October 2016
CORNÉ VAN DER WESTHUIZEN, agronoom: Pannar Saad
Die keuse van ‘n plantdatum is een van die belangrikste bestuursbesluite wat graanprodusente moet neem. Heel dikwels word die besluit geneem volgens heersende weers- en grondtoestande, of die aantal hektare wat geplant moet word.
Plantgroei en -produksie se basiese boustene is sonligenergie, kool suurgas (CO2), water (H2O), voedingselemente (N, P en K) en tyd. Plantdatum – hetsy te vroeg of laat – het potensieel ‘n direkte invloed op een of meer van hierdie boustene en kan finale opbrengs beïnvloed.
Wat is opbrengs? In die geval van mielies kan opbrengs beskryf word as die som van die aantal koppe per hektaar geproduseer, die aantal pitte per kop en finale pitmassa.
Die plantdatum is jou kans om die gewas te vestig sodat die gewas se waterverbruik en die reënvalverwagtinge ooreenstem. Soms moet die gewasse vroeg en soms laat geplant word om die midsomerdroogte in kritiese tye te kan systap.
Soms is vroeg plant ‘n uitstekende opsie, maar as dit te ver buite die plantvenster gedoen word, kan dit vir die produsent ‘n risiko inhou. Net só kan die risiko ook, as daar te laat geplant word, verhoog word. Om hierdie risiko’s te verstaan, moet produsente ‘n deeglike begrip van die groei van die gewasse hê.
Mielies
Mielies is ‘n dag-neutrale plant, wat beteken dat dit sal blom nadat ‘n sekere hoeveelheid hitte geakkumuleer het. Graanvulling en opbrengs word beïnvloed deur die tyd van die jaar wat dit aangeplant word. Die ontkieming van mielies is swak by grondtemperature laer as 10°C. Tussen 10°C tot 13°C vind ontkieming wel plaas, maar swamsiektes kan ‘n nadelige effek op saailingvestiging hê. Vir goeie ontkieming en die ontwikkeling van ‘n sterk saailing moet dagtemperature bo 19°C wees en nagtemperature nie benede 13°C daal nie.
Afhangende van watervoorsiening is die optimale groeitemperatuur vir ontkieming tussen 24°C tot 27°C. Namate temperature gedurende die dag styg, styg vegetatiewe en reproduktiewe produksie in die mielieplant. Die styging in produksie duur voort totdat ‘n maksimum van tussen 26°C tot 29°C bereik word.
Bo 30°C raak transpirasie en respirasie só hoog dat die produksie van plantweefsel oorskadu word deur die afbreek daarvan. Onder 10°C weer, vind geen noemenswaardige groei plaas nie.
Sojabone
Sojabone is kortdagplante (fotoperiode-sensitief), wat daarop neerkom dat dit sal oorgaan tot blom indien die nagte langer raak. Dit beteken lang dae en kort nagte stimuleer vegetatiewe groei, terwyl die omgekeerde blomvorming bevorder.
Opbrengste word nadelig beïnvloed wanneer temperature bo 30°C styg. Temperature benede 13°C vir lang periodes tydens die blomstadium benadeel blom- en saadvorming. Vroeë aanplantings met sojabone het nie altyd dieselfde voordelige uitwerking op opbrengs as by mielies nie.
Dit wil sê in uitermate warm gebiede met ‘n hoë aantal hitteeenhede per dag is dit belangrik om nie te vroeg te plant nie. Dit sal vegetatiewe groei oormatig stimuleer, wat later tot omvalprobleme mag lei – sonder die voordeel van hoër opbrengste. Daarteenoor lei baie laat aanplantings tot te min vegetatiewe groei, lae peulhoogte en laer opbrengste.
Sonneblom
Sonneblom se aanpasbaarheid by verskillende omgewingstoestande word toegeskryf aan sy verdraagsaamheid vir beide lae en hoë temperature. Sonneblom ontkiem by 4°C, alhoewel optimale ontkieming en ontwikkeling by grondtemperature tussen 12°C tot 20°C plaasvind.
Grondtemperature bo 30°C kan ontkieming benadeel. Die optimale temperatuur vir groei en plantontwikkeling is tussen 18°C tot 33°C. Optimale saadproduksie vind by omgewingstemperature tussen 21°C tot 24°C plaas.
Vroeë plantdatum
Die risiko van vroeg plant lê hoofsaaklik in die moontlikheid van koue weerspatrone en die effek daarvan op die ontkiemende saad en ontwikkelende saailing.
Grondwatertemperatuur
Ontkieming begin met absorpsie (imbibisie) van water deur die saadhuid. In die geval van mielies moet die saad 30% tot 35% van die pitmassa in die vorm van water absorbeer om suksesvol te ontkiem. Vir sojabone is dit ongeveer 50% van die pitmassa.
Met vroeë aanplantings kan die saad blootgestel word aan absorpsie van koue water (<10°C) binne die eerste 24 tot 36 uur ná plant, wat aanleiding kan gee tot direkte fisiese skade.
In reaksie op waterabsorbering swel die saad. Die selweefsel in die saad is minder elasties onder koue toestande en kan skeur of bars gedurende die swelproses. Die selinhoud kan dan lek en dien as voeding vir patogene.
Simptome van koueskade as gevolg van die absorpsie van koue water, sluit geswelde pitte in wat versuim om te ontkiem of vertraagde ontwikkeling van die kiemwortel en koleoptiel wat na ontkieming begin plaasvind het.
Dit is nie duidelik hoe laag grondtemperature moet wees vir koueimbibisieskade om voor te kom nie. Bronne impliseer temperature laer as 10°C.
