LNR-koringkultivars – ‘n oorsig van die 2022-seisoen

Gepubliseer: 1 Maart 2023

474
Ian Heyns,
LNR-Kleingraan, Stellenbosch

Koring word beskou as een van die belangrikste graangewasse vir voedselsekerheid aangesien dit 20% van die proteïene en kalorieë van ’n daag­likse dieet voorsien. Tans produseer Suid-Afrika ongeveer 2,0 miljoen tot 2,2 miljoen ton koring per jaar met ’n jaarlikse verbruik van ongeveer 3,2 miljoen ton. Suid-Afrika is dus ’n netto invoerder van koring. Die Wes-Kaap is nog altyd beskou as die broodmandjie van Suid-Afrika en produseer ongeveer 50% van alle plaaslike koring.

Groot wêreldwye klimaatsveranderinge wat aanleiding gee tot gebeurtenisse soos droogtes, ekstreme hitte en oorstromings het die fokus laat skuif na die volhoubare produksie van koring onder uitdagende omgewingstoestande. ’n Onlangse studie het ’n daling van 10% tot 15% in opbrengs getoon vir elke 2 °C-styging in temperatuur. Groot klimaatsveranderinge het nie net ’n invloed op die hoeveelheid koring wat geproduseer word vir plaaslike verbruik nie, maar beïnvloed ook die produsent wat moet oorleef te midde van die voortdurende stygings in insetkoste.

Een van die LNR-Kleingraan se doelwitte is om kultivars te ontwikkel wat goed aangepas is by ’n veranderde omgewing waar dit konstant beter presteer oor seisoene om sodoende in plaaslike verbruik te voorsien en die verbouing van koring ekonomies regverdigbaar te maak vir die produsent. Om op te som, die LNR-Kleingraan streef daarna om kultivars te ontwikkel wat voldoen aan die produsent en verbruiker se verwagtinge betreffende opbrengs en opbrengsstabiliteit, biotiese en abiotiese strestoleransie asook voeding en kwaliteit.

Grafiek 1 en Grafiek 2. Weerdata vir die Swartland (Langgewens) en Rûens (Tygerhoek) vir die 2022-seisoen.
Grafiek 3. LNR-Kleingraan-kultivaropbrengsdata (t/ha) vir die Swartland en Rûens vir die 2022 seisoen.

Oorsig van die 2022-seisoen
Die 2022-koringseisoen in die Swartland het einde April afgeskop met produsente wat in grond met ’n lae voginhoud begin plant het. Die seisoen in die Swartland is gekenmerk deur ondergemiddelde reënval vir die maande Mei tot September, waarna die reën wegge­raak het in Oktober. Die ondergemiddelde reënval het gelei tot swakker as verwagte opbrengste. Die Rûens het ’n beter seisoen beleef met bogemiddelde reënval vir die maande Mei, Junie en Augustus, terwyl ondergemiddelde reënval vir Julie, September en Oktober waargeneem is.

LNR-koringkultivarprestasie vir die 2022-seisoen
LNR-Kleingraan het tans drie kommersiële koringkultivars, naamlik Ratel, Steenbok en Tredou, wat jaarliks op verskeie lokaliteite in die Swartland en Rûens geplant word om hulle opbrengs en ander eienskappe in verskeie omgewings te evalueer.

Ratel het ’n mediumgroeiperiode, terwyl Steenbok ’n kort groeiperiode met goeie droogtetoleransie het. Dit maak laasgenoemde ’n goeie kultivarkeuse in areas met ’n droër klimaat. Met die voortdurende klimaatsverandering en droë seisoene wat meer gereeld voorkom, is Steenbok ’n uitstekende kultivarkeuse om risiko te bestuur. Tredou is die jongste toevoeging tot die LNR-Kleingraan se kultivars en het ’n medium- tot lang groeiseisoen. Al die bogenoemde kultivars beskik oor goeie strooisterkte, pitvastheid en uitloopweerstand. Opbrengsdata vir die 2022-seisoen het getoon dat Steenbok die beste presteer het in die Swartland, maar dat Ratel en Tredou ook goed aangepas is vir die omgewing. In die Rûens was Ratel weer die beter kultivar, gevolg deur Tredou en Steenbok.

Verwagtinge vir die 2023-koringseisoen in die Wes-Kaap
As daar na die feite gekyk word, lyk dit na ’n uitdagende seisoen wat voorlê – produksiegewys asook ekonomies. Met die regte kultivarkeuse en bestuurspraktyke gaan koring egter altyd ’n wenner wees. Van die LNR se kant af word daarna gestreef om die beste koringkultivars te ontwikkel wat presteer onder verskeie omgewingstoestande, selfs droogte. Die LNR-Kleingraan is besig om ’n reeks opwindende nuwe kultivars te ontwikkel wat ’n verbetering in opbrengs vir die produsent gaan beteken. Produsente word uitgenooi om op die uitkyk te wees vir hierdie lyne by plaaslike boeredae in 2023.

Kultivarstroke by LNR-Kleingraan.

Ratel
Steenbok
Tredou