March 2017
Na al die lekker reën is die Vaalpan weer die Vaaldam! Die Vrystaat is ‘n blomtuin en nêrens is ‘n lelike mielie nie. Maar ons praat nie oor die pryse nie…
Die ander dag sit ek in die bakkie en wag vir Vroulief. Dié was doenig in ‘n lapwinkel. In die truspieël sien ek ʼn span met grawe en pikke aankom in ‘n losse gelid. So elke 100 treë steek die span vas om ‘n gat op die sypad te grawe. Die delegasie en organisasie was werklik iets om te aanskou, gegewe dat twee man met pik en graaf die grond getakel en die res van die spanlede luide advies gegee het. Met die gat op sy plek, verskuif die prosessie straat af waar die volgende twee man skouer aan die graaf sit en die res luidkeels uitwei oor “Pirates” en “Swallows”. Vrolik en bly.
Met Vroulief steeds in die winkel en ek op bladsy vyf van die Volk se blad, merk ek ‘n tweede span wat die vars gate bewerk. Dié klompie stoot die grond terug in die gat, trap die los grond lekker vas en verskuif dan na die volgende gat. Al om die ander, so kry elk ‘n beurt om sy gat toe te stop.
Toe die span by die bakkie verbystap, vra ek belangstellend wat op dese aarde hul doen. “Nee,” beduie die voorman, “ons plant bome, maar die mense van die bome is nie vandag hier nie.”
Toe ek dit die middag vir Buurman vertel, het hy so droë hoesie gegee soos ‘n hond wat ‘n mot ingesluk het. Hy beduie toe van Thys Uilspieël se mense wat ‘n stadsaal sonder vensters gebou het en toe dae lank emmers vol sonlig in die donker gebou ingedra het. Almal het baie hard gewerk, maar dit het nie van die wêreld ‘n beter plek gemaak nie.
Hoe dit ook al sy, Afrika is vol van kommandowurms en gerugte van kommandowurms. As die Farao vir Moses en sy span nog drie weke gehok het, sou kommandowurms die 13de plaag gewees het.
Die ding met die wurms laat my toe terugdink aan die middag toe Pa Toit die koshuis se studiesaal ingestorm het. Alle koshuisbrakke met skoene is vir hoër diens opgekommandeer. Ou Neef, enigiets was beter as studietyd tussen twee en drie op ‘n warm somersmiddag en wás daar ‘n stormloop om skoeisel aan skurwe voete te kry!
Pa Toit is op ‘n stywe drafstap vooruit met die bondel koshuisbrakke agterna. Standerd sesse voor en matrieks agter. Almal in goeie gees en in afwagting op wat ook al. Pa Toit is reguit rugbyveld toe – die enigste groen oase in ‘n vaal Vrystaat. Dit was sy trots. Elke grassie gekoester en bossies meedoënloos vervolg – mooier as Loftus.
Daar gekom, het die samjoor in Pa Toit oorgevat en is almal in dubbele linie om die veld ontplooi, alle windrigtings gedek. En toe die bevel om te trap. ‘n Paar standerd sesse het gedink Pa Toit praat met hulle en het die hasepad gevat. Dit was met die afkykslag dat ons die hordes kommandowurms sien, almal op pad na die sappige middelkolletjie van die rugbyveld.
En toe trap ons, Pa Toit al in die rondte, om die beurt om aan te moedig, te soebat en te dreig. Die Vrystaat Vastrap sonder weerga – Bata-skoene en Grasshoppers naderhand sopnat. Hoog trap soos volstruise voor ‘n drukgang, vorentoe en agtertoe dat jy net wurms sien spat. Dit was lank voor toi-toi mode op die TV-nuus was, maar kón ons dit foutloos doen!
Met laaste lig moes ons besgee, die grond om die veld pap getrap. Die volgende oggend was die rugbyveld op ‘n paar kolle kaalgevreet, maar Pa Toit en die oompie faktotum kon die oorblywende wurms “dous”. En dít is wat ek van kommandowurms onthou.
Oupa Willem se gedagtes oor kommandowurms loop verder terug. Hy vertel dat kommandowurms in die 1930’s ook in hul hordes in die Vrystaat opgedaag het. Destyds kon jy nie net vinnig koöperasie toe ry en gif koop nie. Uit radeloosheid het hul twee osse voor ʼn eenskaarploegie ingespan en vore al om die land getrek om die wurms te keer. Wanneer die voor so amper vol wurms was, is die voor weer met die eenskaar toegeploeg. Jy kan maar sê “groen” pesen plaagbeheer in die jare toet!
Ou Neef, so in die eenvoud van nood en armoede kan ‘n plan tog beraam word. Hou aan soek vir ‘n oplossing – soms is die antwoord tussen ons.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
Publication: March 2017
Section: Features