April 2015

Duiwekerwel (Fumitory)

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Fumaria muralis
Afrikaanse naam: Duiwekerwel
Engelse naam: Fumitory

image

Daar kom twee Fumaria-spesies in Suid-Afrika voor, maar net Fumaria muralis (duiwekerwel) is ‘n algemene onkruid. Alhoewel dit na bewering ‘n relatiewe swak mededinger by wintergraan is, kan dit sterk met groentegewasse kompeteer.

Duiwekerwel se kompetisie-impak hang af van die gewasspesie en -kultivar, tyd van vestiging van duiwekerwel en digtheid van die populasie. In Australië is gevind dat duiwekerwel koringproduksie met tot 40% en kanolaproduksie met tot 36% kan verlaag.

Die feit dat die plant teen ander plante kan opklim, maak dit ‘n sterk kompeteerder teen gewasse met kleiner plante en dit het skynbaar ook allelopatiese eienskappe wat gewasgroei kan onderdruk. Ander faktore wat duiwekerwel ‘n suksesvolle onkruid maak, is die groot genetiese variasie binne die spesie wat oorsprong gee aan baie verskillende ekotipes wat verseker dat die spesie in ‘n reeks van verskillende omgewings kan oorleef. Dit het saad wat tot 20 jaar kiemkragtig kan bly en het ‘n baie wye venster van temperature waartydens dit kan ontkiem. Duiwekerwel is moeilik om te beheer in kanola en word dus bevoordeel in rotasies wat kanola insluit.

Duiwekerwel bevat ‘n klompie verskillende chemiese verbindings wat toksies kan wees vir mense, maar in klein hoeveelhede medisinale eienskappe het. Só word plantmateriaal van duiwekerwel byvoorbeeld in lande soos Mauritius en die Réunion eiland in badwater geplaas om uitwendige probleme, soos ekseem, aknee, ringwurm, ‘n gejeuk en wonde te behandel.

Dit word ook inwendig as tonikum en stimulant gebruik wat na bewering bloed suiwer, lewerfunksies stimuleer, as lakseermiddel gebruik word, anti-diabetiese funksies het en gebruik word om hoë cholesterol te beheer. Weens die moontlike toksisiteit, is dit egter nie raadsaam om die plant vir inwendige medisinale gebruik aan te wend nie.

Duiwekerwel is platgroeiende tot halfregop, kruidagtige, eenjarige plante wat tot ‘n mate teen stutte soos draadheinings of ander plante kan oprank. Hulle vertak redelik baie vanaf die basis en kan tot 60 cm hoog word. Die stingels wat haarloos en groen is, kan fyn geriffeld tot hoekig wees. Die blare is dubbelveervormig saamgesteld en is afwisselend gerangskik. Die blaarveertjies van die boonste blare is omgekeerd eiervormig gelob, haarloos en tot 1,5 cm lank. Die saamgestelde blaar kan tot 8 cm lank wees.

Die blomme kom in oksel- of eindstandige trosse voor en is pienk met perserige punte. Die vrugte is lig- tot donkerbruin, lensvormig en tot 2 mm in deursnit. Die sade is groen tot bruin, lensvormig met ‘n dowwe, haarlose oppervlakte en tot 2 mm in deursnit.

Voorkoms en verspreiding

Duiwekerwel is oorspronklik afkomstig van Marokko en die Iberiese Skiereiland van Spanje, maar kom tans op alle kontinente behalwe Antarktika voor. In Suid-Afrika kom dit wydverspreid voor, maar veroorsaak veral probleme in koring in die Suid-Kaap en in Mpumalanga. Dit is ook ‘n lastige onkruid in lusern en baie groentegewasse in die winterreënvalstreek.

Duiwekerwel plant net met saad voort. Die blomme is selfbestuiwend en minder as 1% kruisbestuiwing vind plaas. Duiwekerwelplante kan tot 22 500 sade per plant produseer. Die sade kan binne drie weke nadat die eerste blomme verskyn het, begin ryp word.

‘n Narypingsperiode is dan nodig vir die sade om te ontkiem. Duiwekerwel se saad kan deur klere, skoene, masjinerie, gewas- en weidingsaad en voer versprei word. Oor die algemeen word dit waarskynlik die meeste saam met onsuiwer kanola en ondergrondse klawersaad oor lang afstande versprei.

Die saad kan ook deur water versprei word. Dit beskik ook oor ‘n baie effektiewe kortafstand verspreidingsmeganisme (minder as 10 m) deurdat die sade se saadhuid olieryk is en miere dit dan versamel en in hulle neste begrawe waar dit veilig kan lê en wag op geskikte ontkiemingstoestande.

Duiwekerwelsade is hoogs rustend as gevolg van ‘n onvolwasse embrio (vandaar die behoefte aan ‘n narypingsperiode) en saadhuid wat suurstofopname belemmer. Die embrio word volwasse ná blootstelling aan hoë temperature gevolg deur ‘n koue, klam periode. Sade wat vlakker as 5 cm begrawe is bly vir drie tot vyf jaar kiemkragtig en op ‘n diepte van 15 cm kan dit vir 20 jaar lank oorleef.

