July 2018

CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA

In 2017 is weer ‘n volledige kunsmiskwaliteitmoniteringsprojek van stapel gestuur. Dié projek is in samewerking met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF), Fertasa, die Sasol Landboutrust en Graan SA gedoen.

Die samewerking en die gees waarin hierdie projek plaasgevind het, is beslis iets om op trots te wees en kan gebruik word as voorbeeld vir ander vennootskappe wat tussen die privaat sektor en die regering gesluit kan word.

Die doel van hierdie projek was om vas te stel of kunsmis- en kalkkwaliteit aan die regulasies van die kunsmiswet (Wet 36 van 1947) voldoen.

Nadat inspekteurs van DAFF opgelei is, is kunsmismonsters van 24 verskillende kunsmismaatskappye geneem. Vir die eerste keer is daar ook kunsmis deur middel van hierdie program in die Wes-Kaap ontleed. Altesaam 37 kunsmismonsters is in die winterreënvalgebied en 97 in die somerreënvalgebied getrek. Nege kalkbronne is ook in die somerreënvalgebied ontleed.

In totaal is 134 kunsmisprodukte van Fertasa en nie-Fertasa lede gemonster. Hiervan het 27 (of 20%) ‘n tekort aan een of meer voedingstof getoon.

  • Slegs vyf (of 4%) van die 132 stikstofbevattende bemestingstowwe het tekorte getoon.
  • 115 produkte het fosfor bevat, waarvan vyf (of 4%) ‘n tekort getoon het.
  • Drie (of 4%) van die 84 kaliumbevattende bemestingstowwe was gebrekkig.
  • 80 kunsmisprodukte het swael bevat, waarvan ses (of 8%) ‘n tekort getoon het.
  • 74 kunsmisprodukte het sink bevat, waarvan elf (of 15%) ‘n tekort getoon het.
  • 16 mengsels het boor bevat waarvan drie gebrekkig was.
  • Nege kunsmismengsels het kalsium bevat, drie koper, drie mangaan, een molibdeen en drie magnesium. Al hierdie elemente is in aanvaarbare hoeveelhede getoets.

Ses dolomitiese en drie kalsitiese kalke, almal vanuit verskillende kalkbronne, is ontleed. Nie een van die nege kalke het aan die vereiste dat 100% van die deeltjies deur ‘n 1,7 mm-sif moet kan gaan, voldoen nie. Al die kalke het egter aan die vereiste dat 50% van die deeltjies deur ‘n 0,25 mm sif moet kan gaan, voldoen. Met net een uitsondering, het al die kalkbronne aan die ander vereistes voldoen. Een kalk het ‘n kalsiumkarbonaat-ekwivalent onder die vereiste drumpel van 70% getoon.

Tabel 1 toon ‘n opsomming van die hoeveelheid kunsmisprodukte wat gemonster is, die hoeveelheid wat een of meer tekort getoon het en die hoeveelheid kunsmismaatskappye wat in die winter- en somerproduksiegebiede betrokke was.

Vyf kunsmisprodukte (14%) van die winterreënvalgebied het tekorte getoon. Vier van hierdie produkte was gebrekkig in net een voedingstof, terwyl een kunsmis twee tekorte gehad het. Van die 22 (23%) wat in die somerreënvalgebied uit (verkeerd) getoets het, het 14 ‘n tekort aan een voedingstof, sewe aan twee voedingstowwe en een aan vier voedingstowwe en/of totale voedingstofinhoud gehad.

Om die 2017-kunsmiskwaliteitsresultate in perspektief te stel, is dit belangrik om daarvan kennis te neem dat die resultate van N, P en K uitstekend was. Die voedingstowwe wat die resultate effe skeefgetrek het, was swael, maar veral sink.

Dié 2017-projek sou beslis nie ‘n sukses gewees het as dit nie vir die goeie samewerking tussen Fertasa, DAFF, die Sasol Landboutrust, Graan SA, asook mnr William Deale en dr André Nel (kontrakteurs) was nie. Omnia word ook bedank vir die finansiële ondersteuning van hul kant af om die projek vir die eerste jaar van die grond af te kry en vir die beskikbaarstelling vir hul laboratorium teen kosprys.

In 2018 gaan hierdie projek in volle swang voort. Indien produsente aan die projek wil deelneem, kan hulle Graan SA kontak.

Publication: July 2018

Section: Focus on