NAMPO Kaap: landbou is die wenner

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 3 November 2022

670

Te midde van welkome graanproduksiereëns asook heerlike sonskyndae was NAMPO Kaap 2022 op Bredasdorp ’n betekenisvolle sukses. Met 32 640 besoekers en 550 uitstallers oor die verloop van vier dae vanaf 14 tot 17 September kon die landbouskouspel in die Overberg ’n sleutelbydrae maak tot die bevordering van landbou se beeld as kosvoorsiener, werkskepper en rentmeester in die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Volgens die voorsitter van NAMPO Kaap en Bredasdorp Park NPC, Henk Aggenbach, is besoekers, besighede, uitstal­lers, die restaurant-, bistro- en stalletjie-houers asook instansies wat die geleentheid gebruik het om hul werksaamhede te bevorder, almal gelukkig met die afloop van vanjaar se Wes-Kaapse toonvenster van die landbou.

“Ons het nagenoeg 20 000 mense op Bredasdorp Park verwag en ons ekspo-uitgawes en verwagte inkomste was daarop gegrond. Dit was egter lekker dat ons boere en plaaspersoneel vir seker die Donderdag en Vrydag gekies het om na nuwe produkte en dienste te kom kyk en in die gees van NAMPO Kaap te kom bladskud en gesig wys.”

Volgens hom was die meer as 400 spog-Merino’s wat vir die BKB Merino Classic 2022 ingeskryf en in die nuwe BKB-veesentrum beoordeel is, ’n groot trekpleister. Die geleentheid is gekenmerk deur uitnemende reëlings, waarmee die plaaslike Merino-ikoon, Frederick Neethling, aanvanklik die leiding geneem het. Op die oggend van die opening van NAMPO Kaap se hekke is hy egter in die plaaslike hospitaal oorlede, nadat hy maande vroeër siek geword het.

Pierre Vlok van BKB het hom gehuldig en aan telers en medeboere gesê: “Frederick Neethling was in sy wese lief vir ’n Merino en vir alles rondom dit. Veral ook vir skou, waaraan hy baie deelgeneem en ook beoordeel het. Hierdie skou op Bredasdorp was sy breinkind en daarom wil ons die Merino Classic 2022 aan hom opdra. ‘Death leaves a heartache no one can heal. Love leaves a memory no one can steal.’”

Merino SA se bestuurder, Willie van Heerden, het die deel­nemers en beoordelaars bedank. “Ons kan nie sonder ons vashouers skou nie en bedank daarom vir Charlie Pieterse (Uitkyk), Hendrik Kouta (Goedeverwagte), Angus Geduld en Johan Kotze (Korhaanrus), Stanley Yokanie en Vamber Lodewyk (Grootaar), Christen Diederiks en Nigel Africa (Korenhof), Pieter Potgieter, Jonathan Johansen en JW Schutte (Oakdale) en hul sameroeper, Anne-Mari Kotzé.”

Toit Wessels, assistentbestuurder: NAMPO en Bemarking by Graan SA, sê die eerste aanbieding van NAMPO Kaap op ’n Saterdag was geslaagd. “Op die Saterdag is meer as 7 000 mense tussen 08:00 en 14:00 deur die hekke. Ons sal met die uitstallers beraadslaag en saam besluit of dit die besigheid werd is om NAMPO Kaap aanstaande jaar weer oor vier dae aan te bied.”

Volgens Wessels is die terugvoering van uitstallers oor die gehalte van besoekers en die sake wat gedoen is tot dusver baie gunstig. “Almal is uiters dankbaar dat NAMPO Kaap vir die eerste keer sedert 2019 plaasgevind het en uitstallers het definitief baat gevind by die fisiese aanbieding van dié jaarlikse skou.”

Saterdag se hoogtepunt was die Overberg-jeugskou in die BKB-veesentrum. Vir hierdie nasionale uitdunronde is ’n rekordgetal van 176 inskrywings in 14 klasse ontvang.

