Jong leiers bedank Graanakademie tydens reünie

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

1656

‘n Uiters suksesvolle reünie is onlangs in Pretoria gehou vir alumni van Graan SA se Graanakademie wat sedert die onstaan daarvan sewe jaar gelede dié leierskapskursus suksesvol voltooi het. Die program is ’n vennootskap tussen Syngenta, Graan SA en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sakeskool.

Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, sê dat die leierskapskursus (wat sy breinkind is) eienskappe by opkomende leiers kweek wat dadelik gebruik kan word wanneer hulle by die georganiseerde landbou betrokke raak.

“Ons probeer ook met die opleiding ’n netwerk vir die kursusgangers vestig, aangesien daar ’n verskeidenheid mense vanuit die landboubedryf daar verteenwoordig is. Goeie leiers bring verandering sowel as versoening tot stand. Danksy die sukses van hierdie kursus sal dit in die toekoms vir graan sowel as ander kommoditeite oopgestel word asook aan ander deelnemers in die totale landbouwaardeketting.”

Volgens Antonie Delport, besturende direkteur van Syngenta, is dit belangrik dat daar jong landbouleiers is met ’n visie om landbou suksesvol te bevorder – en dat hulle in dié verband toegerus word.

“Ten einde huidige en toekomstige voedselsekerheid te verse­ker, sal daar staatgemaak moet word op behoorlike leierskap. Sodanige leierskapsontwikkeling vind deur hierdie kursus plaas,” sê Antonie.

’n Gees van blye herontmoeting het geheers tydens die onlangse reünie van die Syngenta Graanakademie se alumni van die afgelope sewe jaar.

Dr René Uys, direkteur van Thinking Fusion AFRICA en aanbieder van die leierskapskursus, wys daarop dat jong Suid-Afrikaanse produsente die emosionele sterkte moet hê om die harde werklikheid van landbou in hierdie land die hoof te bied. “Kortom, hulle moet vaardig en dapper wees – daarom is selfontwikkeling van deurslaggewende belang. In dié verband is die leierskapskursus van onskatbare waarde,” sê sy.

“Leiers moet onder meer daarteen waak om in ’n gemaksone te beland ten opsigte van selfontwikkeling. Hulle moet poog om elke dag iets nuuts te leer om stagnering te vermy. Hulle moet ook meer luister as praat en die inligting wat sodoende verkry word in hul besluite akkommodeer,” voeg sy by.

“Die leierskapskursus het daartoe gelei dat ek my leierskapstyl heeltemal verander het,” vertel Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA en deel van die eerste groep kursusgangers in 2013. “Tydens die kursus het ek geleer om beide my goeie en negatiewe punte as leier te identifiseer en om die nodige aanpassings te maak.”

Roelf Meyer, direkteur van die Agricultural Development Agency (ADA), het tydens die verrigtinge die doelwitte van die ADA uiteengesit. Die agentskap, wat binne die volgende paar maande hul inisiatief van stapel sal stuur, wil veral swart produsente bemagtig om suksesvol te wees en die oordrag van vaardighede en kapitaal aan hulle vergemaklik. Geen regeringsfondse sal hiervoor gebruik word nie, maar daar sal wel op die regering se ondersteuning staatgemaak moet word. Saam met Roelf is Jannie de Villiers, Harry van der Merwe en dr René Uys (albei direkteure van Thinking Fusion AFRICA) asook Ben Schoonwinkel van Syngenta (kursusborg).

Paneel deel voordeel van akademie
Tydens die verrigtinge het Jannie ’n paneelbespreking gefasiliteer waartydens verskeie alumni die impak van die kursus op hulle ontwikkeling as leiers soos volg verwoord het:

  • Dit is merkwaardig hoe langtermynverhoudings en vriendskapsbande tydens die kursus geskep word tussen persone van uiteenlopende agtergronde. Dit het groot waarde wanneer daar nou en in die toekoms op gemeenskaplike platforms oor uitdagings in die landbou besin moet word.
  • As jy nie leer om te luister na wat ’n ander persoon sê, sodat jy kennis kan opdoen van sy agtergrond en verwysingsraamwerk nie, kan jy nie empatie ontwikkel nie. Daarsonder kan jy nie wysheid as ’n leier aan die dag lê nie.
  • ’n Leier het die verantwoordelikheid om toe te sien dat diegene waarna hy omsien verdere vaardighede ontwikkel. Dit behels dat hy ook bereid moet wees om te delegeer.
  • Tydens die kursus moes ek diep delf om myself beter te leer ken. Ek het my sterk punte as ’n leier geïdentifiseer, maar is ook gekonfronteer met my swak punte. Dit het daartoe gelei dat ek my leierskapstyl ten goede moes aanpas.
  • Nie alleen het hierdie kursus my interaktiewe vaardighede om met ander persone saam te werk verder ontwikkel nie, maar ook die vaardigheid om ander mense met mekaar te laat saamwerk.
  • Jy word nie noodwendig as ’n leier gebore nie. Leierseienskappe is iets wat jy kan aanleer en ontwikkel. Die leierskapskursus het my in dié verband toegerus en die pad aangedui wat ek vorentoe moet volg om dit in die praktyk te bly toepas.
  • Die leierskapskursus het dit by my ingeskerp dat ’n goeie leier ’n ingeligte leier is. Nie alleen moet jy ingelig wees omtrent jou onmiddellike werksomgewing nie, maar ook oor wat in die wêreld daar buite gebeur – ongeag die onderwerp ter sprake. Hier speel lees ’n kardinale rol.
  • ’n Goeie leier moet weet hoe om die “taai” probleme – soos algemeen verwoord in die kursus – aan te spreek. Ek is nou beter toegerus om oor probleme, soos byvoorbeeld grondhervorming, te besin, my standpunt te stel en indien nodig, te onderhandel.
  • Ek kan dit wat ek in die leierskapskursus geleer het tot groot voordeel in my persoonlike lewe op my gesin en vriendekring toepas.

Vir meer besonderhede oor die Graanakademie besoek die web­tuiste by http://grainacademy.co.za of kontak Hanlie Geldenhuys by 082 609 1520 of hanlie.geldenhuys@syngenta.com.