April 2016

image

CORNÉ LOUW, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Diesel maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekoste uit. Die groothandelsprys van diesel in Maart vanjaar het op R9,58/liter gestaan – 4,2% laer as die R10/liter van verlede jaar dieselfde tyd.

Van hierdie dieselprys bestaan 55% uit heffings en belastings terwyl slegs 45% uit die werklike brandstofkoste (invoerpariteit van diesel) bestaan. Die grootste gedeelte (74%) van die heffings en belasting bestaan uit die algemene brandstofbelasting en die Padongeluksfondsheffing.

Plaaslike brandstofpryse word gereguleer. Grafiek 1 toon die samestelling van die groothandelprys van diesel in Maart vanjaar. Die Minister van Finansies het in sy begroting aangedui dat belasting op diesel in April met ‘n verdere 30c/liter gaan styg.

Die dieselkorting vanaf April

Die dieselkorting waarvoor produsente kwalifiseer, bestaan uit 40% van die algemene brandstofbelasting en 100% van die Padonge luksfondsheffing. Vir Maart het die dieselkorting 26% van die groothandelsprys van diesel uitgemaak. Die Minister van Finansies het in Februarie vanjaar aangekondig dat die algemene brandstofbelasting op 6 April vanjaar met 30c/liter gaan toeneem. Dit bring mee dat die dieselkorting op 6 April vanaf 250c/liter na 262c/liter gaan toeneem – vir 80% van regmatige ge bruik. Grafiek 2 toon hoe die dieselkorting oor tyd toegeneem het.

Die dieselprys, -heffings en -korting onder die loep

Verantwoordelikheid

Die verhoging in die dieselkorting gaan met meer verantwoordelikheid gepaard. Uit die artikel is dit duidelik dat ondanks die feit dat heffings en belastings skerp toeneem, die dieselkorting ‘n noemenswaardige deel daarvan uitmaak. Dit alles spel uit dat ons in die landboubedryf die dieselkorting met die nodige omsigtigheid moet hanteer en ten alle tye moet beskerm – dit is een van die min voordele wat ons wel ontvang.

Wenke vir dieselkorting

Eis die dieselkorting op grond van verbruik en nie op aankope nie.

Hou volledig boek van dieselgebruik op die plaas (vanaf die hoofverspreidingspunte):

  • Datum diesel ingegooi.
  • Hoeveelheid diesel ingegooi.
  • Beskrywing van voertuig.
  • Rede waarvoor diesel aangewend is.

Neem kennis dat daar nog vir die finale logboeke van die Suid- Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gewag word, wat die bogemelde inligtingbehoefte kan verander.

Publication: April 2016

Section: On farm level