Van die ander hoogtepunte het ingesluit die groot aantal hoëvlaktoerusting en vordering met presisielandbou, meganisasie, tegnologie, kultivarinligting, onkruid- en plaagbestuurmiddels, vrugte- en druiwe-insetverskaffing, veehanteringstoerusting asook die daaglikse aktuele landbou- en veral graan- en plattelandse Nasie in Gesprek-paneelbesprekings. Dan was daar ook die leersame NAMPO Kaap-skoleprogram, die Engen 4×4-demonstra­siebaan, ’n boeiende en leersame vroueprogram, wêreldklasblommerangskikkings, die Elim-fynbostentoonstelling in die Shell-saal, die grondlose landbou-opsies met vertikale landbou asook NAMPO Skoonheid, ’n NAMPO-nuutjie vir die vroue waaroor Aggenbach en sy span besonder opgewonde is. Lees meer oor NAMPO Skoonheid by sagrainmag.co.za.

“Hierdie geleentheid vir dames om met masserings asook haar-, vel- en naelversorging gepamperlang te word terwyl die manne die Merino Classic, Nasie in Gesprek, saadpersele, die Landbouweekblad Omnia-boereplanne of sommer die groot ysters of taai viertrekvoertuie geniet, was ’n klinkende sukses,” sê hy. Agt gekeurde plaaslike terapeute het deelgeneem.

NAMPO Kaap 2023 word tans vir Woensdag 13 September tot Saterdag 16 September beplan. Vir uitstallers open aansoeke op 1 Februarie 2023. Aansoekvorms en inligting sal beskikbaar wees by www.nampo.co.za en www.nampokaap.co.za.

Dié twee vriende en plaaswerkers uit die Caledon-omgewing het NAMPO Kaap vanjaar uiters leersaam gevind. Volgens Ignatius Jacobus (links) en Gershwin Pitcher, beide van Remkuilplaas, is die nuutste trekkers en werktuie van internasionale en plaaslike vervaardigers van groot nut om die werk op saaiplase te vergemaklik.
Die nuwe 100 t/h-John Deere X9-stroper was vanjaar ’n reuse-aantrekkings­krag by die NAMPO Kaap-meganisasietoonvenster. Die nuwe X-reeks lewer ’n gemiddeld van 45% meer oeskapasiteit, met 20% minder brandstof in alle gewassoorte, sonder om graangehalte in te boet. Vir klein en groot was dit ’n gulde geleentheid om die groot yster van nader te bekyk.
In die Graan SA-, NWKV- en RPO-ledelokaal is ou kennisse gegroet, nuwe ontmoetings het plaasgevind en daar is heerlik saamgesels oor die vreugdes en uitdagings van die landbousektor. Vanjaar het besoekers aan NAMPO Kaap weer van die noordelike en aangrensende provinsies ook gekom. Hier ontspan Joseph Swanepoel (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 8), Rossouw Swart (hoofbestuurslid vir Streek 32), André Kirsten (hoofbestuurslid vir Streek 26), Carin Swanepoel en Cecilia van Reenen.
Hidroponika is ’n metode om plante te laat groei sonder grond, met behulp van minerale voedingstowwe opgelos in water. Tydens NAMPO Kaap 2022 het dr Ian Goldie (projekkoördineerder van Two Oceans Projects and Services) wat Bredasdorp Grondlose Boerdery bedryf, Tamlyn Witbooi (gewasbestuurder) en Andries Visser (toesighouer) besoekers verwelkom. Lees meer oor die uitstalling by sagrainmag.co.za.

