Graanboerdery is nie vir sissies nie!

759

November 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Kan ‘n nat jaar in die noorde van die land net so katastrofies wees soos wat ‘n droë jaar is? Kan ons somergraanprodusente, wat insette teen belaglike wisselkoerse moet aankoop, nog teen uitvoerpariteit winsgewend wees?

Een droogtejaar se skuld word lankal nie meer in die daaropvolgende jaar afgelos nie. Die oplossing lê ongelukkig nie meer in harder werk nie. Slimmer werk het ook beperkings.

Verlede jaar hierdie tyd was die droogte ‘n enorme realiteit. Klagtes oor beurtkrag is geopper en vyandigheid teenoor die landbousektor is wyd ervaar. Tans bestaan die persepsie dat die droogte met die draai van die seisoen verby sal wees. Daar is minder simpatie en meer hoop dat die “droogteprobleem” met die val van die eerste druppels iets van die verlede gaan wees. Maar helaas, in landbouterme weet ons dit reën nie gras of mielies nie. Hope harde werk lê nog voor en belangrike produksiebesluite moet voor planttyd geneem word.

Die gunstigste planttyd vir die oostelike streke het reeds sonder enige reën aangebreek en die mark speel wipplank met die mielieprys.

Sommige dae dink ek – en ek glo party produsente ook – met heimwee terug aan die Mielieraad. Al die energie was toegespits op die mielieprys.Sodra dit vasgestel en goedgekeur was, kon die produsente al hul aandag aan die produksieproses gee. Klink eenvoudig as ‘n mens só daaraan dink.

Nou vang my oog die opskrifte in die koerante: Studente wat hulself (en ander) opvoeding ontsê, politici wat mekaar probeer verwoes ten koste van ons land en die ekonomie. Ek wonder waarop die Minister vandag die mielieprys sou vasstel indien daar só ‘n klomp gewelddadige betogers buite sy kantoor was?

Een van die groot sondes van apartheid was om mense van behoorlike opvoeding te weerhou – dit wás verkeerd. Wat regverdig dit vandag? Verkeerd bly mos verkeerd, of hoe? Met twee kinders op universiteit het ek nogal gewonder of ek aan die einde van die jaar van die klasgelde gaan terugkry?

Die graanbedryf beleef nou ‘n tyd van vele uitdagings. Groot besluite moet geneem word. Daagliks word daar meer en meer onsekerhede in die “besluitnemingspot” gegooi en wanneer hierdie konkoksie geroer word, is ek seker min mense sal regtig daarvan wil hê. Ons planne is dalk minder, maar dit raak beslis nie op nie.

Somergrane word ook hierdie jaar met ‘n hele paar uitdagings gekonfronteer. Die wêreld se voorraadkamers is tot oorlopens toe vol en die daaglikse nuus berig oor uitstaande oeste in die uitvoerlande. Somergraanpryse gaan onder groot druk kom. Ons sal waarskynlik nie alle beskikbare hektare vir produksie kan aanwend nie. Op dié manier kan ons verseker dat die opbrengste van die goeie hektare opmaak vir die laer pryse.

Graanboerdery in Suid-Afrika is nie vir sissies nie! Die hele graanwaardeketting se krag word beslis in die vuuroond getroef. Die geure wat nou uit die oond kom, sal aandui van watter stoffasie ons gemaak is.

Die waarheid is dat ons redding eers verskyn as ons in die oond is en nie terwyl ons buite staan en redekawel met dié wat regeer nie. Daniël en sy vriende se geloof is heelwaarskynlik ‘n les vir vandag: Selfs al sou ons God ons nie uit die vuuroond red nie, sal ons Hom nog steeds dien.

Wanneer die stryd juis op sy felste is, is die oomblik nét voor die uitkoms. Vasbyt, die uitkoms is naby!

Publication: November 2016

Section: Features