Miere help met oorlewing deurdat hulle die sade diep begrawe. Duiwekerwel kan dwarsdeur die jaar ontkiem, maar dit gebeur meestal tussen Mei en Augustus in reaksie op reënbuie. Die optimum ontkiemingstemperatuur is 10°C – 15°C alhoewel ontkieming tussen 5°C en 22°C kan plaasvind.

Ontkieming kan gestimuleer word deur bewerking in die dag wat die sogenaamde ligeffek verskaf. Die bewerkingseffek vervang die temperatuurbehoeftes van die saad vir ontkieming. Ontkieming word nie deur stikstoftoediening beïnvloed nie. Sade is relatief klein en ontkiem vlak (vlakker as 2,5 cm).

Sade wat bo-op die grond ontkiem, vestig swak as gevolg van ‘n swak kiemwortel wat nie die grond kan binnedring nie. Duiwekerwel gedy in grond met ‘n hoë nutriëntstatus en reageer positief op stikstofbemesting. Dit reageer ook goed op bekalking, want dit verkies neutrale tot alkaliese gronde.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir duiwekerwel geregistreer is, wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen duiwekerwel is as daar nie weerstand is nie.

image

image

Duiwekerwel is redelik tolerant teen die hormoononkruiddoders en ALS-inhibeerders moet ook toegedien word terwyl die plantjies nog baie klein is. Duiwekerwel verloor gou sensitiwiteit teen die ALS-inhibeerders as die plante kans kry om groter te word.

Volgens www.weedscience.co.za is daar nog nie weerstand teen onkruiddoders in duiwekerwel aangeteken nie. Daar is wel weerstand in Australië teen trifluralien in ‘n naverwante spesie, naamlik Fumaria densiflora in 1999 aangeteken, maar nog nie in Fumaria muralis nie.

Dit is egter belangrik dat antiweerstandsmaatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel. Sorg moet gedra word dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Té hoë en té lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in ‘n ander werkswyse groep).

Alternatiewe beheer
Met die oog op die voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Dit is maklik om duiwekerwel met die hand uit te trek, maar die versteuring veroorsaak dat groot getalle saailinge weer daarna opkom. Dit moet elke tien weke herhaal word. Probeer ook om skadu-effekte te skep deur vinnig groeiende gewasse of deklae.

In Australië is gevind dat bewerking die ontkieming van duiwekerwel stimuleer. In koring wat deur middel van geenbewerkingspraktyke gesaai is, was die hoeveelheid duiwekerwel onbenullig min. Waar geenbewerkingskoring egter opgevolg is met kanola wat voorsaai bewerk is, het die getalle duiwekerwel astronomies toegeneem, omdat bewerking die ontkieming stimuleer en ook omdat duiwekerwel baie swak beheer word in kanola.

Bewerking in die nag, indien prakties moontlik, het baie minder duiwekerwelplante tot gevolg gehad en indien die gewas onmiddellik daarna gesaai is, het dit duiwekerwel redelik goed onderdruk deur skadu-effekte en kompetisie. Daar word ook voorgestel dat ‘n ligte bewerking toegepas kan word om ontkieming te stimuleer en die saailinge dan met ‘n nie-selektiewe middel voor saaityd doodgespuit word.

Met gewasrotasies moet in ag geneem word dat duiwekerwel moeilik in kanola, lupiene, erte en weidings beheer word. Die geenbewerkingstoestande in ‘n verlengde weidingsfase mag minder duiwekerwel op die land tot gevolg hê, maar dit verminder nie die saadbank nie. Daar word voorgestel dat ‘n triasienbestande kanolakultivar ná die weidingsfase gesaai word, aangesien triasiene redelik effektief is op duiwekerwel.

Beheer met behulp van kompetisie is slegs haalbaar as graangewasse gesaai word. Kanola wat baie dig gesaai word, sal ook duiwekerwel tot ‘n mate onderdruk, maar dit sal steeds oorleef en saad produseer. Beweiding en brand van stoppel is oneffektief, want skape bewei nie duiwekerwel wanneer dit in die blomstadium ingaan nie en die saad wat begrawe is, word beskerm teen vuur. Inteendeel, die temperatuurskommelinge as gevolg van die brand kan duiwekerwelsaad stimuleer om te ontkiem.

Laastens is saadhigiëne van groot belang. Moenie saad van kanola en weidings terughou en weer saai of in ander kampe/plase saai as daar duiwekerwelplante teenwoordig is nie. Onsuiwer saad is die grootste bron van duiwekerwelverspreiding en dit is so te sê onmoontlik om alle duiwekerwelsaad uit kanola- en klawersaad te kry.

Doen ook ‘n suiwerheidstoets op saad wat aangekoop word om die probleem te probeer voorkom as dit nie reeds teenwoordig is nie.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Alternatiewe bron van inligting

http://archive.lls.nsw.gov.au/__data/assets/pdf_file/0007/495349/archive-fumitory.pdf

Publication: April 2015

Section: On farm level