Produksiekoste: Gróót prysstygings in insette op pad

Gepubliseer: 1 September 2021

3372
Petru Fourie,
landbou-ekonoom en navorsingskoördineerder, Graan SA

Met planttyd wat stadig maar seker nader kom, moet daar weer somme gemaak word om die winsgewendheid van somergraangewasse met mekaar te vergelyk. Die ontleding­ van bruto marges is ’n algemene manier om die relatiewe winsgewendheid van graan­gewasse te toon.

Hierdie artikel gee ’n riglyn betreffende die winsgewendheid van mielies teenoor sonneblom en sojabone. Dit is die eerste van twee artikels wat na produksiekoste kyk. In die Oktober-uitgawe word gefokus op die besproeiingsareas.

Kernpunte vir komende seisoen
Duur insette
Heelwat rooi ligte is aan die flikker vir die komende seisoen. Kommer word uitgespreek oor plaaslike kuns­mispryse wat maand tot maand gestyg het tot waar dit tans op rekordhoogtes staan. Daar is boonop rede vir dié kommer, aangesien kunsmis sowat 30% tot 35% van ’n mielieprodusent se veranderlike produksiekoste uitmaak. Indien die gemiddelde styging van kuns­mispryse volgens ’n NPK-verhouding vanaf Augustus 2020 tot Augustus 2021 vergelyk word, het dit met ’n drastiese 65% gestyg! Verdere uitdagings vir graanprodusente behels ’n moontlike tekort aan noodsaaklike insette, soos byvoorbeeld glifosaat – die produsent se vernaamste middel om onkruidbeheer te bestuur.

Goeie kommoditeitspryse
Die Safex-vooruittermynkontrakte vir die verskillende kommoditeite bring egter hoop wanneer daar na die komende seisoen se winsgewendheid gekyk word. Die plaaslike graan- en oliesademark word goed deur die internasionale mark ondersteun weens ’n skerp styging in vraag na grane en oliesade uit China. Verder beleef gedeeltes van die Amerikaanse produksiegebied droë toestande en pryse verhandel tans op relatief hoë vlakke.

Weervoorspelling
Met die oog op die komende seisoen is dit belangrik om te weet wat ten opsigte van reën vir dié seisoen voor­spel word. Weervoorspellers is optimisties oor die komende seisoen nadat bekendgemaak is dat ’n La Niña-patroon besig is om te versterk. ’n La Niña-verskynsel behoort ’n redelik goeie reënvalseisoen oor die somerreënvalgebied tot gevolg te hê. Weens dié waarskynlikheid van goeie reën kan goeie oeste realiseer – wat tradisioneel weer druk op plaaslike pryse plaas. Met internasionale pryse wat plaaslike pryse tans ondersteun, is dit belang­rik dat produsente die internasionale mark fyn dophou om die risiko en geleenthede in die mark te volg wanneer besluite geneem word.

Samestelling van begrotings
Produksiekoste verskil radikaal van buurman tot buur­man weens elke graanprodusent se eie stelsel, die tipe boerdery-eenheid en produksiepraktyke. Elke produsent word aangeraai om sy eie somme te maak en daarvolgens besluite wat die beste vir sy unieke omgewing en situasie is, te neem.

Kommoditeitspryse
Die 2022-Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, is as volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2022 = R3 150/ton
  • Sonneblom vir lewering in Mei 2022 = R8 000/ton
  • Sojabone vir lewering in Mei 2022 = R7 175/ton

Insetpryse
Saad: Volgens Graan SA se berekeninge het mie­liesaadpryse vir van die populêrste kultivars met gemid­deld 5,6% sedert verlede jaar gestyg, terwyl die gemiddeld van al die mieliekultivars ongeveer 3,3% gestyg het. Sonneblomsaadpryse het op ’n gemiddelde basis met 3,7% gestyg, terwyl sojaboonsaadpryse met 2,6% toegeneem het. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is.

Kunsmis: Plaaslike kuns­mis­pryse is tans op rekordvlak­ke vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) en het veral die afgelope paar maande skerp toegeneem. Verskillende aannames word met die opstel van die begrotings gemaak; in die geval van kunsmis (die grootste deel van ’n produsent se veranderlike koste) is ’n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste vir N, P en K bereken en in die begrotings geïnkorporeer. Tydens die same­stelling van die mieliebegrotings is gemiddelde kunsmispryse vanaf Mei tot Augustus vir ’n NPK-verhouding gebruik en het kunsmispryse in die begrotings jaar op jaar gemiddeld met 46% gestyg.

