Bemagtigingsmodelle wat in die Wes-Kaap werk: Deel 1

1700

February 2015

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder, Graan SA

Die bemagtiging van plaaswerkers en kleinboere is ‘n konsep wat die afgelope tien jaar toenemende aandag op alle vlakke van die landbousektor geniet het. Ons praat met baie produsente wat vir jare lank met idees en planne in hulle koppe rondloop, maar nog nie die regte struktuur of vrymoedigheid gehad het om dit te implementeer nie.

Ons as mense probeer almal om tot ‘n mate verandering te vermy en onsekerheid nog meer! Die doel van hierdie artikel is om lig te werp op bemagtigingsinisiatiewe wat in die praktyk werk en dien as voorbeelde van wat moontlik is.

Ons beoog om oor die volgende paar maande vier praktiese bemagtigingsmodelle met lesers te deel. Hierdie modelle dien slegs as ‘n raamwerk en is totaal aanpasbaar. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die produsente wat hierdie inisiatiewe dryf en/of mentor, ook aanvanklik met ‘n basiese raamwerk begin het en onsekerhede gehad het, maar oor tyd hulle modelle aangepas het volgens hul eie visie, behoeftes en omstandighede.

Graan SA gesels met mnre Corne Rust en JP Truter van Knolkop Boerdery, buite Moorreesburg.

image

Hoe presies werk die model waarby julle betrokke is en wat is julle rol?

In 2010 het ons ‘n plaas gekoop wat grens aan ons bestaande plase. Ons het ‘n maatskappy gestig wat die besigheid bedryf onder die naam Knolkop Boerdery. Daar is drie aandeelhouers in die maatskappy, naamlik: I.C. Rust (37%), JP Truter (37%) en Knolkop Bemagtigings Trust (26%).

Die maatskappy boer met koring en medics en die wins word volgens aandeelhouding versprei. Skaapboerdery, hooisny en baalwerk word slegs tot die alleen voordeel van die Trust bedryf.

Rust is as mentor verantwoordelik vir die skaapboerdery saam met mnr Jacobi Cleophas. Truter is as mentor verantwoordelik vir die saaiery en medics saam met mnr Jacob Afrikaner. Beide is op gereelde basis regdeur die jaar besig om aan die nege begunstigdes die nodige opleiding en vaardigheid te leer om uiteindelik stelselmatig meer onafhanklik te funksioneer.

Waar kom julle vandaan en wat is jul agtergrond?

Ons het albei grootgeword in die boerderyopset in die Swartland-distrik. Albei ons families is al sowat vier geslagte lank betrokke by die onderskeie boerderye. Ons het dus die voorreg gehad om waardevolle ondervinding en kennis wat deur geslagte oorgedra is, toe te pas en verder uit te brei.

Ons het landbou studeer aan die Elsenburg Landbou Opleidingsinstituut op Stellenbosch en het albei onderskeidelik 20 jaar ondervinding in koring, skaap en beesboerdery.

Wat het julle gemotiveer/geïnspireer om by bemagtiging betrokke te raak?

Ons is deel van die nuwe generasie produsente wat glo dat landbou ‘n kardinale rol speel in die vooruitgang en sukses van Suid-Afrika se ontwikkeling. Ons wou al ‘n geruime tyd betrokke raak by bemagtiging en die plaas wat tussen ons plase in die mark gekom het, was daardie gulde geleentheid.

Ons wou graag ons werkers die geleentheid bied om te streef na groter doelwitte waaruit hulle finansiële voordeel kan trek. Hierdie was ook ‘n geleentheid om ons werkers die nodige opleiding te gee sodat hulle stelselmatig ‘n eie besigheid kan bestuur wat ten bate van hul nageslag sal wees.

Wat is die model se sterkpunte?

Die feit dat almal betrokke by hierdie projek, werklik die gesamentlike doel het om hierdie projek te laat werk en ‘n sukses daarvan te maak. As meerderheidsaandeelhouers is ons gemotiveerd om ‘n sukses te maak van hierdie besigheid. Ons glo daarin om die besigheid met ‘n langtermynoogpunt te bestuur tot voordeel van almal betrokke.

Die maatskappy se boeke word deurlopend geoudit en ‘n finansiële kundige waarmee die begunstigdes gemaklik voel, word deur die ouditeurs voorsien, om toe te sien dat die begunstigdes deeglik die finansiële proses verstaan en vertrou.

Die feit dat die plaas tussen die twee mentors se plase is, maak dit logisties maklik om gereeld as mentors toe te sien dat die begunstigdes die regte boerderypraktyke volg en toepas.

Is daar uitdagings?

Die grootste uitdaging vir die begunstigdes is om hulle lening terug te betaal. Die begunstigdes moes ‘n lening aangaan om hul aandeelhouding in die maatskappy te bekom. Gelukkig is dit ‘n goeie plaas waarin die begunstigdes ‘n aandeel het, met ‘n hoë opbrengspotensiaal wat dit makliker maak om die terugbetalings te finansier.

Wat bepaal volgens julle die sukses van hierdie projek waarby jul betrokke is?

‘n Deurslaggewende faktor is dat ons saam met die begunstigdes boer en só deur die waardevolle kennis wat ons van landboupraktyke het, op ‘n deurlopende en stelselmatige wyse kan oordra aan die begunstigdes.

Beide die begunstigdes en mentors is hoogs gemotiveerd om ‘n sukses van hierdie projek te maak en die onderskeie partye het al vir die afgelope vier jaar ‘n suksesvolle wedersydse werksverhouding. Die finansiële hulp wat die Departement van Landbou met die insetkoste bygedra het die afgelope twee jaar, het definitief bygedra tot die sukses van hierdie projek.

Julle boodskap aan ander kommersiële produsente daar buite?

Die begunstigdes vir wie jy wil bemagtig, moet ‘n liefde en belangstelling in landbou hê en gemotiveerd wees om hiervan ‘n sukses te maak. Só ‘n projek het nie plek vir ‘n “ons besigheid – hulle besigheid” uitgangspunt nie. Dit moet uit die staanspoor ‘n spanpoging wees.

Daar is baie rolspelers in die landbou wat jou kan help om so ‘n projek suksesvol aan te pak. Kontak gerus Graan SA en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

Publication: February 2015

Section: Grain SA