March 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Mnr Jozua du Plessis, sy vrou, Sonja en hulle seuns boer in die Delmas-omgewing met hoofsaaklik droëlandmie l ies, sojabone en droëbone. Verder bring besproeiings mielies, sojabone, koring en aartappels en ʼn vee ver takking stabiliteit in dié besigheid. Hulle bedryf tans ʼn model-boerderybesigheid wat van bykans niks af nie opgebou is.

Hierdie perfeksionis wil alles op die beste moontlike manier, die eerste keer reg gedoen hê. Die dryf vir effektiwiteit en doel treffendheid is een van die pilare waarop Du Plessis se sukses berus. Die insette wat hy gebruik, moet ‘n bydrae maak om die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid te verhoog.

Waardetoevoeging
Tog is die netto wins die basis van alle belangrike besluite wat Du Plessis neem. Alle vertakkinge en waardetoevoegingsbedrywe moet oor die lang termyn winsgewend wees.

“Dit help nie om iets te begin wat deur ander vertakkings gedra moet word nie. Net só kan die nuwe vertakking nie die bestaandes dra nie,” noem hy. “Maak dus jou somme deeglik en akkuraat en laat die resultate van die somme die basis wees waarop die besluit geneem word.”

Belangrike gebeurtenisse
Daar is duidelike, belangrike mylpale in Du Plessis se boerdery te bespeur. Aanvanklik het hy vinnig sy produksie uitgebrei deur meer grond te bewerk en om spilpunte op te sit. Na dié groei, het waardetoevoeging gekom. Daarna het ‘n bonesorteeraanleg, droërs en silo’s gevolg en uiteindelik het hy sy mielies self begin bemark.

Die volgende belangrike mylpaal is die implementering van presisieboerdery en die plant van die gewasse in nouer rye. Hierdie mylpale het almal bygedra om die boerdery se winsgewendheid te verhoog.

Beginjare
In die beginjare het Du Plessis harde bene gekou – sy skuldlasverhouding was hemelhoog en krediet was uiters duur en skaars – met die gevolg dat die boerdery nie voldoende krediet kon bekom om voluit te produseer nie. Dit was dalk een van die hekkies wat die grootste uitdaging gebied het, wat hy moes oorkom.

Hierdie hekkie het hom die waarde van detail-begrotings geleer en hom gedwing om spandering binne hierdie begroting te hou.

Omdat kapitaal aan die begin skaars was, is hy gedwing om die kapitaal só aan te wend dat dit die maksimum opbrengs kon lewer. Geld vir nuwe bakkies en luukshede was daar nie en hulle moes daarsonder klaarkom. Voorts het dit hom ook geleer om konserwatief met uitgawes te wees.

“As jy kontant kan boer, maak dit boerdery beslis meer winsgewend. Daarom beveel ek produsente aan om in hierdie rigting te beweeg. Nie net kan daar beter pryse vir insette beding word nie, maar jy kan self oor die tydsberekening rakende die verkoop van jou produkte besluit,” verduidelik Du Plessis.

Kredietbeperkings en paaiemente wat betaal moet word, het hom aan die begin gedwing om buite die boks te dink. Tydens die eerste groot droogte wat hy beleef het (1983/1984) moes hy ‘n plan maak om fondse te genereer om die skuld te betaal of hy sou moes ophou boer. Die oes was verdroog en paaiemente moes betaal word.

Du Plessis het toe die geleentheid raakgesien om voer te baal en te verkoop in gebiede waar daar nie voer was nie. In een jaar is daar baalmasjiene aangeskaf (wat amper op gewerk is!), voer gemaak, verkoop en die masjinerie weer verkoop om die jaar net-net gelyk te breek. Die meerderheid ander produsente kon nie dieselfde oor hul boerderye sê nie.

Kompetisie
In enige vrye mark is produsente wat dieselfde kommoditeit produseer en aan dieselfde mark lewer, in kompetisie met mekaar. Hy het sommer vroeg besef dat om net gemiddeld te wees, nie goed genoeg is nie. Sou hy nie méér winsgewend wees nie, gaan iemand anders op sy plaas kom boer.

Dit het hom gedryf om produksiefoute vroeg raak te sien, om oplossings te bedink en om hierdie oplossings te implementeer.

Hy is sedert die tagtigerjare ‘n kranige vlieënier en die feit dat hy verskille in die gewasse uit die lug kon waarneem, het hom gedryf om foute te identifiseer. Uiteindelik sou hy evalueer of die probleem werklik opgelos is.

