Mentorskap kan jou lewe verander

Pietman Botha, SA Graan/Grain medewerker en
Liana Stroebel, ontwikkelingskoördineerder: Wes-Kaap, Graan SA

1541

Grondhervorming is ’n realiteit. Daar is baie nuwe, onopgeleide boere wat boer en wat die raad, leiding en ondersteuning van ’n mentor nodig het. Dit is waar dat dit ’n uitdagende taak mag wees om as mentor vir hierdie nuwe toetreders tot die landbou op te tree, maar dit hoef nie so te wees nie.

Die vereistes wat aan ’n mentor en produsent gestel word, is hoog, maar die rendement op hierdie werk is nog hoër. Mentorskap bring ’n ander mate van doel en sin in ’n mens se lewe en kan baie bevredigend wees.

Onbaatsugtige deernis
Dit is verseker nie elke persoon wat vir hierdie taak uitgeknip is nie. Mentorskap kan vergelyk word met die beginsel van ouerskap. Om ’n ouer te wees, verg onbaatsugtige deernis, liefde, geduld en dat jy jou kind bystaan, ondersteun en op die regte pad lei. Daar is tog niks so vervullend soos om jou kind te sien presteer en op sy eie bene staan nie. Mentorskap is ’n hartstaak wat baie van ’n persoon vereis.

Mentors is persone wat ’n positiewe uitkyk op die lewe moet hê en wat bereid moet wees om hierdie uitkyk uit te leef. Dit beteken daar word aan hierdie persoon die vereiste gestel om ten alle tye met integriteit, respek en wysheid op te tree. Vriendelikheid en die bereidwilligheid om mense te help, is voorvereistes.

Kommunikasie
Kommunikasie is die brug tussen partye. Die mentor moet ’n besonder goeie kommunikeerder wees. Elke kliënt is uniek met sy/haar eie persoonlikheid asook sterk- en swakpunte. Dit is uiters belangrik dat ’n mentor die taal en kultuur van die kliënt ken en verstaan, want begrippe asook die erns van sekere praktyke kan verlore gaan indien dit nie ten volle verstaan word nie. Die kliënt se agtergrond, vermoëns en hulpbronne moet ook in ag geneem word. Onthou, ’n produsent moet werk met wat hy/sy het en die beste daarvan maak.

Daar vorm ’n besondere band tussen mentors en hul kliënte. Hulle raak vriende en enige saak kan tussen hulle gedeel word. Van mentors word verwag om altyd kliënte se privaatheid te respekteer – hulle moet die persoonlike sake wat met hulle gedeel word as privaat beskou en mag dit slegs met die kliënt se medewete met kundiges deel. Die kliënte moet besef en weet dat die mentors ten alle (redelike) tye beskikbaar is, al is dit slegs vir telefoniese raad en leiding.

Deursettingsvermoë
Om mense te oortuig om praktyke bykans oornag te verander, is ’n taak wat baie vereis. Mentors se deursettingsvermoë word op ’n gereelde basis getoets. As kliënte anders besluit en anders doen as wat ooreengekom is, kan dit moeilik raak. Indien die optrede tot skade aanleiding gee, moet die mentor met selfbeheersing en geduld optree.

Praktiese ervaring van boerdery en boerderyvertakkings is baie belangrik vir die mentor en sy kliënt. Die kliënt sal opkyk na die mentor vir hulp en raad – dit is hier waar die kennis tussen die mentor en die kliënt uitgeruil moet word. Die mentor moet die kliënt help en lei om die regte ding reg te doen en sodoende die kliënt se kennis uit te bou.

Uitdagings en bestuur
Uitdagings en die bestuur daarvan is deel van elke mentor se daaglikse take. Boerdery is nou maar eenmaal so – daar moet heeltyd oplossings gevind word, wat dikwels verg dat mentors onbaatsugtig moet optree. Dit het al in die verlede gebeur dat mentors van hul eie hulpbronne aangewend het om die groter taak te verrig – wat baie bewonderenswaardig is – maar dit kan oor die lang termyn probleme veroorsaak.

Soms is dit belangrik om, soos met ’n kind, die kliënt te los om foute te maak. Mentors moet oor die wysheid beskik om te weet wanneer om die kliënt te stop voordat daar te veel skade aangerig is. Daar moet ten alle tye onthou word dat die kliënt die finale keuse moet maak. Per slot van rekening is dit hy/sy wat die finale aanspreeklikheid het. As daar skuld terugbetaal moet word, is dit die kliënt se verantwoordelikheid.

