May 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Mnre Johan en Piet Willemse is ‘n tweeling wat saam die Jireh Boerdery in die Riversdal-omgewing bedryf. Die Willemses se graanverbouing sluit die verbouing van koring, gars, kanola en hawer in, wat op ongeveer 65% van die boerdery se lande geplant word.

Hulle bedryf ook ‘n groot veekomponent, wat uit ‘n Jersey-melkery en ‘n Dohne Merino-skaapboerdery bestaan. Ten einde voer vir hierdie vee te voorsien, word hawerkuilvoer, wieke, medics, lusern en hawerweiding verbou. Hierdie weidings word ook ingespan om die winsgewendheid van die akkerbougewasse te verhoog en vorm deel van die plaas se wisselbouprogram.

Johan is hoofsaaklik verantwoordelik vir die saaiboerdery en die finansies, terwyl Piet na die veekomponent en hulpbronne omsien. Hierdie twee broers het gou tot die slotsom gekom dat waardetoevoeging ‘n manier is om die winsgewendheid van die besigheid te verhoog.

Weens hul ondersoekende ingesteldheid, het hulle ook besef dat spesialisasie die winste kan verhoog. Voorts het hulle besluit om bestuurders wat elk in sy eie rigting kan spesialiseer aan te stel, om sodoende die besigheid se winsgewendheid te verhoog. Die besigheid word nie net deur Johan en Piet bestuur nie, maar deur die hele span wat daar werk.

Akkerbou is in Johan se bloed. Hy het vroeg in sy loopbaan vir homself uitgemaak dat die optimale volhoubare benutting van hulpbronne die begin van winsgewendheid in die saaibedryf is. Dit begin by respek vir grond, arbeid, fondse en alles wat saamwerk in die produksie en bemarking van produkte.

Dit sluit ook in respek vir jou menswees, jou geloof, jou passie en jou familie en vriende.

Grond as hulpbron
Grond is ‘n graanprodusent se belangrikste hulpbron. Hierdie hulpbron moet só bestuur word dat die reën wat val deur die grond opgeneem en geberg kan word en dat die afloop en wegloop geminimaliseer word.

Verder moet die bodem beskerm word en die mikrolewe in die grond toegelaat word om optimaal te funksioneer sodat die ideale omstandighede vir plante om te groei en te produseer, geskep word – presies wat in hierdie boerdery gebeur.

Presisieboerdery word by Jireh Boerdery ingespan om produksie te optimaliseer. Dit begin by die potensiaal van die grond. Die gronddiepte, klei-inhoud en humuspersentasie speel ‘n kardinale rol in die waterhouvermoë van die grond, wat uiteindelik die opbrengspotensiaal van die grond bepaal.

Grondontledings en die opbrengspotensiaal van die land, wat ook die historiese landopbrengste insluit, vorm die basis van gewasbemesting en in ‘n rotasie van vier jaar word hierdie boerdery se lande chemies ontleed en regstellings gemaak.

Sodra lande wat met lusern beplant was, weer vir gewasverbouing aangewend word, word hierdie lande op ‘n hektaarbasis chemies ontleed en word die regstellings daarvolgens gemaak.

Bemesting
Die elektriese geleiding van die gronde word ook ingespan om vas te stel wat die katioonuitruiling van die grond is – wat ook in die bemestingaanbevelings gebruik word. Bemesting word volgens die aanbevelings met presisietoerusting toegedien en bestuur. Aanbevelings word gemeet teen satellietbeelde en stroperkaarte.

Bemesting is net ‘n deel van graanproduksie: Bewerking, wisselbou en grondbedekking is ook van kardinale belang. Alle bronne word daarom ingespan om die beste verbouingstelsels te bepaal en te implementeer.

Bewaringsbewerking
Op hierdie plaas word bewaringsbewerking toegepas. Dit beteken dat die grond so min as moontlik versteur word en dat die grond ten alle tye bedek moet wees. Tog sal die grond bewerk word as dit nodig is en is dit essensieel dat die redes waarom bewerk moet word, bekend moet wees.

Verdigting en vastrap van die boonste grondlae regverdig die bewerking van die lande. Die lande sal na vyf jaar se lusernproduksie bewerk word voordat dit weer deel van gewasverbouing word.

Grondbedekking is ook een van dié aspekte waarop heelwat klem geplaas word. Die gewasse se oesreste word só bestuur dat die grond nooit kaal is nie. Die bedekking ondersteun met beter waterindringing en wind- en watererosie word ook daarmee beperk.

Die eweredige verspreiding van die oesreste maak dat masjiene met gemak deur hierdie materiaal kan werk. Op die oomblik word die gebruik van skyfplanters ondersoek en die voorlopige resultate lyk uiters belowend.

Gewasrotasie is dié been waarop volhoubare gewasverbouing rus. Selfs in die natuur is daar ‘n variasie in die plante wat op ‘n plek groei. Omdat hierdie boerdery ook vir vee voedsel moet produseer, word ongeveer 65% van die lande vir gewasproduksie en die res vir weiding aangewend.

