October 2016

image

Die groot gelykmaker

Beste Grootneef,

Soos alles op aarde met ‘n vervaldatum, het my liksens se geldige dae ook uitgeloop. Dit is mos dese dae net vyf jaar geldig. Wat op sigself nie ‘n slegte ding is nie – tot jy jou in die tou van hernuwing begeef. By die toetssentrum gekom, dag ek eers die verkiesing in die wyk is uitge stel, want mense staan halfpad om die gebou. Almal gedienstig en gedwee. Laatkommers soos ek skuur tussen die hordes deur tot voor ‘n hek, waar ‘n wag jou ongeërgd beduie na waar wie moet staan. As jy jou kar deur ‘n toets wil sit, moet jy sountoe. Nuwe liksense, anderkant toe, beduie die wag vaagweg in ‘n suidelike rigting. Nou is dit weer stroom op terug tot agter in die tou, wat intussen met nog twaalf mense gegroei het. Die voorste toustaners kyk jou geamuseerd aan – hulle was ook eers tot by die hekwag om te verneem watter tou dan waarnatoe skuifel.

Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder. En wat is ‘n burokraat sonder ‘n vorm. Heeltemal niks ou Neef, heeltemal niks. So elke halfuur kom ‘n official by die poorte uit met ‘n pak vorms. Die vorms word so bietjie-bietjie uitgedeel. Dis nou om seker te maak van die dag se kwota – sodat die deure teen 15:00 kan sluit. Soos die armsaliges wat wag dat die engel die poel genesende water kom roer, so kry die toustaners nuwe lewe as die man met die pak papiere omkom. Nie dat die nommers op die vorms enigsins sin maak nie – myne het ‘n 24 en die man voor my ‘n 82, met ‘n vet swart pen omkring.

Ou Neef, probeer nou om ‘n vorm te voltooi sonder ‘n tafel. Jou nommer, rang en naam pas net nie in die klein blokkies in nie. Die vrou agter my word die leviete voorgelees toe sy vir ‘n ander vorm vra om ‘n fout reg te stel. Die official beduie as sy weer verkeerd skryf, moet sy môre weer kom. Toe bewe ek elke letter in sy blokkie in. Met ‘n voltooide vorm in die hand, verhoog jou status in ‘n oogwink. Jy kyk meewarig hoe laatkommers tot voor sukkel om te hoor watter tou waar eindig. Die official se laaste sien met vorms was so net voor die middaguur. Sy geoefende oog het die klompie wagtendes takseer teenoor sluitingstyd. Met die vorm-official skoonveld, moes die laastes maar hul lot aanvaar. Môre is nog ‘n dag vir wag, finish en klaar.

In die tou vasbyters was daar nogal ‘n gemeensaamheid. Die tou was die groot gelykmaker – of jy nou lelik of mooi, arm of ryk was, jou beurt is jou beurt. ‘n Ligte opstand het gedreig toe ‘n laatkommer ongemerk probeer inglip het. Die wag het hom wyslik die deur gewys en die man moes maar mooitjies agter inval. Met ‘n vorm in pag en tyd aan jou kant word praatjies en wenke onder die toustaners uitgeruil. Een ou het sy hele CV in ‘n bruin koevert saamgedra – van sy doopseël tot die uitslag van sy matriekafskeid. Hy vat nie kanse met burokrate nie. Alles in drievoud en gewaarmerk deur ‘n ede-kommissaris. Hy het ook vertel dat hy met die duiwel se sussie getroud was en boonop wil sy eks-skoonma nie sy kar teruggee nie. Die balju was al twee keer daar, maar dié het net ‘n spaarwiel en ‘n Maltese poedel in die jaart gekry. Intussen ry iemand dat dit vrek met sy kar – laas week weer vyf boetes gekry. Hy hoop hy staan in die regte tou om dinge vir eens en altyd “uit te sort“. Ou Neef, na vier ure in die tou is jy ‘n veteraan van afwagting. Die deurwag het met korter tussenposes die lengte van die ry gemeet en na sy horlosie gekorrel. Maar ons was deel van die dag se kwota en is skuifelend dwarsdeur die poorte.

Die beloofde land was ‘n kiosk van 1 m by 2 m met ‘n official en ‘n komper. Die official het gesteurd opgekyk van ‘n gesprek met twee selfone, een op elke oor. En toe kyk ons vir mekaar: Ek, ‘n veteraan van wag vir beter dae en sy die magtige burokraat. Na ‘n ewigheid en ‘n diep sug het sy die fone op mekaar neergeplak en kon mens die gesprek op ‘n afstand hoor voortgaan. Daar was geen blymoedigheid om die mense van die land te dien nie. Na ‘n tweede diep sug het sy my deur die passies van ‘n oogtoets en ‘n nuwe foto geneem. Op die foto, is my oë en neusvleuels wyd gesper soos ‘n skaap net voor ‘n dip – in swart en wit vir die volgende vyf jaar verewig. Na ‘n laaste skof van die skuifel-vastrap tot by die betaaltannie, kon ek ook my bydrae van R228 tot die staatskas lewer. Met ‘n innemende glimlag het die tante agter die dik glas my ingelig dat ek oor ses weke weer kan kom, om te hoor of die nuwe liksens opgedaag het. Nee, niemand gaan jou bel of sms nie, jy kan sommer net in die tou kom wag. Sy kon glad nie verstaan wat ek bedoel toe ek beduie dat dit moeilik is om wettig te bly nie.

Die aand toe die son sak, dink ek toe só daaroor: Eintlik is ons aard bewoners almal in die tou om die tydige met die ewige te verwissel. Maar niemand druk in daardie tou in nie.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: October 2016

Section: Features