Die kavalkade

1953

Beste Grootneef

In die ou dae is daar net voor die een-uur-nuusbulletin smiddae op Radio Suid-Afrika noodberigte uitgesaai. Die meeste van dié noodberigte het gehandel oor mense wat op reis was en dan versoek is om met hul naaste familie in aanraking te kom. Dit was voor die dae van selfone of Google. Radio was destyds eintlik die kuberruim van die tyd.

Die noodberig is meestal in ’n sobere stem deur die programaanbieder gelees vir byvoorbeeld ’n Smit-gesin wat tussen Kuruman en Kakamas op reis was in ’n blou Ford en wat dringend moes skakel met ’n familielid – of iets in dier voege. Die ondertoon van die berig was meestal gedemp en met ’n aanvoeling dat siekte of dood die noodberig aangespoor het.

Een noodberig, so skuins voor een die middag, het egter die aandag getrek. Die berig het gehandel oor ’n voertuig wat aan die verkeerde kant van die snelweg op pad was na Johannesburg. Reisigers is gemaan om versigtig te bestuur en op die uitkyk vir die voertuig te wees.

Die storie loop dat Buurman die aand, pas terug uit die Goudstad, deur sy wederhelf gevra is of hy die noodberig oor die radio gehoor het. Sy bondige antwoord was, terwyl hy in die spens rondkrap vir die bottel Klipdrift, dat dit ’n vreeslike dag was. En dat dit nie net een kar aan die verkeerde kant van die pad was nie, maar duisende!

Ou Neef, die ander dag ry ek met die grootpad van Johannesburg na Pretoria. Van agter hoor ons ’n geskal aankom. Ons dag eers dis die engel Gabriël met die laaste basuin vir die oordeelsdag en toe sien ons die swiepende rooi-en-blou ligte wat van agter af aangejaag kom. Eers twee motorfietse wat alle voertuie uit die vinnige baan beduie. Dan, ’n blink swart kar, ook met flitsende ligte … Op sy hakke, nog ’n swart kar – ek aanvaar met ’n BBP in. Die ruite donker, maar met flitsende ligte in die kar se snoet – amper soos KITT van Knight Rider.

En dan, tussen die BBP en die laaste swart kar, ingewurm in die stoet, ’n spierwit Cortina met ’n oom en tannie wat op ’n manier binne in die loeiende kavalkade beland het. Die tannie, haar beblomde hoed laag oor haar oë getrek, met haar arms oor haar kop geslaan, oë toe en lippe prewelend. Die oom, wat effe op Mike Bolhuis trek, met wyd gesperde oë en hande spierwit om die stuurwiel geklem. Soos ’n bees in ’n drukgang, maar deel van die span en met ’n stink spoed op pad Uniegebou toe. Op die Cortina se agterstamper ’n plakker: “Bly in jou baan al gaan jy ook staan.”

Toe die petalje by ons verby is, wonder ek by myself of diegene in die hoogste gestoeltes nie maar betyds kan opstaan en soos gewone mense bedaard die snelweg aandurf nie. Waarom die oorvloed blou ligte en swart karre om ander voertuie met belastingbetalers in uit die pad te vee? En dit duidelik buite die spoedgrens wat vir die res van die bevolking geld.

Buurman sê dalk laat die loeiende sirenes en vloot van swart karre die BBP’s voel dat hulle “arrive” het.

Die ironie is dat die BBP’s eintlik vir die mense van die land werk. Die roekelose gejaag met blou ligte tussendeur gewone mense wat op pad is om hul brood te verdien, laat dit egter lyk of die BBP’s dink dat die mense vir húlle werk.

Ou Neef, wanneer gewone mense sien dat leiers mag misbruik sonder enige gevolge, raak dit die norm. Of dit nou met die gejaag van ’n BBP-kavalkade of met die land se geldkrane is. En nou stop niemand meer by stopstrate nie.

Op pad terug Vrystaat toe, net voor die tolhek, kom ’n lykswa verby ons gejaag. Agter op die buffer ’n plakker wat sê: “Arrive alive.” Vir die passasier binne-in was dit egter helaas te laat.

Groete op die Oosgrens.

 

Lesers kan ‘n e-pos aan Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.