Koring en hawer word hier met kanola, gars en medics afgewissel. Daar word gepoog om ‘n grasgewas met ‘n breëblaargewas en peulgewasse af te wissel en sodoende die grond optimaal te benut.

Lusern word gebruik om deel te vorm van ‘n langtermynrotasiestelsel. Lusern produseer vir vyf jaar voer en word dan bewerk sodat hierdie lande weer graan kan produseer. Die wisselbou-effek van lusern werk uitstekend vir graanverbouing.

Onkruidbeheer
Die onkruiddoders wat gebruik word, is só gekies dat dit binne die wisselboustelsel toegepas kan word. Die tydige toediening van onkruiddoders is krities.

Derhalwe word die nuutste tegnologie ingespan om die middels korrek toe te dien.

Klein onkruide word met gemak beheer. Om dié rede word gepoog om die onkruid te beheer terwyl hulle nog jonk is. Die veilige hantering van dié middels is van kardinale belang in die boerdery.

Finansies
Die finansies van die boerdery is ‘n aspek waaraan die Willemses baie aandag skenk. Jaarliks word die begrotings opgestel en gedurende die jaar aangepas sodat ‘n volledige prentjie en stand van sake intyds beskikbaar is.

Hierdie inligting word ook gebruik om vas te stel teen watter pryse gewasse verskans moet word. Die bestuur van kontantvloei is essensieel vir die voortbestaan van die boerdery en daarom het hulle ‘n finansiële bestuurder wat fokus op rekordhouding en die bestuur van die fondse.

Bemarking van graan is ook van uiterste belang. Graanpryse word aktief bestuur en daar word van verskansing gebruik gemaak om ‘n bogemiddelde graanprys te verseker. “Omdat ons weet hoeveel dit kos om te produseer, kan die besluit oor die vlakke waarteen verskans moet word met gemak geneem word en kan daar voortydig besluit word wanneer verskans moet word,” het Johan gesê.

Om vooruit te beplan, is vir hierdie broers ononderhandelbaar. Hulle reik na die sterre en beraam dan beide langtermyn- en korttermynplanne om by die doelwitte uit te kom. Hulle fokus daarop om die doelwitte te bereik en maak seker dat dit steeds in die groter plan inpas.

Die aanwending van die hulpbronne en die toevoeging van waarde tot hul eie geproduseerde produkte, is vir hulle essensieel. Tyd en omstandighede het die boerdery gedwing om tot waardetoevoeging toe te tree.

As gevolg van die lae winsgewendheid en lae pryse van melk, was die eerste stap om ‘n kaasfabriek op te rig. Hierdie fabriek vereis ‘n volhoubare voorsiening van melk. Die melkery is in staat daartoe en die produksie van weiding is dus belangrik om konstant vir die koeie voldoende voer te verseker. Dít moes deel word van die gewasverbouing, wat weer op sy beurt deel van die wisselbouprogramme moes vorm.

Die kaasfabriek moes bly groei om ekonomie van skaal te bereik – met die gevolg dat daar tans melk vir verwerking ingekoop word. Die fabriek het ook sy eie probleme en een daarvan is die kaaswei wat geproduseer word.

Maniere om hierdie afvalproduk in waarde om te skakel, word tans ondersoek. Varke is moontlik ‘n goeie roep, maar die varke sal ander kos bo en behalwe die kaaswei benodig. Dit kan dalk beteken dat die graanverbouing ook aangepas moet word om aan hierdie diere se behoeftes te kan voorsien. Verder sal dit beteken dat die graan op die ou einde as proteïene verkoop kan word.

Arbeiders
Net soos op die meeste plase is die arbeiders ‘n essensiële hulpbron in die produksie van graan. Op hierdie plaas word arbeid met respek hanteer en word alles binne vermoë gedoen om in personeel te bly investeer.

Opleiding van plaaskinders vorm ‘n beduidende deel van die boerdery en om dié rede het hulle ‘n skool op die dorp begin. Van die plaaskinders wat reeds hul skoolloopbaan voltooi het, werk tans vir Jireh Boerdery.

Die woord Jireh is die Hebreeuse woord vir “voorsien” en die boerdery funksioneer hiervolgens. Gegewe al hierdie positiewe punte besef Johan en Piet dat hulle uit hulself tot niks in staat is nie. Dit is alles genade en genade alleen. Daar rus ‘n groot verantwoordelikheid op hulle om in liefde vir die Here en hul naaste te leef.

Om in liefde te leef beteken daarby dat daar gefokus word op nalatenskap. Erfopeenvolging is reeds uitgesorteer en die nageslag sal in staat wees om hierdie boerdery na volgende hoogtes te kan neem.

Vir meer inligting kontak Johan Willemse by 082 807 2191 of Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: May 2017

Section: On farm level