Vertroue
Vir ’n projek om te slaag, is dit belangrik dat alle partye mekaar moet vertrou en mekaar se belange op die hart moet dra. Die projek moet tot alle partye se voordeel wees en almal moet dit besef en respekteer. Die mentor moet kan raaksien wanneer die kliënt nie volgens die reëls werk nie en daar moet dan daadwerklik teen hom/haar opgetree word.

In dieselfde asem is dit ook belangrik dat mentors gemonitor word om te verseker dat die kliënt se belange altyd vooropgestel word. Daar is al in die verlede van nuwe boere misbruik gemaak waar hulle op die verkeerde pad gelei is. Dit is ook nie aanvaarbaar nie. Professionele en etiese optrede deur beide partye is van uiterste belang.

Die projek se doelwitte moet in totaliteit deur alle partye verstaan en nagejaag word. Met dieselfde doelwitte voor oë kan die partye baie probleme die hoof bied. Daar moet ook ooreengekom word wanneer die kliënt se opleiding en mentorskap beëindig moet word en wanneer hy/sy op hul eie voete moet staan. Die kliënt moet besef dat hy moet leer om op sy eie te kan aangaan.

Beplanning
’n Totale beplanning (finansieel, tegnies en opleiding ingesluit) moet aan die begin van die mentorproses opgestel word. Dit is baie belangrik dat albei partye saam die beplanning moet opstel en dat die doelwitte duidelik binne hierdie sessies uiteengesit moet word.

Daar moet oor die implementering van aksies ooreengestem word en die verantwoordelikheid hiervoor moet uitgeklaar word. Dit help nie as alle take op die lang termyn deur kontrakteurs gedoen word nie. Daar moet besef word dat die mentor die kliënt op ’n opleidingspad moet lei en dat laasgenoemde binne ’n sekere tyd ’n volwaardige selfstandige produsent kan word – hetsy op 1 ha of op 1 000 ha.

Tydigheid van aksies en die belangrikheid daarvan geld vir die opkomende boer net soos vir die kommersiële produsent. Die seisoen is ewe lank vir albei en daarom is dit van kardinale belang dat die mentor die kliënt moet help om alles binne die ideale tyd gedoen te kry. Kontrole van wat gedoen moet word en wanneer dit gedoen moet word, is ’n integrale taak vir die mentor.

Rekordhouding
Met rekords van die geskiedenis kan die toekoms voorspel word. Dit geld ook hier, daarom moet die mentor die kliënt leer om die nodige rekords in stand te hou en sin uit hierdie rekords te maak. Boerdery gaan nie net oor die fisiese werk nie, maar ook oor die keuse van strategieë en die implementering daarvan.

Die kuns is egter om te besluit watter strategie die beste sal werk – dit is hier waar beplanning ’n baie belangrike rol moet speel. Gegewe die strategie wat gekies is, moet daar lang- en korttermyndoelwitte gestel word. Hierdie doelwitte moet op tyd gemeet word om die vordering te kan bepaal en om reaktiewe planne in plek te plaas. Hierdie strategieë moet ook in begrotings omgesit word, sodat die finansiële implikasies bekend kan wees.

Kliënte moet die belangrikheid van begrotings verstaan en dit implementeer met die doel om die winste van die besigheid te verhoog. Kliënte moet vir hulself doelwitte daarstel en dit najaag sodat hulle die voordele daarvan self kan ervaar.

Netwerk
Nog ’n belangrike aspek van mentorskap is om ’n nuwe boer oor tyd met die bedryf in kontak te bring. Net soos ’n kommersiële produsent het hierdie boere ook betroubare insetverskaffers nodig wat hulle op ’n gereelde en etiese wyse kan diens. Hierdie verhoudings moet gebou word sodat die nuwe produsent ’n sterk ondersteuningstelsel het wanneer die mentorskap tot ’n einde kom.

Persone wat al hierdie pad gestap het, getuig dat mentorskap hulle lewens en uitkyk op die lewe totaal en al verander het. Produsente wat graag ’n verskil in hul gemeenskappe wil maak en bereid is om ’n ontwikkelende boer in hul area aan die hand te vat, is welkom om vir Graan SA of ander rolspelers in hul gebied te kontak.