Brandstof: Met die berekening van brandstofkoste is vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel (September 2021, Desember 2021 en Junie 2022). Die toekomstige brandstofprys is uiters moeilik om te bepaal, maar die verwagting is dat brandstof jaar op jaar met sowat 14% sal styg.

Chemie: Die styging in chemiese produkte varieer tussen on­kruid-, insek- en plaagdoders. Die vernaamste verwagte stygings raak onkruiddoders, met insek- en plaagdoders wat minimale ver­anderings toon. Geen kortings is in ag geneem tydens die opstel van die begrotings nie.

Volgens berekeninge word verwag dat die totale veranderlike koste van mielies ’n gemiddelde styging van tussen ongeveer 20% tot 28% jaar op jaar sal hê. Dié beraamde styging sal natuurlik van produsent tot produsent en van streek tot streek verskil, aangesien elke produsent in verskillende periodes aankope doen, hul produksiepraktyke van mekaar verskil en nog vele meer. Aangesien produ­sente prysnemers is, kan hierdie hoër insetkoste nie aan verbruikers deurgegee word nie en moet produsente prysstygings noodge­dwonge absorbeer.

Opbrengs: ’n Ander moeilike faktor om tydens die opstel van begrotings te bepaal, is die opbrengs van die gewas vir die komende jaar as gevolg van die onsekerheid oor klimaatstoestande. Tydens die vergelyking van gewasse se winsgewendheid heers vrae oor watter opbrengsscenario’s vir elke gewas gebruik moet word. As voorbeeld: Indien die produsent ’n gemiddelde opbrengs van 5 t/ha vir mielies sou stroop, wat is die gelyke opbrengs wat hy vir sonneblom of sojabone in dieselfde klimaat en grond sou kon behaal? Kundiges in die bedryf is geraadpleeg met die bepaling van die verskillende gewasse se vergelykende opbrengsscenario’s.

Gewasse: In hierdie artikel word gepoog om ’n aanduiding van die verskil in winsgewendheid tussen die drie vernaamste somergewasse – mielies, sonneblom en sojabone – te illustreer. Die bruto marges vir grondbone en sorghum word ongelukkig nie hier vergelyk nie, aangesien die grootte van die mark vir laasgenoemde twee baie beperk is. Volgens berekeninge blyk graansorghum meer winsgewend as mielies in die meeste omgewings te wees, maar produsente moet daarop let dat sorghum nie sonder ’n kontrak aangeplant moet word nie.

Kostestruktuur van begrotings: Die kostestruktuur van die begrotings bestaan uit veranderlike en vaste koste. Die veranderlike koste sluit byvoorbeeld verskansingskoste en oesversekering in, maar dit kan van die totale koste afgetrek word indien dit nie van toepas­sing is nie. Die vaste of oorhoofse koste is uitgawes wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie. Alhoewel vaste koste wesenlik van produsent tot produsent verskil, word ’n x-bedrag daarvoor voorsien om ’n beraamde totale produksiekoste te bereken.

Produksiekoste-uiteensetting en winsgewendheidsvergelyking
In die artikel word twee tabelle en twee grafieke ten toon gestel. In elk van die tabelle word beraamde produksiekoste (veranderlike sowel as vaste koste) vir die komende produksieseisoen (2021/2022) uiteengesit. Die tabelle en grafieke vergelyk die insetkoste per item, gelykbreekpryse en opbrengste asook bruto marges met mekaar.

Oostelike produksiestreek
In Tabel 1 word die produksiekoste vir die oostelike dele van die land (Oos-Vrystaat en oostelike Hoëveld) uiteengesit. Die produksiekoste van mielies, sonneblom en sojabone met onderskeie op­brengs­mikpunte word vir die Oos-Vrystaat vergelyk, terwyl slegs mie­lies en sojabone in die oostelike Hoëveld vergelyk word. Volgens Graan SA se produksiekosteberekeninge beloop die veranderlike koste om mielies in die Oos-Vrystaat vir ’n 5,0 t/ha-opbrengsmikpunt te pro­duseer ±R11 398/ha, terwyl dit ±R14 135 vir ’n 6,0 t/ha-opbrengsmikpunt in die oostelike Hoëveld is. Die beraamde totale mielie- veranderlike koste vir die 2021/2022-produksieseisoen het sedert verlede seisoen vir die oostelike dele van die land met tussen R1 600/ha en R2 600/ha gestyg – met kunsmis die vernaamste insetkomponent wat die styging teweeggebring het.

