Bewaringslandbou skep nuwe navorsingsbehoeftes

21
Dr André Nel,
onafhanklike grond­kundige
Dr Danie Beukes,
onafhanklike grond­kundige

Die hoofrede waarom gemeenskappe in die geskiedenis tot niet gegaan het, was die onvolhoubare gebruik van hulle grond. Oor- en wanbenutting van grond deur onkunde of ’n traak-my-nieagtige houding lei tot erosie en grondagteruitgang wat voedselproduksie onvolhoubaar maak. Dié agteruitgang, wat steeds in groot dele van die wêreld en ook plaaslik plaasvind, is ’n stadige en onopvallende proses wat nie ernstig opgeneem word nie.

Gelukkig is daar produsente wat oor dié agteruitgang besorg geraak het en op ’n vindingryke wyse met bewaringslandbou begin het om dit te stuit. So is minimum grondversteuring, wisselbou en die behoud van oesreste op die grondoppervlak as noodsaaklike praktyke geïdentifiseer wat saam toegepas moet word om bewaringslandbou te laat slaag. Plaaslik het toekomsgerigte produsente wat die noodsaak van bewaringslandbou insien, begin om dit self toe te pas, navorsing te verfyn en onder die aandag van medeprodusente te bring.

Omskakeling van konvensionele na bewaringslandboupraktyke bring belangrike veranderinge mee. So neem gronderosie tipies met sowat 80% af weens die verminderde afloop van reënwater. Mielieopbrengste in die semi-ariede subtrope neem
dikwels toe weens die verhoogde onderskepping van reënwater. Bewaringslandbou kan dus die volhoubaarheid van graanproduksie verbeter en terselfdertyd die doeltreffende gebruik van reënval verhoog.

Die mikrobiologiese samestelling en aktiwiteit in die grond verander ook. Mikrobe-aktiwiteit het ’n groot invloed op die biologiese, chemiese en fisiese eienskappe asook die plantsiektedinamika van die grond. Hoe groter die diversiteit en aktiwiteit van mikrobes, hoe hoër die kwaliteit (gesondheid) van die grond – wat vervolgens ’n impak op gewasproduksie het.

Die belangrikheid van mikrobes by graanproduksie op bewerkte grond word grootliks geïgnoreer en gewoonlik word slegs op die chemiese en fisiese grondeienskappe, soos voedingstatus en verdigting gefokus. Met bewaringslandbou word die mikro­biologiese komponent van die grond ook in ag geneem en sover moontlik ontgin en bevorder deur byvoorbeeld ’n dekgewasmengsel in ’n rotasiestelsel in te sluit.

Tans is ons kennis en ondervinding met bewaringslandbou nog beperk. Wat ons wel weet, is dat die gepaardgaande veranderde omstandighede van produksie ook akkerboukundige riglyne wat tot dusver in gewasproduksie gebruik is, beïnvloed. Van die akkerboukundige riglyne verander dramaties as daar byvoorbeeld na die resultate van die Ottosdal Geenbewerkingsklub gekyk word – ’n projek wat deur die Mielietrust befonds en deur Graan SA gekoördineer word. Verder is dit ook onduidelik hoe bewaringslandbou op verskillende gronde toegepas behoort te word en hoe bemestingsriglyne geraak word.

Grondtipes en geenbewerking
Bewaringslandbou word met sukses in die Noordwes Provinsie toegepas en die resultate van onder meer die Ottosdal Geenbewerkingsklub bevestig dit op verskeie grondvorms. Indien bewaringslandbou in dié gebied reg toegepas word en onkruide in toom gehou word, kan bewaringslandboustelsels só geslaagd wees dat dit ekonomies en risikogewys beter sin maak as stelsels waar die grond bewerk word.

Op die 1,5 miljoen ha watertafelsandgronde van die Noordwes-Vrystaat waar hoofsaaklik Avalon-grondvorms voorkom, is dit egter oënskynlik moeilik om geenbewerking (een van die beginsels van bewaringslandbou) te laat slaag, aldus voorlopige resultate van die Sandgrondontwikkelingskomitee. Ten spyte van proefresultate wat toon dat mielie-opbrengs onder geenbewerking op hierdie sandgronde op kort termyn (twee tot drie jaar) laer is as die opbrengs van rip-op-ry-stelsels, is daar tog gevalle waar gewasse reeds vir etlike jare so geproduseer word.

Hierdie sandgronde het hul hoë produktiwiteit daaraan te danke dat reënwater effektief onderskep en gestoor word. Afloop is gewoonlik min en ’n kleikeerlaag op 1,5 m- tot 2 m-diepte beperk dreinering wat ’n tydelike watertafel laat ontstaan. Dié sandgrond verdig ongelukkig maklik – gewoonlik op 0,2 m- tot 0,4 m-diepte – wat wortelgroei en produksie kan beperk en graanproduksie onder geenbewerking kniehalter. Die verdigting vind nie net onder die gewig van trekkers en implemente plaas nie, maar kan ook op ’n natuurlike wyse ontwikkel.

