Dís hoe ons met genadewater werk

57
Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Ek het die afgelope tyd van ’n anomalie (teenstrydigheid) bewus geword wat nogal ’n emosie in my wakker gemaak het. Ek lees van belangrike opinievormers in die samelewing wat as “kenners” skryf hoe ons as landbouers die meeste water gebruik. ’n Ander verbruiker wil weer weet hoeveel water ons as produsente gebruik het om vir hulle voedsel te produseer.

Tydens een van die geleenthede waar dié vraag gevra is, het die seremoniemeester prontuit voor ’n uitgelese groep graanprodusente verklaar dat haar kennis oor die landbou beperk is tot haar jong seuntjie se speelgoedtrekker.

Die ander kant van die anomalie wat na my gekom het, is die totale oorlading van video’s en boodskappe wat die wêreld vertel van die waterkrisis waardeur ons produsente gaan. Ons lees van en sien damme wat in 2016 laas water in gehad het, boorgate wat opdroog, boorde en oeste wat verdroog, skape wat vrek en springbokramme (nogal tydens die Rugbywêreldbeker!) wat nie meer kan opstaan nie. Mense is moeg om dag vir dag – en selfs jaar vir jaar – te wag vir uitkoms. Ek hoor van produsente en nie produsente met ’n missie wat hulle eie tyd en geld gebruik om ander produsente te help – omdat hulle weet hoe magteloos dit voel as alles opgedroog het.

My vraag vandag aan die regering en aan die verbruikers in ons land, is: Verstaan julle dan nie wat produsente met water maak nie? Ons vat die water wat ons ontvang (genade alleen) plus die grond en insette en ons verander dit in die kos wat julle elke dag eet. Die grond besit ons (of so glo ons), maar die water is ’n stuk genade van Bo.

Ons vra nie hulp of begrip vir dit waaroor ons as produsente beheer het en wat ons kan bestuur nie. Al wat ons vra, is ’n stukkie begrip en verstaan vir dít waaroor ons nie beheer het nie – die reën. Ons kies om te boer. Ons kies om met die natuur saam te werk om vir die land voedsel te produseer – hoe moeilik dit ook soms mag wees. Ons kies egter ook, soos koning Dawid van die Bybel, om eerder aan die genade van God uitgelewer te wees as aan die vyande van die wêreld. Vyande soos korrupsie, misdaad, gierigheid en geweld.

Aan die staat en verbruikers, ons vra julle met groot respek vir meer begrip en verstaan: Ons beheer nie die reën nie. Ja, ons ken Hom wat die reën gee, maar mense se veroordeling en suspisie oor hoe ons daarmee omgaan in die proses om vir hulle kos te produseer, het ons nie nodig nie. Ons almal trek voordeel daaruit dat ons kos vir die land produseer. Is dit dan soveel gevra om produsente met versekering te help uit die gesamentlike belastingpoel van fondse vir dié tye wanneer die reën nie kom nie?

Jy is natuurlik geregtig om te vra hoe ons die water gebruik in die proses om kos te produseer. Feit is dat ons graanprodusente dalk nie altyd die hoogste tonne per hektaar in die wêreld produseer nie – juis weens ons klimaatstoestande. Die wêreldbeker vir die meeste kilogramme mielies geproduseer per millimeter reën wat ontvang word, staan egter al ’n hele paar jaar in Graan SA se glaskas in Pretoria. Dís hoe ons met genadewater werk! #ImStaying.