Bron: Graan SA

Indien die Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (uitgesluit vaste koste) realiseer, hoef ’n produsent in die Oos-Vrystaat 4,04 t/ha te stroop om gelyk te breek, met ’n produsent in die oostelike Hoëveld wat 4,98 t/ha moet stroop. Wanneer die gelykbreek­opbrengste vir die totale koste (ingesluit vaste koste) bereken word en die koste van ’n mielieprodusent net-net gedek word, raak dit ’n ernstige probleem. Daar is veral bekommernis omdat Safex-pryse op uitsonderlik hoë vlakke is – indien pryse onder druk sou kom, sal dit die winsgewendheid negatief beïnvloed.

Tabel 1 illustreer verder die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone en sonneblom. Gegewe die insetkoste (vaste plus veranderlike koste) soos in Tabel 1 vir sojabone aangetoon en die gemelde Safex-prys, moet ’n opbrengs van ongeveer 1,45 t/ha in die Oos-Vrystaat en 1,65 t/ha in die oostelike Hoëveld behaal word om gelyk te breek. Oliesaadpryse verhandel tans op relatief hoë vlakke wat die winsgewendheidsituasie vir dié gewasse baie gunstig maak.

Grafiek 1 toon die inligting soos geïllustreer en bereken in Tabel 1 in grafiekformaat. In Grafiek 1 word ’n bruto­margevergelyking (blou staaf – slegs veranderlike koste) sowel as ’n netto­margevergelyking (rooi staaf – veranderlike plus vaste koste) tussen dié gewasse getoon. Opsommend toon die grafiek dat somer­graanverbouing in die oostelike dele van die land groten­deels winsgewend is en dat die verwagte hoër kommoditeitspryse vir die komende seisoen winsgewendheid oor die algemeen ondersteun. In die grafiek is dit opmerklik dat sonneblom en sojabone se winsgewendheid beter as dié van mielies is. Alhoewel sonneblom op klein skaal in die Oos-Vrystaat aangeplant word, lyk die wins­gewendheidsprentjie relatief goed. Die winsgewendheid van olie­sade vertoon dus beter as dié van mielies.

Grafiek 1: Margevergelyking tussen gewasse vir die Oos-Vrystaat en die oostelike Hoëveld.

Westelike produksiestreek
In Tabel 2 word beraamde produksiekoste vir die westelike dele van die land (Noordwes en Noordwes- sentrale Vrystaat) uiteengesit, terwyl Grafiek 2 weer eens die margesituasie vir dié dele illustreer.

Bron: Graan SA
Grafiek 2: Margevergelyking tussen gewasse vir die Noordwesprovinsie en die Noordwes- sentrale Vrystaat.

Alhoewel Tabel 2 en Grafiek 2 nie in detail bespreek gaan word nie, is die kernpunt dat sonneblom ’n staatmakergewas vir die Noordwesprovinsie bly, alhoewel die voorkoms van siektes opbrengste erg kan affekteer. Volgens berekening en indien die Safex-pryse realiseer, blyk somergraanverbouing in die westelike dele van die land oor die algemeen relatief winsgewend te wees, uitgesluit wanneer mielies op gronde met marginale opbrengspotensiaal aangeplant word en totale insetkoste (vaste koste plus veranderlike koste) in berekening gebring word.

Slotsom
Die winsgewendheid van enige gewas is ’n funksie van die kommoditeitsprys, opbrengs en produksiekoste: Indien enige van hierdie faktore varieer, verander die winsgewendheid van die bepaalde gewas. Weens kommoditeitspryse wat tydens die skryf van hierdie artikel teen uiters goeie vlakke (ondersteun deur hoë internasio­nale pryse) vir die komende seisoen verhandel, is graan- en oliesadeproduksie oor die algemeen relatief winsgewend. Dit gebeur nie dikwels dat al die pryse van somergraangewasse op relatief hoë vlakke verhandel nie en daar heers groot dankbaarheid vir die beter graan- ekonomiese situasie waarin die bedryf homself bevind. Die geweldige stygings in insetkoste, spesifiek van kunsmis, is wel ’n groot bron van kommer.