Alternatiewe gewasse – nuwe kultivars getoets

Gepubliseer: 5 Mei 2020

1917
Ruan Schutte,
junior landbou-ekonoom en bemarker, Graan SA
Piet Lombard,
Navorsing- en Tegnolo-gie-ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departe-ment van Landbou

Soms word ou waarhede herontdek en bevestig en nuwe praktyke word as wetenskaplik kanoniek beskou. Een so ’n praktyk, wat eintlik in beide kategorieë tuishoort, is wisselboustelsels in die graanbedryf.

Die rotasie van gewasse dra by tot die verbetering van die grond se koolstofvlakke (waar peulplante gebruik word, word stikstof in die grond gebind), wat uiteindelik die grond se gesondheid verbeter. Met dit in gedagte, is daar opnuut gekyk na alternatiewe gewasse wat aangeplant kan word asook na nuwe kultivars om te toets.

Fababone in blom.

Die 2019-seisoen het reuse-uitdagings ingehou vir navorsers en produsente. Die wisselvallige temperature en tekort aan reën gedurende die seisoen, het druk geplaas op die hele landbousektor. Die navorsers het harde bene gekou om resultate vir hulle proewe te formuleer en heelwat van die proefpersele wat geplant is, kon nie gestroop word nie. Die proewe sal in die 2020-seisoen op dieselfde persele herhaal word, met die hoop dat daar dié seisoen resultate vanaf alle persele gekry word.

In die Wes-Kaap word daar proewe deur die provinsiale landboudepartement op verskeie persele gedoen, met Riversdal, Tygerhoek, Langgewens en Hopefield die algemeenste persele waar navorsing plaasvind. Verskeie kekerertjie- en ertjiekultivars is in wisselbouproewe aangeplant. Daar word ook opbrengste gemeet in kekerertjie-, fababone-, lupiene- en ertjieproewe. In Tabel 1 word die resultate van die opbrengste, soos verkry op Langgewens, uiteengesit vir die onderskeie kultivars wat getoets is. Die kultivarproewe sluit nuwe kultivars in, wat vir die Suid-Afrikaanse mark getoets word en van hierdie kultivars is nog nie kommersieel beskikbaar nie.

Bron: Wes-Kaapse Departement van Landbou

Die opbrengste, soos aangedui in Tabel 1, vertoon positief omdat van dié kultivars goed presteer het – selfs in ’n uitermatig droë jaar soos 2019. Hou egter in gedagte dat dit slegs een proef se resultate vir een jaar is. Die proewe gaan op drie tot vier persele in die 2020-seisoen herhaal word.

Sensako het ook die afgelope jaar alternatiewe gewasse getoets. Nuwe lupienekultivars is ingebring vanaf Australië en is in die Wes-Kaap en die Vrystaat getoets. Ander sleutelgewasse waarna Sensako gekyk het, sluit kekerertjies en fababone in.

Daar word met verwagting uitgesien na die seisoen wat voorlê! Almal hoop dat dit beter omstandighede sal inhou vir navorsers en produsente. Alle proewe hierbo bespreek, gaan herhaal word en daar sal opnuut na die resultate gekyk word in die komende seisoen.