‘n Groot boom het geval

1053

March 2017

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

ʼn Vriend van Graan SA en ‘n ambassadeur vir landbou, mnr Manny da Costa van Nigel, is op 25 Januarie vanjaar oorlede. “Graan SA sal altyd die herinneringe aan Manny da Costa koester – ‘n lojale lid en ‘n uitstekende ambassadeur – nie net vir Graan SA nie, maar ook vir landbou in Suid- Afrika,” het mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoof bestuurder, Graan SA) gesê. Da Costa het van 2004 tot 2012 op Graan SA se Hoofbestuur gedien. Hy en sy broer, Johnny, is ook in 2003 as Graanprodusent van die Jaar aangewys.

“Hy was die een op wie se knoppie ons kon druk wanneer internasionale gaste ‘n plaas in Gauteng wil besoek – ‘n diplomaat van formaat. Ons sal hom in die BBP-lokaal by die NAMPO Oesdag onthou, in die hoek agter die dienstoonbank – ál vier dae. Hy het almal met die grootste nederigheid bedien – ‘n eienskap wat almal bewonder het. Dit het nie saak gemaak of dit ‘n koning of ‘n predikant of net ‘n normale gas van Graan SA was nie: Almal is met die grootste respek behandel. Vanuit hierdie perspektief was hy ʼn onderwyser aan die belangstellende ‘studente’ wat na sy raad en wysheid geluister het,” het De Villiers onthou.

Mnr Neels Ferreira (voormalige voorsitter van Graan SA) deel die herinnering. “Ek sal Manny altyd onthou soos hy agter die toonbank by die NAMPO Oesdag se BBP-lokaal almal met die grootste respek behandel het. Ek sal hom onthou vir sy nederigheid en behulpsaamheid. Hy het sy medemens altyd voor sy eie belange gestel. Manny was van nature ‘n gentleman teenoor almal en ʼn ambassadeur vir landbou in Suid-Afrika,” het Ferreira benadruk.

Da Costa het ‘n nuwe soort boerdery gemodelleer en die pad gelei met bewaringslandbou en waardetoevoeging tot sy graanbesigheid. “Hy was van nature ‘n ongelooflike entrepreneur en was ‘n groot voorstander vir bewaringsbewerking. Hy het sy seuns, wat saam in die boerdery was, op ‘n mooi manier die leisels laat oorneem onder sy unieke leiding,” het Ferreira bygevoeg. Ook De Villiers noem dat hy ‘n uitstekende model was vir hoe opvolging moet werk en hy het sy seuns op die voorgrond gehou en aan die woord gestel wanneer produsente wou weet hoe dinge op Manjoh Ranch gedoen word.

“Manny da Costa, ons salueer jou vir jou bydrae om van Suid-Afrika en landbou ‘n beter plek vir almal te maak,” het De Villiers gesê. “Ons het ‘n groot man vir landbou in Suid-Afrika verloor. Ek eer Manny se nagedagtenis,” het Ferreira afgesluit.

Publication: March 2017

Section: Grain SA