February 2015

image

image

Beste Grootneef

Kyk, ‘n melkkoei het mos ‘n gewoonte om elke keer op dieselfde plek in ‘n stal te loop staan. Dis nou voor die dae van fênsie melkerye en sirkelwiele waar ‘n koei haar maar op die naaste oop plek moet tuismaak. Die ouer manne sal onthou van die dae toe in ‘n koeistal gemelk is; elke koei het haar plek geken. Anders sak sy nie óf skop die emmer om.

Mense is maar net so. In die kerk het elk sy plek. Elke familie in gelid van oudste tot die jongste geletterde. En waag ‘n vreemde om een oggend op hul bank te sit, oorweeg die pater familias dit op staande voet om af te stig. Jy kan maar sê dit was ‘n soort van vruggebruik. Dis nie regtig joune nie, maar vir een keer ‘n week het jy jou sit kom kry, asof die bank net aan jóú behoort.

Die bank se verbintenis eindig ook nie met ‘n begrafnis nie. Nee, die volgende geslag loop sit ook daar. Hulle is immers uit die bank gedoop!

As kind het ons so stil soos muise gesit. Nie gewaag om te roer nie. Ons is die leviete voorgelees dat die dominee onder die kansel ‘n emmer met witgeverfde steenkool reghou. Dis nou om stout kinders mee te gooi. Die steenkool is spesiaal witgeverf, sodat dit nie sy hande sou besmeer nie. Ons is ook gereeld daaraan herinner dat dit vir die dominee deur al die jare nog nooit nodig was om ‘n kind met die wit steenkool te gooi nie. En jy wou nie daardie eerste een wees nie! Stil soos muise gesit, ek sê jou.

Die voordeel van elke gesin op sy bank, was dat jy sommer gou kon sien wie in die kerk was. Kyk, ‘n ouderling het sommer so voor die diens ‘n koptelling gehou en na afloop gebel om te hoor of alles wel is, sou jy dalk die oggend nie in die kerk wees nie. Net om te hoor of daar nie dalk siekte of teëspoed is nie.

Die kraak van ‘n kerkbank trek ver. Ou Attie, die orrelis het altyd so 10 minute of wat vooraf die orrel bespeel. Maar in daardie stilte vóór die orrelspel, het die houtbanke en dakbalke die praatwerk gedoen. So met ‘n paar bosduiwe wat in die agtergrond brom. Hier en daar ‘n kuggie uit ‘n droë keel. Die kuns was om ongesiens ‘n pienk ouderlingspilletjie in die kies te kry vóór jy die kerk instap. En dan suig jy hom, want niks mag roer nie.

Die kerk het ook ‘n eie mengsel van geure gehad, met speserye van ou gesangeboekies en vloerpolitoer. ‘n Aangename adem wat een keer per week met ‘n oop kerkdeur losgelaat is. ‘n Subtiele geur, wat jou net beloon het wanneer jy doelbewus daarna gelet het.

En so is ons vele dienste deur, van Jonah met sy walvis, tot by Simson. Ek wonder darem nog altyd oor daardie jakkalse wat Simson so met brandende fakkels in die Filistyne se lande losgelaat het…

Oujaarsaand het ons weer die ou kerk besoek. Daar is maar net ‘n klompie siele oor. Party van die derde- en vierde geslag in dieselfde bank. Die ou bekendes se plekkies is leeg en die gesange sagter. Ná 100 jaar het die ou kerkgebou die bittereinders en al die afstigters oorleef. Na die diens het ek vinnig onder die preekstoel gaan kyk. Daar is toe wraggies nie meer ‘n emmer vol witgeverfde steenkool nie. Geen wonder dat die japsnoet agter in die kerk so woelig was nie.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: February 2015

Section: Features