker, waarmee hy dan produksierekeninge en so meer kan betaal. Die een nadeel van hierdie strategie is dat die pryse gewoonlik die laagste tydens strooptyd is, omdat daar onder normale omstandighede in hierdie tyd heelwat mielies beskikbaar is.
Wanneer die mielies fisies gestoor word met die doel om later te verkoop wanneer die markprys weer ondersteuning gevind het en hoër verhandel, moet faktore soos stoorkostes, rente en kontantvloei in ag geneem word. Die produsent betaal stoorkostes indien die mielies in kommersiële silo’s opgeberg word en siende dat daar nie ‘n kontantinvloei is by die stoor van mielies nie, hoop die rentekomponent ook op wanneer die afbetaling van produksiekoste uitgestel word.
Die produsent verloor daarby die moontlike rentekoersinkomste wat verkry kon word as gevolg van die kontantinvloei. Indien die markpryse nie genoegsaam toeneem om die kostes te dek nie, besit die produsent dan steeds die kommoditeit, waarvan die waarde boonop nie vermeerder het nie.
Gegewe die huidige onsekere ekonomiese en politieke omstandighede, is die rentekoerse ‘n belangrike faktor wat deur die produsent in ag geneem moet word. Rentekoersverhogings kan ʼn negatiewe impak op die rentekostekomponent hê, wat weer verdere druk op die produsent se kontantvloei sal plaas.
Die verkoop van die fisiese mielies en die koop van termynkontrakte vir lewering in Desember en/of Maart kan gesien word as ‘n goeie alternatief, omdat dit kontantinvloei ná strooptyd verseker. Dit kan gebruik word om produksierekeninge te dek en bied aan die produsent die geleentheid om ‘n wins later in die seisoen te maak sou die pryse genoegsaam toeneem tot en met die vervalmaand van die termynkontrak.
Hierdie strategieë kan egter vanaf die tydperk wanneer die termynkontrakte gekoop is tot en met die vervalmaand ‘n negatiewe impak op die produsent se kontantvloei hê. Met die koop van termynkontrakte sal die produsent verantwoordelik wees vir die betaal van marges, wat insluit die aanvangsmarge per kontrak asook enige variasiemarge wat gedurende die tydperk mag voorkom.
Die gebruik van call-opsies werk op dieselfde basis as die verkoop van mielies en die koop van termynkontrakte. Die produsent sal ook die mielies in die mark verkoop nadat dit gestroop is en dan in plaas daarvan om termynkontrakte vir lewering in Desember en/of Maart te koop, kan die produsent call-opsies koop vir lewering in hierdie maande.
Call-opsies bied ook aan die produsent die geleentheid om voordeel uit ‘n stygende mark te trek, maar beperk die produsent se risiko tot die premie wat hy met die koop van die opsie betaal. Die produsent sal dus van ‘n kontantinvloei tydens strooptyd verseker wees en deur verdere risiko te beperk tot die premie van die call-opsie, kan hy voordeel uit ‘n stygende mark trek.
Indien die mark nie genoegsaam toeneem tot en met die opsievervaldatum nie, sal die produsent slegs die premie wat hy op die opsie betaal het, verloor. Die opsiepremie kan dus gesien word as die sintetiese stoorkoste.
Hoe lyk die moontlikhede?
Tabel 1 toon die prysstrukture indien die call-opsiestrategie vir lewering in Desember 2017 of Maart 2018 van beide wit- en geelmielies gebruik word. Dit toon slegs die huidige termynprys vir lewering in hierdie spesifieke maande, sowel as die opsietrefprys (strike-prys) indien die opsie by die geld gekoop word.
Die maandelikse gemiddelde pryse vanaf 2010 tot Maart 2017 van beide wit- en geelmielies word ook getoon, asook die gelykbreekprys indien die strategie gevolg word. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die voorbeeld huidige pryse verteenwoordig en dat daar verskeie faktore is wat die opsiepremie bepaal, waaronder die tydperk na die opsievervaldatum, asook die opsievolatiliteit.
Opsiepremies behoort dus moontlik gedurende Julie wanneer dit strooptyd is en die volatiliteit in die mark normaalweg laer is, laer te wees. Die gelykbreekpryse van die strategieë is bereken deur die premie en die trefprys bymekaar te tel. Daarom, vir die strategie om winsgewend te wees, moet die markprys gedurende die opsievervalmaand hoër as hierdie prys wees.
Grafiek 1 is ‘n grafiese voorstelling van die maandelikse gemiddelde Safex-pryse teenoor die strategiese gelykbreekpryse vir die Desember 2017 en Maart 2018 call-opsiestrategie. Hou in gedagte dat die gemiddelde pryse nie die prys van ‘n spesifieke jaar verteenwoordig nie, maar wel die gemiddeld per maand oor die tydperk vanaf 2010 tot en met Maart 2017.
Ten slotte
Daar is verskeie alternatiewe wat aangewend kan word wanneer produsente bemarkingsopsies oorweeg. Dit bly egter belangrik dat die produsent deeglik vertroud moet wees met die strategie waarvan hy gebruik maak en dat hy kennis neem van die moontlike risiko’s wat hierdie strategie inhou en/of uitsluit.
Produsente moet oorweeg om soveel moontlik van hul risiko deur die loop van die seisoen te beperk en daarom moet hulle oordeelkundige besluite neem wat die bemarking van grane betref en van die geleenthede in die mark gebruik maak.
Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.
Publication: May 2017
Section: On farm level