October 2016

JAN DREYER, namens die Proteïennavorsingstigting

Die 2015/2016-produksieseisoen was vir die meeste produsente ‘n vyfsterriller. Veral die westelike produksie gebiede het buitengewone weersomstandighede beleef – waarvan droogte en hitte die ergste was.

Sou die langtermynvoorspellings van die aardverwarmingsprofete waar word, dan gaan die klimaat baie meer wispelturig raak. Voeg hierby die graanmarkte wat ook wipplank speel, dan is dit duidelik dat ‘n produsent sy risiko sal moet versprei.

Wisselbou is die logiese keuse vir ‘n graanprodusent en sojabone is een van die beste kandidate om saam met mielies in te span.

Hoekom ‘n wisselboustelsel?

Voorspelbaarheid binne die landbou is, om die minste te sê, baie moeilik indien nie heeltemal onmoontlik nie. Onder sulke om standighede is dit gerade om risiko so ver prakties moontlik te versprei. ‘n Gesonde wisselboustelsel met sojabone as een van die komponente is ‘n uitstekende metode om risiko te beperk.

Prysverhoudings
In die hedendaagse landbou is dit noodsaaklik om deeglik te evalueer hoe betalend enige boerderystelsel is. Prysverhoudings tussen gewasse word dikwels as kriterium gebruik om te bepaal watter gewasse aangeplant gaan word.

‘n Wesenlike probleem met só ‘n benadering is dat die pryse van verskillende gewasse dramaties gedurende ‘n seisoen kan wissel na gelang van weersomstandighede en internasionale voorrade. Die 2015/2016-seisoen was ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Mieliepryse het die seisoen alle verwagtings oortref vergeleke met sojabone. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat dieselfde prysverhoudings vir ‘n volgende seisoen sal geld. Prysverhoudings is egter slegs een van die aspekte wat oorweeg behoort te word in die keuse van ‘n wisselboustelsel.

Opbrengsverhoudings
Die winsgewendheid van enige gewas is ook ‘n funksie van opbrengs. Die 2015/2016-produksieseisoen het, wat opbrengsverhou dings betref, vreemde resultate opgelewer. Mielie-opbrengste in die droogtegeteisterde westelike produksiegebiede het ‘n opbrengsslagting beleef.

Sojabone se opbrengste is ook nadelig getref, maar weens sy langer blomkaraktereienskap kan sy opbrengsrisiko tydens kort droogte-intervalle versprei word. Voeg hierby sojabone se vermoë om diep vog te benut, dan lyk die risikoprofiel van die gewas heelwat beter as dié van ander mededingers.

Insetkosteverhoudings
Prys van ‘n gewas alleen bepaal nie wins nie. In hierdie verband hou sojabone ‘n beduidende voordeel in. Alhoewel produsente sekere seisoene met die toediening van minder stikstof op sojabone kan wegkom, moet die volhoubare produksiestatus van grond in berekening gebring word. In die meeste produksiegebiede sal sojaboonproduksiekoste boonop laer wees as dié van mielies.

Is daar voordele om ‘n wisselboustelsel te volg?

Daar kan ‘n wye verskeidenheid van voordele genoem word – van onkruidbeheer tot beter benutting van werktuie, maar vir die doel van die skrywe sal slegs enkeles genoem word.

Risikoverspreiding
Gewasse verskil in hul vermoë om by bepaalde klimaatsom standighede aan te pas. Mielies het ‘n kort reproduktiewe fase wat deur baie faktore, waaronder temperatuur, bepaal word. In die geval van onbepaalde groeiwyse-sojaboonkultivars, kan hierdie kritiese periode maklik drie keer langer gerek word. Voeg hierby diep vogonttrekking, dan is dit duidelik dat dit ‘n produsent se risikoprofiel verbeter.

Hoër opbrengste vir opvolgende gewasse
Verskeie plaaslike proewe, maar ook proewe in die buiteland, het getoon dat mielies wat ná sojabone volg, ‘n opbrengssprong van minstens 10‰ oplewer, vergeleke met monokultuurmielies. Hierdie opbrengssprong (wat meestal meer as 10‰ is) word selde in berekening gebring wanneer die betalendheid van gewasse met mekaar vergelyk word.

Bewaringsbewerking
Waar bewaringsbewerking beoefen word, is dit noodsaaklik dat daar wegbeweeg word van enige monokultuurstelsel. Hoe meer gewasse mekaar opvolg, hoe beter. Sojabone skakel besonder goed in by só ‘n stelsel omdat dit ‘n baie produktiewe peulgewas verteenwoordig.

Frekwensie van gewasopvolging

Sou suiwer akkerboupraktyke in ag geneem word, dan moet sojabone verkieslik elke derde jaar op ‘n bepaalde land verbou word. Ekonomiese faktore soos pryse van kompeterende gewasse kan hierdie verhouding beïnvloed. Daar is egter geen plaasvervanger vir gesonde gewasopvolging wat oor tyd volgehou word nie.

Publication: October 2016

Section: Relevant