Ons het by dié uitstallers ingeloer…

Die dinamiese bestuurs- en opleidingspan van Stihl in die Wes-Kaap het saam met hul plaaslike handelsmerkvennoot in die Overberg, JD Implemente, ingespring om die funksionele doeltreffendheid van die jongste Stihl-produkreeks prakties te demonstreer tydens NAMPO Kaap. Hier is Divan Smith (streekbestuurder, Stihl Wes-Kaap), Louis Brooks (JDI Stihl-groepbestuurder) en Katlego Dichabe (verkope- en tegniese opleier, Stihl).
Die Case NH- en Case CE-span het vanjaar nie gras onder hulle voete laat groei tydens NAMPO Kaap nie. In die dinamiese wêreld van presisieboer­dery en tegnologie-ontwikkeling het dié markleier se uitstalling van die allernuutste produkte uit hul stal nie net boereharte gesteel nie, maar ook kopers van oor die land oortuig om hulle hande diep in hul sakke te steek vir graanproduksiebeleggings in wêreldklastegnologie. Hier spog die hele NAMPO Kaap Case-familie met hul nuutste tegnologie.
Talking about the latest seed science at NAMPO Cape 2022 were from left Christo Carstens (SSK field technician), Christin Hunter (Marketing Communications manager, Pannar Seed), Jannie de Bruyn (Pannar sales representative: Southern Cape and Namibia) and Desmond Hayes (SSK field technician).
Producers have been updated with the latest fertiliser developments and production solutions at the Yara Africa exhibition at NAMPO Cape 2022. Here are some interested customers and Yara specialists: Khanya Matolengwe and Siyabonga Mqadi, both from Caledon, Albert Niemand (sales agent for the Southern Cape), Chrisna Heuer (marketing manager) and Lazola Vuza from Helderstroom.
Die saadwetenskaplike kenners van Sensako/Syngenta het produsente en waardekettingrolspelers oor die nuutste aangepaste graansaadkultivars en hul bevindinge daarmee ingelig. Hier is Wessel Germishuizen (rekeningbestuurder), Pieter Marais van Groot Brakrivier, Sanet Germishuizen, (Sensako/Syngenta-invoerbeampte), Marizanne Horn (merker- en biotegnologiespesialis), Gideon Marais van Boggomsbaai en Kobus Venter (tegniese veldkoördineerder, Seedcare).
Shell South Africa remains a vital energy and lubricant supplier involved in sustainable agricultural solutions nationwide. As the main sponsor of the Shell hall at NAMPO Cape, the agricultural contingent of Shell was represented by Lucky Magakwe, Mpho ‘Blu’ Mofokeng and Hein Venter. At the back are Tshepiso Sebothoma, Francois Costa and Riaan van der Walt.
Sharing the latest development in agricultural, forestry and gardening equipment with visitors at the NAMPO Cape showcase were Divan Vermaak (business development field manager), Mark Penderson (key account manager: construction), Kobus Lloyd (dealer: Robertson – Kubota Route 62), Lizelle Lloyd, Charles Henderson (business development tree professional), Larry Morris (area manager: Western Cape), JC Serfontein (area manager: Free State and Northern Cape/business development: light agriculture).
As a leader in the agricultural fuel and oils industry, Total Energies South Africa confirmed their commitment to sustainable agriculture by sharing key product information and running an interactive family programme to optimise energy awareness. At their stand in the Total Energies hall were Junior Mahlonoko (Total), Alicia Kemp with her sons Albertus and André from Baardskeerdersbos, as well as Louis Mostert, Willie Coetzer, Thebogo Nkuna, Ingrid Wiesner, Nivishka Naidoo and Kabelo Moloi, all representing Total Energies.
Met baie jare se ervaring is Speck Pumps ’n Suid-Afrikaanse en internasionale leier in die vervaardiging van spesialisswembadpompe, -filtreerders en -bykomstighede. Tydens NAMPO Kaap kon besoekers meer te wete kom oor hul reeks wêreldklaspompe. Hier is Amor Strauss (verkoopsbestuurder), Willem du Plessis, ’n belangstellende van Pretoria en Deon Venter (Wes-Kaapse verteenwoordiger).
Met ’n naam wat voortspruit uit die historiese betekenis van die woord ‘algar’, wat almal beteken, het die Algar-veehanteringtoerustingspan hul jongste deurbrake met drukgangtoerusting wat veilig en maklik is om te gebruik en in stand te hou, tentoongestel. Produsente kon meer leer en praktiese demonstrasies van onder meer hierdie verskuifbare drukgang sien. Hier is Charlotte Esterhuizen (bemarker en CNC-operateur) en Johnathan Toxopeus (verkoopsagent).
