January 2015

image

MAX DU PREEZ, politieke ontleder

Dit was die mees militante vegters vir grondhervorming self wat die punt baie duidelik gemaak het: Die probleem met swart grondbesit is primêr in die stede, nie op die plase nie.

Mnr Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het vroeg in November 2014 ‘n groep inwoners gelei wat onwettiglik grond in Nelmapius, Pretoria, beset het. Die EFF se leierskap het dit duidelik gestel dat hulle glo dit is die korrekte optrede en dat hulle dit weer en weer sal doen.

In Kaapstad is ‘n organisasie met bande met die ANC, die Ses’Khona People’s Rights Movement, ook aktief besig onwettige grond besettings in die Skiereiland.

Tog hou die EFF en die ANC steeds vol met hul emosionele oproepe dat plaasgrond dringend en ingrypend herverdeel moet word. Soos die politieke temperatuur al warmer word op pad na die plaaslike verkiesing van 2016 en die algemene verkiesing van 2019, moet ons verwag dat die emosies rondom plaasgrond nog verder opgejaag gaan word.

‘n Mens kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die grondkwessie in Suid-Afrika meer ‘n politieke en simboliese as ‘n landboukwessie is. As dit waar is, moet landbouers en hul organisasies dit in gedagte hou wanneer hulle oor grondhervorming praat en onderhandel.

Die koue feite is dat Suid-Afrika ‘n verstedelikte land is. Minstens 14 miljoen swartmense het sedert 1994 uit die platteland en die ou tuislande na die stede en dorpe getrek. In 1990 het net 52% van Suid-Afrikaners in stede gewoon. In 2014 het dit opgeskuif tot 67%. Dit is een van die grootste migrasies van mense in Afrika in die moderne geskiedenis.

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het in 2006 en 2007 in ‘n wye steekproef gevind dat meer as ses uit tien swart Suid-Afrikaners nie landbougrond wil hê nie en die meeste van dié wat aangedui het dat hulle graag grond wou besit, wou minder as 5 ha hê.

Die minister verantwoordelik vir grondhervorming, mnr Gugile Nkwinti, het verklaar dat net sowat 6 000 van die sowat 78 000 aansoekers vir grondrestitusie verkies het om grond te kry, die ander 62 000 wou geldelike vergoeding kry – omtrent R6 miljard. “Ons het nie meer kleinboere nie, ons het nou mense wat ‘n loon verdien,” het hy gesê.

Natuurlik is hy reg. Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners verlang beter werksgeleenthede, beter onderwys vir hul kinders, beter huise, beter dienste en dalk ‘n goeie motor en ‘n slim selfoon. Dit is hopeloos te moeilik en riskant om ‘n produsent te wees.

Die nasionale en provinsiale regerings moes die vinnige verstedelikingsproses verwag het ná die afskaf van instromingsbeheer in 1986 en die ongedaanmaak van die swart tuislande ná 1990 – en daarvoor beplan het. Hulle het nie; en vandag sit ons met meer as 3 000 plakkerskampe in Suid-Afrika waar mense in vuil, gevaarlike krottoestande leef. Plaaslike regering het, met ‘n paar uitsonderings, heeltemal ineengestort.

Dít is die rooi lig wat vir Suid-Afrika flikker, nie soseer die stadige vordering met grondhervorming nie. Ons ervaar byna elke dag ‘n protesaksie êrens in ‘n township of ‘n plakkerskamp in Suid-Afrika en heelwat daarvan gewelddadig. In die afgelope tien jaar is minstens 43 mense wat aan sulke aksies deelgeneem het, deur die polisie doodgeskiet (dit sluit nie die 34 mynwerkers by Marikana in nie). Dít is waar die gevaar vir ons stabiliteit lê, nie soseer in die frustrasie van swartmense wat graag wil gaan boer nie.

Dalk moet ons ‘n bietjie meer simpatie met die ANC-regering hê. Hulle het meer as drie miljoen sogenaamde Hop-huise gebou sedert 1994 en vir miljoene water en elektrisiteit aangelê. Maar hulle kon bloot nie voorbly nie.

Hoe vinniger hulle dienste verskaf en huise bou, hoe vinniger stroom mense uit die plattelandse gebiede die stede binne. Voeg daarby ‘n hele paar miljoen mense wat uit Lesotho, Mosambiek, Zimbabwe en ander Afrika-state oor ons grense gestroom het en ons het ‘n krisis van geweldige proporsies.

Ons kan egter nie die politieke en simboliese kant van grondhervorming weg wens nie. Te veel Suid-Afrikaners glo nog dit is ‘n basiese reg, amper ‘n voorvereiste vir volle burgerskap, om grond te besit. Die landbou word nog nie deur genoeg mense as primêr ‘n ekonomiese aktiwiteit gesien nie.

Ons moet dit probeer verstaan. Die oorgrote meerderheid verstedelikte swart Suid-Afrikaners het nog bande – ouers, grootouers – met die landelike gebiede. Daar is nog ‘n sterk romantiek verbonde aan die geskiedenis voor 1913 toe swart groepe primêr landbouers en grondbesitters was. Dit voel net nie reg vir hulle dat die meeste kommersiële landbougrond nou deur wit produsente besit word nie.

Dit is hoekom die georganiseerde landbou se nuwe inisiatiewe om swart produsente op grond te vestig so belangrik is en met groot energie toegepas moet word. Ordelik en met ‘n klem op ekonomiese lewensvatbaarheid, werkvoorsiening en kosverskaffing.

Dit is in elke produsent se belang en dié van hul en my nageslag, dat hierdie prosesse slaag. Só gaan ons stabiliteit koop.

Publication: January 2015

Section: Relevant