April 2017

DR ANNELIE BARNARD, LNR-Kleingraan, Bethlehem

Met dié dat koringproduksie swaar trek in Suid-Afrika, is LNR-Kleingraan se Nasionale Kultivarevaluasieprogram (NCEP) steeds een van die belangrikste programme in die koringbedryf. Hierdie program evalueer alle vrygestelde koringkultivars van al die saad maatskappye op ʼn objektiewe en wetenskaplike manier vir aanpas baarheid, opbrengs en kwaliteit.

Koring is die gewas wat seker die wydste aanpassing besit en wat suksesvol verbou kan word van bo in die noorde tot onder in die suide van Suid-Afrika. Daarom word die NCEP nasionaal uitgevoer en is daar gedurende die 2016-seisoen sowat 92 proewe by 78 verteenwoordigende lokaliteite in die verskillende koringproduserende gebiede van Suid-Afrika geplant.

Alhoewel LNR-Kleingraan die mandaat het om die NCEP in Suid- Afrika uit te voer, is die samewerking van ander instansies en rolspelers krities om ‘n sukses hiervan te maak. In hierdie nasionale same werkingsooreenkoms is die Departement van Landbou, Wes- Kaap getaak om te help met die plant en instandhouding van sekere proewe in die Wes-Kaap. Ander instansies, soos die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Stellenbosch en South African Barley Breeding Institute (SABBI) lewer ook ‘n belangrike bydrae in die insameling en weergee van addisionele inligting aan die kleingraanbedryf.

Alle data wat ingesamel is, word voorgelê aan ‘n komitee wat bestaan uit verteenwoordigers van LNR-Kleingraan, die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch, South African National Seed Organisation (SANSOR), SABBI, die nasionale en onderskeie provinsiale Departemente van Landbou, saadmaatskappye (Sensako, Pannar en K2 Agri), Graan SA en ander rolspelers.

Hierdie komitee het op 8 Februarie vanjaar op Bethlehem bymekaargekom om die resultate te bespreek en aanbevelings vir die 2017-seisoen op te dateer. Die data word nou gebruik om aanbevelings aan produsente te maak om hulle in staat te stel om hul produksierisiko’s tot die minimum te beperk en hul winste te verhoog.

Die keuse van watter kultivars om waar te plant, kan vergemaklik word wanneer langtermyn-wetenskaplike data bestudeer word. Hier die data moet egter jaarliks hersien word.

LNR-Kleingraan publiseer ook jaarliks ‘n kompakte produksiehandleiding waarin al die nuutste inligting en resultate saamgevat is. Die handleidings stel baie nuttige en duidelike riglyne waarbinne aanbevelings en produksiebesluite gemaak behoort te word.

Die produksiehandleiding bevat verder ook inligting ten opsigte van algemene produksiepraktyke, grondbewerkingsriglyne, plantvoeding, onkruid-, siekte- en insekbeheer. Die opbrengs- en kwaliteits resultate wat die afgelope seisoen ingesamel is, word volledig in die produksiehandleidings gepubliseer.

Aangesien produksiepraktyke en kultivaraanbevelings van streek tot streek verskil, word daar twee afsonderlike handleidings gepubliseer, naamlik een vir die somerreënvalgebied waarin beide die droëland- en besproeiingsgebiede hanteer word en ‘n aparte handleiding vir die winterreënvalgebiede.

Hierdie handleidings is in Afrikaans en in Engels beskikbaar en sal reeds teen die middel van Maart gratis aan produsente beskikbaar gestel word – danksy finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust.

Die onderskeie produksiehandleidings is ook van ewe veel waarde vir ons nuwe toetredende produsente regoor Suid-Afrika.

Indien jy nie so ‘n handleiding ontvang nie, kan jy vir mnr Willem Kilian (058 307 3498) of me Eveline Mofokeng (058 307 3400) kontak om jou kontakbesonderhede te verskaf.

Die handleidings sal ook, soos vorige jare, tydens die Graan SA NAMPO Oesdag van 16 tot 19 Mei by LNR-Kleingraan se stalletjie in die Microbial Solutions-saal beskikbaar wees. Kom besoek ons gerus tydens die Oesdag.

Publication: April 2017

Section: Relevant