March 2016
— Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar
PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain contributor
Die Genade Boerdery van mnr Vickie Bruwer en sy seuns, Gerhard, Hannes en klein Vickie, word in die Douglas- en Hopetown-omgewings bedryf. Tans bedryf elke seun sy eie besproeiingseenheid in die boerdery – waarvoor hy verantwoordelikheid moet aanvaar. Pa Vickie is oorhoofs die bestuurder om die drie jongmanne op hul tone te hou.
Die boerdery produseer hoofsaaklik mielies, koring, katoen, lusern, aartappels, grondbone en ‘n bietjie saadsonneblom. ‘n Groot veevertakking word ook bedryf, waarin hulle self waarde tot hul vee toevoeg. Die plaasvoerkraal gebruik graan afvalprodukte om waarde tot die veekomponent toe te voeg.
Vickie het van ‘n klein begin af konstant gegroei en bedryf tans ‘n baie groot besproeiings- en veeboerdery. Die boerdery het die afgelope paar jaar, soos wat die seuns plaas toe gekom het, met rasse skrede uitgebrei. Volgens Vickie moes daar genoeg werk vir elke seun wees om hom mee besig te hou. Die seuns het elkeen sy eie sterk punte wat gesamentlik aangewend word tot voordeel van die totale besigheid.
Soos ‘n besigheid bedryf
Hierdie boerdery word as ‘n besigheid bedryf. Die bestuur weet waar is die boerdery se sterk en swak punte en spreek dit ook gereeld aan.
Die aanwending van fondse word gereeld ondersoek en daar word seker gemaak dat die rendement op die belegging altyd positief is. Gerhard noem dat vir die boerdery om te bly groei, die moontlikhede vir ‘n wins altyd daar moet wees.
Om dié rede het die Bruwers besef dat die hulpbron en veral die grond die bepalende faktor van sukses is.
Gepraat van sukses: Dit is die grootste dryfveer in hierdie boerdery. Om suksesvol te wees, moet hard en slim gewerk word en hard werk kán die Bruwers. Om slim te werk, raak ook makliker as daar professionele mense van buite die boerdery hul insette lewer. Om hierdie rede is die verteenwoordigers van verskeie insetmiddele ook deel van die bestuur van die besigheid. “As hulle ‘n bydrae kan maak, sal daar altyd plek vir hulle wees.”
Om hierdie boerdery op koers te hou sodat almal saamwerk, is vir seker nie maklik nie. Om drie jong manne se energie só saam te vat dat hul in dieselfde rigting trek, is ‘n reuse prestasie. Dit is hoekom die broers en pa gereeld bymekaarkom om sake te be-spreek en vordering te meet.
Tydens hierdie geleenthede word alle sake, asook probleme, bespreek en dit is wanneer opbouende kritiek die besigheid vorentoe neem.
Die byhou van ‘n swart hardebandboek waarin alle waarnemings aangeteken word, help ook om die herhaling van produksiefoute te voorkom. As daar ‘n fout of iets goeds gesien word, sal dit in die boek aangeteken word.
Met die volgende vergadering sal die waarneming bespreek word en oplossings vir die probleem gevind word. Die Bruwers is ook deel van ‘n jong groep produsente wat inligting met mekaar deel. As daar ‘n vreemde waarneming gemaak word, sal dit vinnig via sosiale media gedeel word.
Grond
Ten einde die saaivertakking se sukses te behou en uit te brei, het Vickie en die seuns besef dat die hulpbronne in staat moet wees om hoë opbrengste te lewer. Dit het hulle genoodsaak om van die laer potensiaal besproeiingsgronde te verruil vir gronde met baie hoër potensiaal lande.
Die Bruwers het uitgegaan en hoë potensiaal grond naby die waterbronne gaan soek, gekoop en ontwikkel. Sommige van die nuwe plase was natuurlike weiding, maar is ná hersonering as saaigrond ontwikkel.
Bome moes verwyder word, die infrastruktuur moes ontwikkel word, spilpunte moes geïnstalleer word en die chemiese regstellings moes gedoen word voordat produksie kon begin. Voor hierdie verandering gedoen kon word, is die gronde chemies en fisies gekarteer. Met die gekarteerde gronde kon die opbrengspotensiaal bepaal word en kon die infrastruktuur daar rondom ontwerp word.
Aanwending van water
Om die water tot by die grond te kry, beteken dat van die water redelik ver en hoog gepomp moet word. Die effektiwiteit van die elektrisiteitsverbruik is verbeter deur seker te maak dat die pompe, pype en behoeftes geoptimaliseer word.
Die aanwending van water het ook nie agterweë gebly nie. Daar is seker gemaak dat die spilpunte en die spilpuntpakkette bymekaar pas om sodoende die water, soos deur die plante benodig, tydig te kan voorsien.
Dit is hoekom die spilpunte heelwat meer water per siklus neersit as wat algemeen gedoen word. Die gronde wat besproei word, het die vermoë om hierdie verhoogde lewering te kan absorbeer en sodoende word die waterafloop beperk.
