Almal se bydrae is nou nodig

Gepubliseer: 8 Julie 2020

758

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Die afgelope week het Graan SA se Hoofbestuur sy eerste Zoom-vergadering gehad. Dit was om almal op hoogte te bring van alles waarmee die organisasie tans besig is en om saam te huil oor NAMPO wat nie vanjaar fisiek op NAMPO Park gaan plaasvind nie.

Ek het sommer met die intrapslag twee waarnemings gemaak: Die hoofbestuurslede was aanvanklik effe terughoudend met die nuwe tegnologie, maar hulle het dit gou baasgeraak en kon gemaklik deelneem. Die ander gewaarwording was dat die reën in die suide en mooi oeste in die noorde ’n nuwe vonk veroorsaak het. Die aanpasbaarheid van ons produsente in die nuwe omstandighede was merkbaar gewees. Dit is vir my goed as hierdie DNS ook deel van ons organisasie is – dit sal ons volhoubaarheid verseker.

Ons het na bestaande risiko’s gekyk wat groter geword het en beslis na die nuwe risiko’s wat ons voortbestaan as graanprodusente bedreig. Die prioriteite is weer afgestof en herrangskik om seker te maak dat die personeel op die regte dinge bly fokus. Die winsgewendheid van die sektor bly voorop. Ja, iewers moet die land oorleef en die ekonomie aan die groei kry, maar produsente se volhoubaarheid bly Graan SA se prioriteit. Die liggingsdifferensiaal, integriteit van die mark en gradering is lank en indringend bespreek. Alhoewel die politiek ons van baie kante bedreig, staan dit tweede in die ry. Die oeste daar buite mag belowend lyk, maar daar heers ’n droogte binne Graan SA se finansies. Ons gewone inkomste wat gegenereer word met die NAMPO’s gaan waarskynlik nie hierdie jaar daar wees nie.

Heelwat van ons voorgangers wat al deur baie droogtes gewerk het op die plaas het ons geleer van spaar en reserwes opbou vir die dag van nood. Ons is nou daar en so kan ons die Covid-19-droogte met ons reserwes van vorige jare die hoof bied. Om weer sulke reserwes op te bou, gaan ’n paar goeie jare met mooi oeste vat. Dankie vir almal wat so getrou julle organisasie ondersteun. Die Hoofbestuur het egter ook ’n boodskap vir die medeprodusente wat net saamry: Dis tyd dat almal besef ons gaan dit nie op ons eie maak nie. Elkeen sal sy bydrae moet maak dat ons saam kan oorleef.

Ek wil die maand se hoofartikel afsluit met die kontras van te hard en te sag. Wanneer daar oor die land se moeilike nasionale beleidsake gepraat word, sit ons baie keer met die emosie van te hard en te sag in dieselfde liggaam. Baie produsente sien die uitkomste van die onderhandelinge met die regering of ander rolspelers in die mark asof ons as onderhandelaars te sag is. Terselfdertyd vorder ons baie keer te stadig met die regering en andere, omdat hulle oordeel dat ons as onderhandelaars te hard en onbuigsaam is in ons soeke na oplossings en kompromieë. Hierdie is ’n fyn balans wat veroorsaak dat diegene wat moet onderhandel met alles verkeerd en nooit goed genoeg is nie. Iemand gaan ongelukkig wees – ongeag die uitkoms.

Die stryd om oorlewing op die plaas, in die ekonomie en polities se marges is nou so dun dat ek nie weet hoe lank die kontras van terselfdertyd hard en sag wees, dit gaan hou nie. Elkeen van die drie partye veg om oorlewing en om hulle deel van die sogenaamde koek te beskerm. Ons sal seker eers die dag as daar niks meer koek oor is nie, weet wie was te hard en wie te sag.