Die vlieëry het ook daartoe bygedra dat hy ‘n groot klomp produksiefoute kon eien. Totdat hulle na presisieboerdery oorgeskakel het, het swak kolle binne goeie, homogene hoëpotensiaal-lande hom gepla. Die fisiese en chemiese kartering van die grond het hierdie probleem uitgelig en Du Plessis en sy span kundiges kon die probleem aanspreek en met GPS-tegnologie regstel.

 

Presisieboerdery
Presisieboerdery het ook ander voordele in die hand gewerk. Met die trekkers se vermoë om dubbele werk te beperk, is hul doeltreffendheid en effektiwiteit verhoog en is die opbrengste verhoog en kostes verlaag.

Dit het die winsgewendheid van die besigheid verhoog. Op sy plaas word elke hoekie van die grond gebruik. Die wenakkers word die nouste moontlik gemaak en met die Auto Steer op die trekkers, word kostes verlaag en produktiwiteit verhoog. Verder word stroperdata gebruik om produksiefoute te identifiseer en te korrigeer.

Indien die land chemies reggestel is en daar is nog duidelike afwykings van die realistiese opbrengste, begin die proses van voor af. Satellietbeelde word aangewend om probleemkolle te identifiseer ten einde optimale opbrengs te realiseer.

Die lande word elke drie jaar op rotasiebasis weer chemies gekarteer, ontleed en reggestel. Vir elke voedingselement is daar duidelike riglyne en gegewe die opbrengs, verwagte opbrengs en ander doelwitte, word besluit hoeveel bemesting waar toegedien moet word. Die regstellings word differensieel gedoen ten einde die regte elemente op die regte plekke toe te dien.

Kontrole belangrik
In hierdie boerdery is kontrole net so belangrik soos beplanning. Die produksiekontrole is belangrik, maar die finansiële kontrole is essensieel. Deur op hoogte te wees van werklike produksiekoste, is jy in staat om te bepaal of die huidige mielieprys positief of negatief is. Dit verleen ook ondersteuning in die besluit rakende bemarkingstrategieë wanneer dit tyd is vir bemarking.

Du Plessis se meganisasieplan is goed uitgewerk. Die trekkers is só gekies dat hulle gesinkroniseer kan word. Daar is genoeg trekkers en implemente om te kan plant, die saadbed voor te berei en die ander werk te kan doen binne die venster wat beskikbaar is vir dié take.

Die vervanging van trekkers en masjinerie vind plaas wanneer daar fondse beskikbaar is en as daar groot prysstygings as gevolg van byvoorbeeld die wisselkoers verwag word.

Dit is vir hom belangrik om sy werk korrek en na die beste van sy vermoë te doen. Die rigting van die besigheid, die nuwe take wat afgehandel moet word, die tydigheid daarvan, die oplossing van probleme en kontrole is sy verantwoordelikheid. Daarom glo hy dat take tot só ‘n mate afgewentel moet word dat daar genoeg vrye tyd is om met nuwe idees na vore te kom. Daar moet tyd wees om te lees, navorsing te doen, nuwe idees te deurdink en sodoende die beste besluit te kan neem.

“Dit is belangrik dat jy jouself kan losmaak van die boerdery om weer van ‘n afstand na jou eie besigheid te kan kyk,” sê hy. Du Plessis het ook ‘n paar stokperdjies wat hom kans gee om homself van die werk te distansieer. Die opbou van veteraanmotorfietse, die vlieg van radiobeheerde en vastevlerk-vliegtuie en die vlieg van helikopters is sy manier van ontspan.

Goeie ondersteuningspan
Hierdie besigheid het gekom waar hy vandag is deur genade, harde en slim werk en ‘n uitstaande ondersteuningspan. “Sonja het my van die begin af ondersteun, gedokter en moed in gepraat. Sy is die vrou agter die man. Omdat sy deel van die besigheid was, het sy oor tyd groot opofferings gemaak. Sy was bereid om by die inkomste van die boerdery aan te pas en daar – mee saam te leef – iets waaroor ek ongelooflik dankbaar is,” vertel hy.

“‘n Effektiewe bestuurspan en werknemers wat kan saamwerk en waarop ‘n mens kan staatmaak, maak dit alles die moeite werd. Kontrole is van groot belang, maar as daar gesamentlike doelwitte en duidelike reëls is, werk alles seepglad,” verduidelik hy.

“Om te werk, moet bevredigend wees en daarom is daar altyd plek vir humor. In uiters uitdagende omstandighede en situasies kan humor daartoe aanleiding gee dat oplossings vir probleme gevind word en dat almal weer as vriende uitmekaar gaan.”

By hierdie knap produsent, besigheidsman en strateeg is daar heelwat te leer.

Kontak hom gerus by 010 001 4201 of vir Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: March 2017

Section: On farm level