Mieliemeel bly die goedkoopste stapelvoedsel

Gepubliseer: 4 Oktober 2021

69
Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

08/09/2021

Die graan- en oliesadebedryf speel ’n belangrike rol in die versekering van voedselsekerheid in Suid-Afrika. Graan- en graangebaseerde produkte maak meer as 70% van die basiese voedselmandjie uit wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) gebruik om die verbruikersprysindeks (VPI) te meet.

Dit plaas die fokus opnuut op die belangrikheid van hierdie bedrywe, nie net om voedsel aan die land te voorsien nie, maar ook wat die bekostigbaarheid van die voedsel betref. ’n Uiters groot gedeelte van landsburgers is afhanklik van ’n styselgebaseerde dieet, wat hoofsaaklik bestaan uit produkte soos mieliemeel, aartappels en rys asook koringprodukte soos brood en broodmeel.

Styselgebaseerde produkte
SSA hou op ’n maandelikse basis die pryse van verskillende voedselprodukte by vir die berekening van die VPI. Dit is winkelrakpryse van die verskillende produkte wat ingesamel word om die VPI te bereken. Van die algemeenste styselgebaseerde produkte wat beskou word as kompeterende produkte is onder meer rys, brood, broodmeel, mieliemeel, aartappels en patats. Hierdie produkte maak ’n groot deel uit van verbruikers wat afhanklik is van ’n styselgebaseerde dieet, se kosmandjie.

Grafiek 1 toon die maandelikse winkelrakprysvergelykings van die verskillende produkte op ’n per kilogram-basis. Aangesien die verskillende produkte in verskillende verpakkings en groottes verpak word, is die pryse in Grafiek 1 verwerk na ’n per kilogram-basis ten einde dit te vergelyk. Dit is duidelik dat mieliemeel op ’n per kilogram-basis die goedkoopste bron van voedsel van die verskillende styselgebaseerde produkte is. Tans is witbrood die duurste op ’n per kilogram-basis, gevolg deur rys en bruinbrood. Die prys van patats op ’n per kilogram-basis het sedert die begin van 2021 skerp onder druk gekom, terwyl die pryse van aartappels en broodmeel min of meer in lyn is.

Grafiek 1: Maandelikse gemiddelde winkelrakpryse van verskillende styselprodukte sedert Januarie 2017 (R/kg).
Bron: Statistiek SA
*Notas:
1. Alle pryse is verwerk na ’n R/kg-basis.
2. Per kilogram-pryse kan verskil afhangende van grootte van verpakking. Groter verpakkings is gewoonlik goedkoper per kilogram as kleiner verpakkings.
3. Pryse is slegs op R/kg-basis vergelyk en geen spesifieke voedingswaarde per porsie is in ag geneem met vergelykings nie.

Proteïengebaseerde produkte
SSA hou ook die pryse van verskeie proteïengebaseerde produkte by en Grafiek 2 toon van die vernaamste proteïenprodukte wat in diëte ingesluit word. Dit is duidelik dat individuele gevriesde hoenderstukke tans op ’n per kilogram-basis een van die goedkoopste proteïenbronne is. Gevriesde stokvis (hake) en beesbiefstuk is op die oomblik van die duurste proteïenbronne onder dié wat op ’n maandelikse basis deur SSA bygehou word. Ander produkte wat in Grafiek 2 aangetoon word, sluit maalvleis, T-been asook grondboontjiebotter in. Alhoewel grondbone deel uitmaak van die oliesade waaronder sonneblomsaad, sojabone en kanola val, is dit ’n goeie proteïenbron wat in diëte ingesluit word.

Grafiek 2: Maandelikse gemiddelde winkelrakpryse van verskillende proteïenprodukte sedert Januarie 2017 (R/kg).
Bron: Statistiek SA
*Notas:
1. Alle pryse is verwerk na R/kg-basis.
2. Per kilogram-pryse kan verskil afhangende van grootte van verpakking. Groter verpakkings is gewoonlik
goedkoper per kilogram as kleiner verpakkings.
3. Pryse is slegs op R/kg-basis vergelyk en geen spesifieke voedingswaarde per porsie is in ag geneem met vergelykings nie.

Kommoditeitspryse
Mielies is nie net ’n stapelbron van voedsel vir mense nie (in die vorm van mieliemeel), maar ook ’n belangrike veevoerbron. Die mielieprys het dus ’n groot impak op Suid-Afrikaanse voedselpryse aangesien dit direk in die menslikevoedselmark en indirek deur veevoer in die voedselpryse na vore kom. Alhoewel plaaslike mieliepryse hierdie seisoen tot R1 000/ton hoër verhandel het as die vorige seisoen, is dié pryse steeds teen die goedkoopste moontlike vlakke.

Die plaaslike mieliemark is in ’n surplussituasie, wat beteken dat die mark teen uitvoerpariteit verhandel – wat aan die laer kant van die plaaslike prysband is. Dit kom neer daarop dat Suid-Afrika tans nêrens in die wêreld goedko­per mielies sal kry as wat plaaslik geproduseer word nie. Grafiek 3 toon die daag­likse plaaslike wit- en geelmieliepryse teenoor die Argentynse pariteitspryse aan. Dit toon dat indien Suid-Afrika mielies van Argentinië, wat tans een van die goedkoopste oorspronge is, sou invoer, dit ongeveer R4 600/ton behoort te kos. Dit is R1 600/ton meer as die huidige Suid-Afrikaanse mielieprys.

Grafiek 3: Daaglikse Suid-Afrikaanse wit- en geelmieliepryse teenoor Argentynse in- en uitvoerpariteitspryse.
Bron: Graan SA

Ten slotte
Die vermoë van Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadprodusente om onder die huidige uitdagende omstandighede vir die landsburgers van Suid-Afrika die goedkoopste moontlike stapelvoedsel te produseer, is sekerlik een van die land se grootste bates. Die plaaslike markpryse van mielies asook ander grane en olie­sade verhandel baie naby aan uitvoerpariteitspryse, wat aandui dat dit goedkoop is relatief tot ander lande. Plaaslike verwerkers van grane en oliesade kry dus tans die goedkoopste rou materiaal om te verwerk om sodoende voedselprodukte teen die beste prys moontlik vir verbruikers op die winkelrak te plaas.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.