Mag 2020 ’n draaipunt in ons geskiedenis wees

1718
Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

As ek terugkyk oor die jaar 2019 het dit maar ’n karige opbrengs gelewer, behalwe dalk vir die Rugbywêreldbeker! Die verwagtinge van meer duidelikheid oor grondhervorming en ’n landboumeesterplan wat die sektor kan vorentoe neem, het toe nog nie gerealiseer nie. Dalk in 2020!

Die optimisme van graanprodusente oral is aansteeklik vir die Graan SA-span en ons sien uit na nuwe uitkomste vir groot landbousake in 2020. Die lank verwagte ontwikkelingsfonds vir nuwe boere het ook nog nie gerealiseer nie, maar daar is goeie vordering. Die pluimveemeesterplan is reeds klaar en die res van die sektor s’n is al in ’n gevorderde stadium. Soos altyd gaan die implementering daarvan die uitkoms bepaal en nie die deeglike konsultasie tydens die proses om die plan op te stel nie.

Ons gaan ook groot uitdagings in georganiseerde landbou hê om aanpassings te maak vir die tye wat voorlê. Niemand kan verandering vryspring nie. Ek reken dat die ekonomie – en nie boerepolitiek nie – in die toekoms ’n groter rol gaan speel om die rigting waarin ons gaan, te bepaal.

Die begin van die nuwe plantseisoen het beslis ’n beter wegtrek as in 2018 gehad. Die reën in die ooste was laat, maar in die weste was daar weer nat lande in November. Kom ons bly hoop dat die 2020-seisoen herstel kan bring. As ek van herstel praat, bedoel ek nie net die bankbalans nie, maar ook emosionele balans. Aan uitdagings is daar geen tekort in die land en veral in landbou nie. Die onstabiliteit wat ons op alle terreine beleef, veroorsaak dat ons emosies van welbehae (wanneer daar stabiliteit is) tot woede oorgaan (wanneer daar te min stabiliteit is). Dit is hier waar ’n goeie regering nou regtig nodig is. Tog verneem ek dat ons georganiseerde landbou se eweknieë in ander lande meer gekoördineerd is, ten spyte daarvan dat hulle regerings ook baie onstabiliteit veroorsaak. Dit was die boodskap van ons landbouspan wat onlangs met die BRICS-lande in Brasilië vergader het.

Dalk moet ons by Rassie gaan kers opsteek. As ons by die onderhandelingstafel gefnuik word, verloor ons meer as net die beker! Indien strukturele eenheid nie nou haalbaar is nie, gaan ons na ’n ander alternatief moet begin soek. Ons onenigheid en verdeeldheid gaan ons ook op internasionale speelvelde duur kos. Ek luister onlangs na ’n wêreldleier wat klem lê op hoe belangrik dit is om die regte ding te soek wat verander moet word. Dit is juis hier waar ek nog heelwat onenigheid tussen ons landbouleiers beleef. Baie wil die ekonomie laat groei, maar ander is min gesteur oor die ekonomie as hulle net iets aan transformasie kan doen. Die geheim is sekerlik dat ons die een net eenvoudig moet doen om te oorleef en dan nie die ander nalaat nie.

Ek is seker ons sal eendag in die geskiedenis van Suid-Afrika lees hoe die jare vóór 2020 littekens op die land agtergelaat het. Die droogtes en die gedoemde Zuma-era se diep wonde sal waarskynlik met tyd gesond word, maar die herinneringe daaraan sal altyd vir almal sigbaar wees.

Ek wil op ’n positiewe noot afsluit, met die hoop dat 2020 as ’n draaipunt in die geskiedenis opgeteken sal word. Mag die draai in die klimaat en die gewilligheid om ’n verskil te maak van dié wat nog omgee en in die land wil bly (soos Graan SA), die toon aangee om verandering te bring.

Sterkte vir 2020!