Die lae klei-inhoud van die bogrond wat gewoonlik onder 10% is, maak dit struktuurloos. Die sandkorrels se grootte is 0,5 mm of kleiner en gerond. Geronde gronddeeltjies het die nadeel dat dit baie makliker kompakteer as deeltjies wat oneweredig van vorm is. Die lae klei-inhoud in die bogrond dra verder by tot lae inherente organiese koolstof (C) en grondvrugbaarheid, asook lae waterhouvermoë en kwesbaarheid vir winderosie. Dié kombinasie van eienskappe is hierdie sandgronde se Achilles-hiel.

Produsente wat toegewyd en met presisie al die bewaringslandboubeginsels, ingesluit geenbewerking, oor ten minste vyf jaar en langer toepas, behoort waarskynlik sukses te behaal. Proefresultate met multispesiedekgewasse in rotasie op hierdie gronde toon dat die organiese C binne een jaar kan verhoog. Indien vee-integrasie ’n deel van dié stelsels kan vorm, is daar ’n kans dat bewarings­landbou baie suksesvol op hierdie sandgronde toegepas kan word.

Die gronde in die Noordwes Provinsie waarop bewaringslandbou met geenbewerking slaag, selfs al is die klei-inhoud ook laag, het weer ander eienskappe. Dit verdig nie so maklik nie, die gronddeeltjies is nie gerond nie en dit het gewoonlik ’n struktuur wat wortelgroei vergemaklik. ’n Belangrike eienskap van die gronde is dat dit na bewerking, in die afwesigheid van ’n deklaag, ’n dun oppervlakkors vorm wat die infiltrasie van reënwater ernstig beperk. In groot dele is die landskap golwend en baie lande is teen hellings geleë. Die gevolg is afloop en erosie wat water en grond wegvoer.

1. Tipies sanderige Avalon-grondprofiel van die Noordwes-Vrystaat wat maklik kompakteer en die opbrengs van mielies onder geenbewerking ernstig kan beperk.

Een van die belangrikste voordele wat bewaringslandbou op dié gronde het, is die herstel van die grond se waterinfiltrasievermoë as gevolg van die grondbedekking en herstel van die aggregaatstabiliteit. Die gevolg is minder afloop en weens die groter beskikbaarheid van water word die impak van ’n tipiese Januarie-droogte beperk. In ’n proef naby Ventersdorp het die opbrengs van geenbewerkte monokultuurdeklaagmielies oor sewe jaar met gemiddeld 1,4 t/ha verhoog teenoor die opbrengs van bewerkte monokultuurmielies – hoofsaaklik weens die verhoogde onderskepping van reënwater.

Aan die een kant is daar dus gronde soos dié in die Noordwes Provinsie waarop bewaringslandbou slaag en opbrengste dikwels verhoog; terwyl daar aan die ander kant sandgronde soos in die Noordwes-Vrystaat is waarop mielies onder geenbewerking swak presteer. Dit skep leemtes en vrae wat deur sinvolle navorsing en die aanpassing van al die bewaringslandboubeginsels aandag behoort te kry.

Daar is ’n behoefte aan maatstawwe om die geskiktheid van grondtipes vir bewaringslandbou met geenbewerking te beoordeel. Behoorlike maatstawwe sal produsente in staat stel om hul gronde te beoordeel of te laat beoordeel deur kundiges – en so reg oor te skakel na volle bewaringslandbou. Hierdie langtermynnavorsing- en aanpassingsprosesse sal moontlike mislukkings met bewaringslandbou op oënskynlik niegeskikte gronde voorkom.

Wisselbou met dekgewasmengsels in bewaringslandbou is voordelig vir grondgesondheid. Die rol wat dekgewasse speel om grondkompaksie teë te werk of selfs op te hef, is nog onbekend, maar word voortdurend deur produsente in samewerking met ander kundiges ondersoek.

Bemesting
Die doeltreffendheid van voedingselementopname en die voorsiening of beskikbaarheid van elemente in bewaringslandbou verskil oënskynlik van dié van konvensioneel bewerkte gewasstelsels.

Gewasse in bewaringslandboustelsels se wortelstelsels kan groter wees as dié van gewasse in konvensioneel bewerkte grond. Die wortelstelsel bly moontlik ook langer lewenskragtig soos wat by mielies in bewaringslandboustelsels waargeneem is. Die doeltreffendheid waarmee ’n groter en lewenskragtiger wortelstelsel voedingstowwe opneem, veral met behulp van die groter en aktiewer grondmikrobioom, behoort hoër te wees – wat die bemestingsbehoefte kan laat afneem.