SEM Solutions fokus op die ontwerp van stelsels wat meganiese en elektriese ingenieursoplossings bied. Hulle werk is innoverend en kostedoeltreffend om die duursaamheid en volhoubaarheid van projekte te prioritiseer. SEM word besit en bestuur deur ervare ingenieurs wat goed deurdinkte oplossings van hoë gehalte verseker. Hier staan Menno Sulters (SEM), Alwyn Tredoux, Josh Landsberg en Sybrie de Beer, belangstellendes van Clanwilliam, saam met David Vermaak (SEM-verkoopsingenieur).
Die wintergraansaad-proefpersele van Sensako/Syngenta het weer vanjaar ’n toestroming van belangstellende produsente beleef. Produsente kon die nuutste koringkultivars en ander wintergraangewasse van nader bekyk en oor proefresultate gesels. Gerhard Greeff en Carel le Roux, beide van Caledon, gesels hier met Jannie Rall (veldwetenskaplike), Driecus Lesch (Wes-Kaapse koringteler) en Henk du Plessis (tegniese veldwetenskaplike).
Suid-Afrikaanse viertrekentoesiaste kon by NAMPO Kaap kennis maak met die wêreldklasveldvoertuigonderdelespe­sialis, Don Kyatt Onderdele, se Suid-Afrikaanse verteenwoordiger in die Overberg en Wes-Kaap, Terrain Tamer. Don Kyatt Onderdele is in 1969 in Australië ge­stig om voertuigeienaars wat dié ongetemde paaie aangepak het, by te staan. By NAMPO Kaap was Terrain Tamer se takbestuurder, Marinus Potgieter (regs) gereed om Johannes de Villiers van Grootzoe Boerdery by Protem tot diens te wees.
State-of-the-art farm and infrastructure security and camera surveillance have been introduced to producers and used by the organisers of NAMPO Cape 2022 to demonstrate the efficiency of world-class preventative safety equipment. Dahua Technology joined forces with Eagle Security and Bredasdorp Park to secure a safe event at the venue. At the Dahua Technology and IDS stand were Lieb Venter, Anneri Carstens, Henk Aggenbach, Ziang Kong, Wesley Hendrick, Junaid Coetzee and Jacques Rooi.
Omnia Kunsmis is nie net nasionaal ’n leier nie, maar ook ’n dinamiese bydraer tot optimale landbouproduksie in die Wes-Kaapse Swartland en Overberg. Produsente kon tydens NAMPO Kaap kennis maak met veld- en laboratoriumwetenskaplikes wat die allernuutste bemestingkennis oor doelgerigte proefaanplantings en bevindings met produ­sente gedeel het. Hier is David Fouche, Daniel Pieters, Dirk en Kosie van Zyl (Adico, Napier), Ruduaan Marcus (Amakawe), dr Izané Crous en Juanita Steenkamp (landboukundige, Omnia).
Vir die Du Randt-familie het getrouheid aan hul droom, hul fokus op ’n groeistrategie en doelgerigte markontwikkeling gelei tot die dinamiese groei van Dura Equipment. Vanjaar was hul kleurvolle tentoonstelling van die kragtige Chinese Lovol-konstruksiereeks ’n hoogtepunt by NAMPO Kaap 2022. Hier staan Ernst Human (hoofbestuurder: Johannesburg), Gerrie du Randt (direkteur), Bennie du Randt (direkteur), Willie du Randt (direkteur) en Gerrie du Randt (hoofbestuurder: Kaapstad).
Die New Holland-tentoonstelling het groot belangstelling gelok en gesorg dat nie net produsente die allerjongste meganisasie- en presisiewerktuie uit hul trekker- en werktuigreeks van nader kon sien, voel en ervaar nie. Hier maak van die landboubedryfsleiers van die toekoms van nader kennis met die nuutste toevoeging tot die mooi ysters: Bredasdorpers Craig O’Kennedy, Michael Keyter, Neil O’Kennedy, Janco Erasmus saam met Wim Farmer (Agrimark Meganisasie).
New Holland is trots op hul leidende rol in die mededingende wêreld van presisiegraanproduksie-ontwikkeling. Binnekort vertrek een van die maatskappy se presisieboerderyspesialiste, Jako Cronjé van New Holland op Bothaville, en sy gesin Australië toe om meer te gaan leer en die nuutste vanuit Suid-Afrika met kollegas en kliënte daar te gaan deel. By die New Holland T8.410 4WD staan Jako saam met Gawie Erasmus (Agrimark Meganisasie, Bredasdorp) en John Gillmore (bestuurder: Agrimark Meganisasie vir die Overbergstreek).