“In tye as die plant die water nodig het, moet die spilpunte voldoende water tydig kan lewer,” noem Vickie en Gerhard. Ten einde die gemiddelde opbrengs van elke spilpunt te verhoog, is die swak kolle geïdentifiseer. Indien dit versuipkolle is wat die produksie verlaag, is dreineringspype ingesit. Hierdie ge drei neerde water word dan weer so goedkoop moontlik aangewend om die drakrag van die natuurlike veld te verhoog. Die beste hiervan is natuurlik dat die produksie van die spilpunt verhoog word.
Produksiepotensiaal
Die produksiepotensiaal van die saaiboerdery word in stand gehou deurdat die Genade Boerdery deel van die GWK hoëtegnologiepresisieprodusentegroep uitmaak.
Die produksie word saam met ‘n span landboukundiges van GWK beplan, gemonitor en bestuur. Watertoediening word beplan en volgens behoeftes bestuur, bemesting word beplan en deur gereelde blaarmonsters bestuur. Satellietbeelde word gereeld geneem en ontleed om sodoende die produksie sinvol te kan monitor en veranderinge aan te bring.
Na afloop van elke seisoen voorsien GWK aan die boerdery ‘n dokument wat die meeste van die produksie-inligting bevat en wat die boerdery met medeprodusente vergelyk. Hierdie inligting en die swart boek se inligting vorm die basis vir die volgende seisoen se beplanning.
Wisselbou
Wisselbou is ‘n baie belangrike komponent van hierdie boerdery, wat aangewend word om die volhoubaarheid van die boerdery te verseker. Lusern word aangeplant om die gewassiektes onder beheer te kry en te hou.
Sodra die lusern na drie jaar vervang word, lewer die mielies ongelooflike opbrengste. Verder word die mielies ook met katoen, rondbone, aartappels en sonneblom afgewissel. In die winter word koring aangeplant, wat weer met ‘n somergewas opgevolg word. Die beskikbare water bepaal hoeveel gewasse verbou kan word.
Gerhard noem dat hulle alles in hul vermoë doen om effektiwiteit en doeltreffendheid op die plaas te verhoog. Moeite word gedoen om die kritiese take so effektief en doeltreffend moontlik te doen.
Die toediening van water en bemestingstowwe word krities gemonitor en daar word seker gemaak dat die regte bemesting op die regte dele van ‘n land toegedien word. Om goeie produksie te verseker, is tydigheid ‘n vereiste en daarom doen die bestuur alles in hul vermoë om te sorg dat alles op die regte tyd kan gebeur en wel plaasvind.
‘n Goeie voorbeeld is die stroop van koring. Stropers word op ‘n gereelde basis vervang. Die nuwe stroper arriveer voor die koring gestroop moet word en die stroper wat verkoop moet word, sal nadat die koring gestroop is, verkoop word.
Vloeibare bemestingstowwe word gebruik om die gewasse se jaarlikse behoeftes te bevredig. Die mikro-elemente word baie interessant bestuur. Volgens Gerhard word elke mikro-element afsonderlik gemeng en dan deur die spilpunt toegedien. Gereelde grondmonsters word getrek, ontleed en speel ‘n baie belangrike rol in die beplanning van die boerdery.
Wat die bewerking betref, is ‘n direkte plant-planter aangeskaf en die mielies word in 75 cm-rye teen ongeveer 95 000 plante per hektaar geplant. Die grondbone word in 30 cm-rye geplant en die planter plant net genoeg rye om by die uithalers te pas.
Die las-ry van die grondbone is ook ‘n bietjie wyer as die ander rye. Die grond word voor die koringoes geplant word, ongeveer 500 mm diep met ‘n tandimplement bewerk. Na die koring word die lande net so met ‘n direkte plant-planter geplant. Die grond word egter voor die grondboonaanplanting goed bewerk sodat die meeste stoppels onder die grond ingewerk word.
Winsgewendheid
Om volhoubaar te bly voortbestaan, is winsgewendheid ‘n vereiste. Om net te produseer, sal nie noodwendig die skip op die water hou nie. Prysbestuur is daarom van kardinale belang. Die boerdery doen moeite om die gelykbreekprys vir die komende seisoen te bereken en dié prys vorm die basis vanwaar die pryse bestuur word.
Ten einde gelukkig te wees, moet jy jou passie uitleef, aldus Vickie. “Daar moet gereeld vir jou tyd wees om te droom en daardie droom moet jy aktief najaag. Dit is ook belangrik dat jou ingesteldheid by jou menswees pas. Jy is ‘n rentmeester met ‘n verantwoordelikheid teenoor die Skepper, jou gesin en jou werkers. So, doen alles voluit en as jy kan 110%. Pasop om te stagneer. Bly aktief groei en streef daarna om alles beter te doen,” sluit Vickie af.
Vir enige navrae oor hierdie artikel kan Vickie Bruwer by 082 896 0418 of Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.
Publication: March 2016
Section: On farm level