Arbuskulêre mikorisa, oftewel endomikorisa, is belangrike swamme in die grondmikrobioom wat onder geenbewerking gedy weens die afwesigheid van grondversteuring. In simbiose met die gasheerplant dien hul swamdrade as verlengstukke van baie gewasse se wortelstelsels. ’n Baie groter volume grond word dus in die aanwesigheid van mikorisa benut. Mikorisa verskaf voedingstowwe, water en beskerming teen patogene in ruil vir fotosintaat vanaf die gasheerplant. Dit kan moontlik ’n wesenlike impak op die beoordeling van ’n grond se voedingstatus hê, veral in terme van stikstof en fosfor.

In bewaringslandbou word plantreste op die grondoppervlak gelaat. Dit breek dan stadig oor tyd af, in teenstelling met die inwerk van oesreste in bewerkingstelsels waar die proses vinnig verloop. Teoreties stem die afbraak van oesreste, vrystelling van voedingselemente en die opname daarvan deur die volgende gewas redelik ooreen. In bewerkingstelsels is die vrystelling- en opnameproses gewoonlik nie gesinkroniseer nie en logingsverliese is ’n moontlikheid. Veral stikstof is hier van belang, aangesien dit so beweeglik is.

Die insluiting van dekgewasmengsels en vee in ’n wisselboustelsel kan ook die voorsiening van alle voedingstowwe, veral stikstof en fosfor, beïnvloed en die bemestingsvereistes verlaag. Mikrobes soos vrylewende stikstofbindende bakterieë en mikorisa, wat onder gunstige toestande op worteluitskeidings floreer, verrig hierdie taak. Dit kan die bemestingsbehoefte van ’n opvolggewas soos mielies beïnvloed.

Verskeie redes kan dus aangevoer word waarom die huidige bemestingsriglyne wat vir bewerkte grond geld, ondersoek behoort te word vir gebruik in bewaringslandbou.

Spesifieke navorsingsbehoeftes
Ideaal gesproke behoort bewaringslandbouproewe oor tyd in verskillende agro-ekologiese gebiede op plase onder droëland uitgelê en met plaaslike konvensionele produksiepraktyke vergelyk te word. Daar behoort op elke plaas met die beginsels van bewaringslandbou geëksperimenteer te word. Waar moontlik moet dit in samewerking met produsentegroepe en kundiges gedoen word. Proefgronde moet deeglik gekarakteriseer word en reënval moet gemeet word. Monokultuur- en gewasstelsels, soos wisselbou met ander graangewasse en dekgewasmengsels, moet ingesluit word.

Soveel as moontlik van die volgende aspekte behoort ondersoek te word:

  1. Mikrobiologiese studies waarin diversiteit en funksionaliteit van organismes gemeet word, soos byvoorbeeld deur die PLFA-toets.
  2. Geselekteerde siektes en plae, soos byvoorbeeld die voorkoms van wortel- en kroonvrot asook aalwurminfeksie.
  3. Die verminderde anorganiese bemesting onder bewaringslandbou (as gevolg van die bydrae van toenemende grondgesondheid) moet met dié van die plaaspraktyk vergelyk word in terme van ’n verandering in grondvrugbaarheid.
  4. Sekere grondfisiese eienskappe, soos grondwaterregime, water­infiltrasievermoë, grondverdigting en grondtemperatuur.
  5. Standaardgrondvrugbaarheidsontledings wat organiese koolstof en grondsuurheid insluit, moet met grondgesondheidsontledings (soos byvoorbeeld die Haney-toets) vergelyk word.
  6. Blaarvoedingsopname, gewasgroei en opbrengs (graan en/of biomassa) en waterverbruiksdoeltreffendheid.
  7. Koolstofvoetspoorstudies, wat ondersoek hoe die stelsels ’n netto negatiewe C-voetspoor kan ontwikkel deur goeie bewaringslandboupraktyke.
  8. Ekonomiese ontledings in terme van insetkoste en opbrengs van bewaringslandbou teenoor konvensionele plaaspraktyke.
  9. As finale meetinstrument behoort verwantskapstudies uitgevoer te word waar die resultate van die eerste vyf punte/ondersoeke gekorreleer word met dié van punte ses en sewe. Dit behoort klinkklare antwoorde te verskaf wat produsente sal help in besluitneming oor hoe hulle moet oorskakel na bewaringslandbou om volhoubaar te boer.

Slotsom
Wat wel seker is, is dat bewaringslandbou die enigste opsie is om volhoubare en doeltreffende graanproduksie na te streef. Plaaslik is bewaringslandbou egter in sy kinderskoene. Hoe om dit doeltreffend op die verskeidenheid van grondtipes en klimate toe te pas, moet deur elke produsent in samewerking met kundiges ondersoek word.

Dieselfde geld vir die verandering van die biologiese, chemiese en fisiese eienskappe van gronde wat deur bewaringslandbou meegebring word en die gevolglike aanpassings aan, onder meer, die beheer van siektes en plae, bemestingsriglyne en risikobestuur. Bewaringslandbou skep inderdaad baie nuwe navorsingsbehoeftes wat deur sinvolle wetenskaplike navorsing saam met produsente uitgepluis behoort te word.