Tyd vir nuwe kollektief is hier

Karina Mulller, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

637

Ons almal in Suid-Afrika is op die spreekwoordelike Titanic; ons weet die skip vaar in die verkeerde rigting en pyl op ’n ysberg af, want die kaptein is oorgerus en aan die slaap.

So het Kallie Schoeman, besturende direkteur van Schoeman Boerdery, in ’n videotoespraak by Senwes se Jongboer Toekomsfokusdag gesê wat op .11 Oktober saam met Graan SA en die jongboerverenigings van AgriNW en Vrystaat Landbou op NAMPO Park aangebied is. Die tema van die dag was “Die gras lyk groener, maar word die beeste vet? Boer beter in ’n mededingende wêreld”.

Schoeman het verwys na die Nasionale Ontwikkelings­plan wat in 2012 geskryf is. Destyds het onder andere Cyril Ramaphosa en Trevor Manuel ’n plan voorgestel waarvolgens Suid-Afrikaners teen 2030 ’n ontwikkelende heilstaat, met eienskappe van lande soos Australië en Nieu-Seeland, sou beleef.

Daar is onderneem dat Suid-Afrika teen 2030 geen armoede of finansiële ongelykheid sou hê nie, dat die werkloosheidskoers op 6% sou staan en dat toerisme sou verdubbel.

In sy inhuldigingtoespraak in 2018 het Ramaphosa die soge­naamde New Dawn beloof – die omkeer van korrupsie, planne om die ekonomie te versterk en om werk te skep.

Lombard van Dyk (bemarker: Graan SA), Jaco Minnaar (president: Agri SA), Alzena Gomes (skakelbeampte: Graan SA), Sanmarie Schlebusch (korporatiewe bemarkingsbestuurder: Senwes), Tom van Rooyen (hoofbestuurslid: Graan SA) en Francois Strydom (groephoof- uitvoerende beampte: Senwes) by Senwes se Jongboer Toekomsfokusdag wat in Oktober saam met Graan SA, Agri NW en Vrystaat Landbou op NAMPO Park gehou is.
Lede van Vrystaat Landbou se Jongboerkomitee het die dag bygewoon – Evert Kleynhans (Heilbron), Vincent Meyer (Bloemfontein), Elize Spence (Vrystaat Landbou), Rudo Opperman (Wepener), Gernie Botha (Vrystaat Landbou), Barend Bornman (Bultfontein) en Willie Stols (Vierfontein).

Geen plan
Voormalige president Thabo Mbeki het in Julie vanjaar by Jesse Duarte se gedenkdiens na die Nasionale Ontwikkelingsplan verwys en gesê daar bestaan geen plan om werkloosheid en ongelykheid hok te slaan nie.

“Die sosiale akkoord sou vanjaar uitgereik word – daar het niks van gekom nie. Die regering het geen plan om die land te bestuur nie,” het Schoeman vervolg. “Die sogenaamde meesterplan vir die Suid-Afrikaanse landbou is ook maar net nog ’n skema sodat dié wat in die parlement sit, dink hulle doen iets.”

“Ramaphosa kom nie na vore met ’n nuwe droom nie – ons sal dit self moet doen.” Schoeman het die jong produsente van die land geloof vir hul aandeel om, ten spyte van die wind van voor, steeds voedsel te produseer en buitelandse valuta te genereer.

“Ons sal self moet begin praat en ’n nuwe kollektief vestig. Die tyd vir mooipraatjies is verby. In 28 jaar het niks gebeur nie, produ­sente het opkomende produsente gehelp – nie die staat nie, die regeerders het die pot leeg geëet, misdaadsindikate geskep, die mandaat van 1994 gefaal en Madiba se droom van ’n reënboog­nasie gesteel.”

Hy het voorts gesê produsente moet help om van onder af boontoe te werk sodat die mense se mening by die stembus gesien sal word. “Julle is reeds leiers; help dié wat na julle opkyk.”

Huidige uitdagings
In ’n besprekingsessie gelei deur Jaco Minnaar (president: Agri SA), het deelnemers Edric Badenhorst, Gideon van Zyl, Hugo Vosloo en Johnny Fourie saam met deelnemers van lande soos Kanada, die VSA, Duitsland en Argentinië oor die huidige uitdagings van landbou gedebatteer.

Hulle was dit eens dat die landbou uitdagende tye beleef met druk op produsente wêreldwyd. Die verhoogde pryse van bemes­tingstowwe en saad is veral problematies.

Hoewel duur, is tegnologie noodsaaklik. Die lede van die forum het aangeraai dat dit stelselmatig geïmplementeer word. Dit het ook na vore kom dat struktuur in die boerdery van groot belang is.

Paaie herstel
Vrystaat Landbou se Jongboerkomitee het besluit om die registra­siegeld van die dag na Senwes se padskraapprojek te kanaliseer. Senwes het, deur ’n samewerkingsooreenkoms tussen Senwes Grainlink Bedryf en Senwes Equipment, met ’n projek vorendag gekom om vervalle toegangspaaie na silo’s te herstel.

Tien maande na die bekendstelling van dié projek is 3 500 km se padoppervlak reeds geskraap en is daar ook in ’n tweede padskraper belê. Benewens toegangspaaie in die Vrystaat, is groot gedeeltes ook in Noordwes geskraap, waaronder gebiede rondom Leeudoringstad, Wolmaransstad en Makwassie. Tans word daar in die Hallatshope-area en rondom die Melliodora-silo geskraap en die beplanning is om binnekort in Amalia en Schweizer-Reneke te begin.

Volgens Francois Strydom, Senwes se groephoof- uitvoe­rende beampte, is dit vir sy maatskappy belangrik om proaktief en met impak betrokke te wees in die gemeenskappe binne hul bedieningsgebied. “Swak paaie weerhou ontwikkeling en vooruitgang van die landelike gemeenskappe én dit beteken dat produsente se inkomste en lewensmiddele in die gedrang kom, terwyl voedselsekerheid bedreig word.”