Grondtemperatuur
Onder ideale toestande behoort ‘n mielie suksesvol binne tien dae of minder by grondtemperature van 13°C en hoër te ontkiem. Met koue grondtoestande (10°C en laer) kan die ontkiemingsperiode twee tot selfs drie weke duur.
Wanneer oormatige koue en/of nat gronde ontkieming en opkoms vertraag, is die saad of jong saailing vir ‘n verlengde periode blootgestel aan grondgedraagde saadsiektes, insekvreetskade en be skadiging aan voor-plant- en voor-opkomsonkruiddoders. Verleng de blootstelling aan lae grondtemperature verlaag ook saad- en plant metabolisme, verswakte saailinggroeikragtigheid en veroorsaak oksidasieskade.
Akkumulasie van hitte-eenhede
Vinnige en egalige opkoms beteken nie noodwendig suksesvolle standvaslegging nie. Suksesvolle standvaslegging is grootliks afhanklik van vinnige sekondêre wortelontwikkeling gedurende die V2- tot V6-stadium van plantontwikkeling.
Die jong saailing is op ‘n vroeë stadium van ontwikkeling afhanklik van die endosperm in die saad as voedingsbron voor die sekondêre wortelstelsel ontwikkel. Dit is belangrik vir normale ontwikkeling dat die saad en mesokotiel tot ten minste die V6-stadium van die plant se ontwikkeling gesond bly.
In die geval van vertraagde sekondêre wortelontwikkeling – soos in geval van stadige akkumulasie van hitte-eenhede, veroorsaak hierdie verlengde blootstelling aan stremmingsfaktore (soos grondinsekte en siektes) skade aan die saad of mesokotiel.
Beskadiging op hierdie stadium (voor sekondêre wortelontwikkeling plaasvind), kan lei tot verswakte dwergagtige saailinge of selfs afsterwing van saailinge.
Dit is belangrik om op ‘n vroeë stadium die finale opkoms op die land na te gaan en saailinge uit te grawe om na wortelontwikkeling te kyk en gesondheid te evalueer. Onegalige opkoms en vertraagde saailingontwikkeling kan ‘n aanduiding wees van saailingsiektes, maar kan ook veroorsaak word deur insekvreetskade en onkruiddoderskade.
Rypskade
Die vermoë van die mielieplant om te herstel ná vroeë seisoenrypskade, is grootliks afhanklik van die gesondheid en welstand van die groeipunt. ‘n Plant wat bogronds beskadig is, maar ‘n gesonde, onbeskadigde groeipunt het, behoort gewoonlik van ‘n eenmalige bogrondse beskadiging te herstel.
Indien enige beskadiging aan die groeipuntarea voorkom, kan die skade lei tot die afsterwing van die plant of vertraagde groei en die onvermoë om te herstel. Die groeipunt van die mielieplant bly onder die grondoppervlak tot by die V5- tot V6-stadium van ontwikkeling.
Die jong mielieplant is uiters gehard teen eenmalige vegetatiewe beskadiging, terwyl die groeipunt nog onder die grond is. Herhaaldelike beskadiging, suboptimale temperature en bewolkte omge wingstoestande kan die saailing egter lank genoeg verhoed om te fotosinteer en te herstel al is die groeipunt onbeskadig.
Laat plantdatums
Laat plantdatums verkort die groeiseisoen van ‘n gewas en verhoog die risiko vir koue-/rypskade later in die seisoen – voor die graan klaar ontwikkel het. Variërende omgewingstoestande (stralingsindeks en temperatuur) geassosieer met verskillende plantdatums, het ‘n veranderlike effek op die plant se groei en ontwikkeling.
In die geval van mielies kan ‘n laat plantdatum ‘n negatiewe effek hê op die totale aantal blare per plant, die blaaroppervlakte, die aantal koppe per eenheidsoppervlak, aantal pitte per kop, asook pitmassa. Laat plantdatum het ook ‘n effek op planthoogte, kopplasing en stamdikte – met geassosieerde verhoging in die voorkoms van omval.
Behalwe water en voedingselemente is sonstrale (sonlig) ‘n noodsaaklike komponent vir plantegroei. ‘n Gewas se vermoë om sonlig te versamel, is gekoppel aan die blaaroppervlak per eenheidgrondoppervlak, of sy “blaararea-indeks”. Die blaararea-indeks en die verspreiding daarvan in die aanplanting, is belangrike faktore wat die totale ligonderskepping deur die plant beïnvloed en dus ‘n effek op fotosintese, transpirasie en droëmateriaal-akkumulasie het. Slegs ongeveer 50% van die inkomende stralingsindeks word as fotosintese-aktiewe bestraling gebruik.
Lae temperature en ‘n beperking op fotosintese-aktiewe bestraling gedurende graanvulstadium, beperk die plant se vermoë om te fotosinteer en kort graanontwikkeling in. Die verhouding tussen finale pittelling en droëmateriaal tydens baardstootstadium neem dramaties af met laat plantdatums. Dit toon dan ‘n voorkeur vir vegetatiewe groei teenoor reproduktiewe groei. Laat plantdatums veroorsaak dus ‘n geleidelike afname in die opbrengspotensiaal.
Samevatting
Die uiteindelike keuse van ‘n plantdatum moet grootliks berus op die beskikbaarheid van grondvog en langtermynreënvalverspreiding vir die betrokke area – sodat die groeistadiums wat die gevoeligste is vir hitte- en droogtestremming nie in die mid somerdroogtetyd val nie. Die plant van gewasse buite die plantvenster kan verseker jou opbrengs benadeel.
Vir meer inligting kontak jou plaaslike verteenwoordiger of kontak Corné van der Westhuizen by corne.vanderwesthuizen@pannar.co.za of 082 570 8240 of Hendrik Linde by 079 527 7695.
Publication: October 2016
Section: On farm level