Kriteria vir vrystelling van NUWE GRAANTEGNOLOGIE

Gepubliseer: 6 Mei 2024

127
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Die hooffokus van teelprogramme is om die opbrengspotensiaal van graanpro­duksie in Suid-Afrika te verhoog terwyl dit steeds graan van uitstekende gehalte aan die verwerker en verbruiker bied.

Volgens Kobus van Huyssteen, tegniese bestuurder by die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR), moet alle nuwe variëteite eers deur die Departement van Landbou, Grond­hervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) onder plaaslike toestande geëvalueer en beskryf word alvorens dit vrygestel kan word.

“Die beskrywings is nodig omdat dit vir sertifise­ring en nakontroledoeleindes gebruik word. Indien ’n produk van bestaande plaaslike variëteite verskil en “nuut” is en dit ook aan die uniformiteits- en stabiliteits­toetse voldoen, word dit op die variëteitslys geplaas. Eers wanneer ’n produk op die variëteitslys verskyn, kwalifiseer dit vir kommersiële verkope.”

Volgens Van Huyssteen kan dit tussen agt en tien jaar neem voordat ’n nuwe variëteit of baster deur die hele proses van teling en produksie gegaan het en kommersieel verkoop kan word.

Maatskappye kyk na die volgende kriteria:

  • Opbrengspotensiaal
  • Plantbaarheid
  • Lewenskragtigheid van die saailing
  • Aanpasbaarheid by plaaslike omstandighede
  • Aanpasbaarheid oor verskeie klimaatstreke heen
  • Stabiliteit oor seisoene
  • Stabiliteit oor produksie-areas
  • Staanvermoë
  • Siekteverdraagsaamheid
  • Graankwaliteit
  • Graankleur
  • Graantipe
  • Meerkoppigheid of enkelkoppigheid
  • Plantmorfologie (planttipe)
  • Planthoogte
  • Groeiseisoenlengte
  • Stroopbaarheid
  • Konvensioneel of produkte met geeneienskappe
  • Aangepas vir verbouing onder besproeiing of droëland
  • Produseerbaarheid en produksiekoste

Mielies
Volgens Leonard Oberholzer, mieliestrategiebestuurder by Bayer Afrika, moet mieliebasters in produsente se behoeftes voorsien en waarde na die plaas bring voordat dit op die mark geplaas word. Volgens hom kyk Bayer na die volgende aspekte:

  • Geografiese area van vrystelling
  • Grootte van die mark
  • Aanpasbaarheid in die area
  • Die waarde wat dit inhou vir die spesifieke gebied.

“Saadmaatskappye het ’n verantwoordelikheid teen­oor die bedryf om genetika in die mark te plaas wat aan die mark se vereistes voldoen en wat die volhoubaarheid van die bedryf verseker. Die kompetisie tussen maatskappye is sterk – behalwe dat dit almal op hulle tone hou, hou dit ook groot voordeel vir die produsent in,” meen hy.

Volgens Oberholzer is groeiseisoenlengte uiters belangrik. ’n Pakket van kultivars met verskillende groeiseisoenlengtes hou die volgende voordele vir die produsent in:

  • Dit verlaag die risiko van hitte en droogtestres.
  • Dit verlaag die gevaar dat al die kultivars gelyktydig blom en bestuif tydens die midsomerdroogte.
  • Die bestuiwingsperiode word verleng.
  • Sommige kultivars kan vroeër gestroop word.
  • Die impak van siektes en plae kan verlaag word.

Volgens Kruger van Wyk, kommersiële teler by United Seeds, is daar sekere primêre en sekondêre eienskappe wat ’n potensiële nuwe produk moet hê voordat die maatskappy dit kommersieel sal bekend stel.

