Investering in nywerhede ʼn langtermynstrategie

Gepubliseer: 3 Junie 2021

923
Koos Janse van Rensburg, besturende direkteur,
VKB Groep

Baie landboubesighede (voormalige koöperasies) het die afgelope klompie jare hulle 100-jarige bestaan gevier. Hierdie besighede het oorspronklik baie sterk geografiese grense gehad en het goeie infrastruktuur binne ’n bestaande gebied ontwikkel weens die areas wat deur die destydse Registrateur van Koöperasies aan die betrokke koöperasie toegeken is.

Aangesien die plaaslike landbouprodusente meestal lede van hul plaaslike koöperasie was, het die besighede ook oor ’n lojale klantebasis beskik.

Met die omskepping van hierdie koöperasies in maatskappye en die ontwikkeling van mededingingswetgewing, het die afgeba­kende grense tussen landboubesighede verdwyn en onderlinge mededinging het toegeneem. Geografiese grense het verder vervaag as gevolg van verkrygings, samevoegings en amalgamasies.

Ekonomie van skaal speel ’n uiters groot rol in die sukses van besighede. Gevolglik moet besighede groei of hulle loop die risiko om te stagneer of te kwyn. Van die landboubesighede het ontwikkel in dinamiese ondernemings wat groeigeleenthede soek. ’n Besigheid moet nie net groei nie, dit moet groei op terreine waar dit sin maak en waar daar sinergistiese voordele met die bestaande bedrywighede is wat die waarskynlikheid van sukses groter maak.

Groeigeleenthede vir landboubesighede setel in generiese groei, geografiese groei of integrasiegeleenthede, hetsy voorwaarts of terugwaarts. Generiese groei in ’n goed ontwikkelde mark bied beperkte geleenthede. Met geografiese groei kan vir elke aksie ’n teenreaksie verwag word, gegewe die intense mededinging tussen landbou­besighede. Gevolglik is groei op hierdie gebied ’n tydsame proses, behalwe as daar geleenthede vir oornames of amalgamasies ontstaan.

Figuur 1: ’n Skematiese voorstelling van VKB se betrokkenheid in die waardeketting.

VKB – ’n gevallestudie
VKB is omring deur goed gevestigde landboubesighede. Die mees voor die hand liggende groeigeleentheid was voorwaartse integrasie in die graanwaardeketting. Dit het die geleentheid gebied om waarde toe te voeg tot die produkte wat in die gebied geproduseer word en sodoende die produ­sent se rande te rek.

Verskeie gewasse word in VKB se saai­gebied geproduseer, waarvan geelmielies, sojabone en koring die vernaamstes is. On­gelukkig was daar bykans geen verwerkers van hierdie produkte in die gebied nie en was die VKB-area relatief ver van die vernaamste verwerkers van graanprodukte.

’n Groot deel van VKB se bedienings­gebied lê egter naby aan Suid-Afrika se uitvoer­hawens. Dit skep ’n vraag na sy graanprodukte in uitvoerjare met ’n moontlike klein liggingsvoordeel, maar benadeel die produsent in nie-uitvoerjare met die volle vervoerdif­ferensiaal wat afgestaan word. Ongelukkig skep dit ook probleme met die hantering van graan. In uitvoerjare is daar beperkte geleentheid om stoorinkomste in die silo’s te verdien, terwyl daar in nie-uitvoerjare weer ’n beperkte vraag na die graan is en dit tot die volgende seisoen bly lê met gevolglike kapasiteitsprobleme.

Die oprig van verwerkingsaanlegte het ten doel gehad om die bestaande infrastruktuur van VKB Landbou beter te benut en om die sinergie wat daar met ander bestaande bedrywe is, te ontgin. VKB moes ’n vraag skep na die kommoditeite wat in sy gebied geproduseer word deur by die verwerking van hierdie produkte betrokke te raak. In die proses word die volgende geleenthede geskep:

  • VKB se besigheid groei.
  • Bestaande siloverhuringspasie word beter benut.
  • ’n Mark word geskep vir produsente se produkte sodat hulle nie die volle vervoerdifferensiaal op al hul produkte hoef af te staan nie.
  • Produsente kry geleentheid om hul boerderye te diversifiseer.
  • Die plaaslike ekonomie word gestimuleer en werksgeleenthede word geskep.
  • Daar word gehelp om te bou aan die infrastruktuur in die platteland wat al meer agteruitgaan.
  • Die belangrikste van alles is om meer geld uit die waardeketting te maak sonder om die produsent te benadeel en sodoende die VKB Groep se opbrengs op geïnvesteerde kapitaal te verhoog.

Dit voltooi ook die prentjie om VKB se rol in die totale landbouwaardeketting uit te brei ten einde die risiko van die onderneming te diversifiseer. In jare wat die kommoditeitspryse laag is, behoort die nywerhede te presteer en in jare wat kommoditeitspryse hoog is, behoort die produsente te presteer.

Die strategie is eenvoudig, maar investering in nywerhede is nie ’n maklike taak nie. Gegewe die strategie om ’n vraag na die produkte in die tradisionele bedieningsgebied te stimuleer, was inkoop in bestaande besighede nie ’n opsie nie, aangesien sulke besighede nie bestaan het nie. Die nywerhede is dus as groen nywerhede gevestig. Dit is ’n uiters steil leerkurwe en moeilik om as nuwe rolspeler in gevestigde bedrywe betrokke te raak en ’n mark tussen gevestigde handelsmerke te ontwikkel. Dit verg personeel met ander kundigheid as wat die eeueoue landboubesigheid ontwikkel en tot sy beskikking het. Die nywerhede se resultate is wisselvallig omdat die kommodi­teitspryse so ’n groot invloed daarop het. Groot volume-aankope van graan verg verder baie kapitaal, besondere kundigheid en ook ’n bietjie geluk om suksesvol te wees.

VKB se investering in graanverwerkingsaanlegte is gedoen met ’n langtermynvisie. Die nywerhede is nog jonk, maar bykans elkeen het die afgelope jare hulle potensiaal bewys en getoon dat hulle finansieel suksesvol kan wees. Dit dek egter die tafel vir goeie groei­geleenthede in die toekoms. Hopelik sal die finansiële suksesse volg – die invloed op die plaaslike ekonomie in die Oos-Vrystaat is reeds beduidend. Goeie handelsmerke is gevestig met QPro Feeds (vee­voer), Magnifisan-mieliemeel, Grain Field Chickens (GFC) en Super Sure-koringmeel en -brood.

Die nywerhede binne VKB het die afgelope finansiële jaar R7 miljard tot die groepsomset bygedra. Tans verwerk VKB per jaar ongeveer:

  • 250 000 ton witmielies;
  • 120 000 ton geelmielies;
  • 120 000 ton koring; en
  • 130 000 ton sojabone.

GFC slag ongeveer 900 000 hoenders per week en daar word sowat­ 1,2 miljoen brode per maand gebak. Die nywerhede het nagenoeg 4 000 nuwe werksgeleenthede geskep in ’n landelike omgewing waar werkloosheid aan die orde van die dag is.

VKB as landboubesigheid bestaan reeds meer as 100 jaar. Dié jare se ondervinding maak die besigheid suksesvol. Die nywerhede is jonk, maar het reeds hul ergste groeipyne oorkom. Alhoewel dit nog nie aan die finansiële verwagtings voldoen nie, is VKB baie positief oor die bydrae wat dit in die toekoms tot die Groep se resultate kan lewer.