“Tydens die prekommersiële proewe en evaluasies van kultivars word gekyk na sekere kernprestasiefaktore en vereistes. Die primêre eienskappe waaraan ’n kultivar moet voldoen, is opbrengs, opbrengsstabiliteit en siekteverdraagsaamheid. Wanneer ’n potensiële kultivar nie die paal haal wanneer hiérdie kerneienskappe gemeet word nie, word dit summier uit die program gehaal. Voldoen dit aan die kriteria, skop die evaluering van sekondêre eienskappe soos graankwaliteit, staanvermoë, droogteverdraagsaamheid en geeneienskappe in. Laastens word ook na die produseerbaarheid van die betrokke kultivar gekyk,” verduidelik Van Wyk.

Foto: Magda du Toit
Foto: Magda du Toit
Kultivarproewe word gedoen om te toets of ’n nuwe kultivar aan die mark se vereistes voldoen.
Foto: Magda du Toit

Sonneblom
Volgens Charles Basson, sonneblomteler by Syngenta, neem maatskappye die volgende eienskappe in ag by die vrystelling van nuwe sonneblombasters:

  • Opbrengspotensiaal
  • Agronomiese eienskappe wat na die algehele voorkoms van die baster oor verskeie omgewings en plantdatums verwys. Dit sluit in planthoogte, staanvermoë, kopgrootte, die hoek van die sonneblom se kop, dae tot blom en dae to fisiologies ryp.
  • Siekteweerstand: Dit sluit die algehele gesondheid van die baster oor die groei­seisoen in, maar fokus ook op spesifieke siektes waarvan Sclerotinia een is.
  • Onkruiddoderweerstand
  • Graanopbrengs
  • Produseerbaarheid
  • Olie-inhoud

Olie-inhoud bepaal ’n groot deel van die waarde en die benadering is om vroeg reeds vir hoë olie te selekteer. “In die verlede was die fokus altyd op graanopbrengs, met verwerkers wat aan die kortste ent getrek het. Die nuwe fokus is op kultivars met ’n hoë olie-inhoud wat tot die verwerker en produsent se winsgewendheid kan bydra,” meen Basson.

Koring
Twee faktore wat die volhoubaarheid van die koringbedryf in Suid-Afrika bepaal, is die beskikbaarheid van koringkultivars wat agronomies goed presteer en terselfdertyd aan sekere kwaliteitsvereistes ten opsigte van maal-, deeg- en bakeienskappe voldoen. Proteïeninhoud word hoofsaaklik as maatstaf gebruik om koringkwaliteit te bepaal omdat daar ’n lineêre verband tussen proteïeninhoud en bakkwaliteit is.

Die invloed van die klimaat, interaksie met die klimaat en reënval, asook verbouingspraktyke het alles ’n invloed op die kwaliteit van koring. Die toepassing van absolute kwaliteitswaardes vir die vrystelling van nuwe koringteellyne is dus onprakties.

Wanneer maatskappye nuwe teellyne oorweeg, word dit gemeet aan sekere bestaande kommersiële kultivars. Monsters van die produkte se saad word aan die Suider-Afrikaanse Graanlaboratoriums (SAGL) vir analise gestuur saam met ’n minimum van twee jaar se data oor vyf verskillende lokali­teite om die standaard te bepaal.

Volgens dr Francois Koekemoer, hoof van saadnavorsing en -ontwikkeling by Syngenta, moet nuwe produkte egter ook fokus op valgetal, uitloopweerstand en weerstand teen plantsiektes soos geelroes, blaarroes en stamroes asook Russiese koringluis.

“Die hooffokus van enige teelprogram is om die opbrengspotensiaal van koring te verhoog terwyl dit die boer se risiko verlaag en steeds graan van uitstekende gehalte aan die verwerker bied,” sê Koekemoer.

Koring moet aan die volgende kriteria voldoen:

  • Goeie saadkwaliteit
  • Opbrengs
  • Goeie graankwaliteit
  • Vasgestelde bak- en maalkwaliteit
  • Kultivars wat stabiel oor gebiede pre­steer.
Strookproewe word gestroop en daarna word die data ontleed om te bepaal met watter kultivars in die teelprogram voortgegaan word.
Foto: Syngenta