Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

1413
Luan van der Walt, landbou-ekonoom, Graan SA

Deel 3: Geelmielies

Die eerste deel van hierdie reeks het in die Junie-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn en het gehandel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademarkte. Deel 2 van die reeks in die Julie-uitgawe het na witmielie-inligting verwys, terwyl hierdie artikel op geelmielie-inligting gaan fokus.

Aangesien die reeks grootliks fokus op die belangrikheid van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale indeksberekeninge.

Seisoenale indekse
Die seisoenale indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen, aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan ook gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Die seisoenale tendense
Grafiek 1 toon die seisoenale indeks van die daaglikse sowel as die Julie-termynprys aan tesame met die beskikbare voorraad per maand.

Die beskikbare voorraadvlakke is ’n groot drywer van die plaaslike pryse omdat dit die plaaslike aanbod verteenwoordig. Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat die daaglikse geelmielieprys oor die algemeen gedurende Januarie ongeveer 8% hoër is as die gemiddelde pryse, vanwaar die prys begin daal tot ongeveer 6% laer as die gemiddeld gedurende Mei.

Beide die daaglikse en die Julie-termynpryse verhandel tussen April en Oktober laer as die jaar se gemiddelde prys. Die daaglikse pryse is oor hierdie tydperk gemiddeld 4% laer as die jaarlikse gemiddelde prys, terwyl die Julie-termynprys gedurende hierdie maande ongeveer 1,2% laer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.

Die geelmielievoorraad is gemiddeld gedurende April ongeveer 60% laer as die jaarlikse gemiddelde voorraad en gedurende Julie ongeveer 65% bo die jaarlikse gemiddeld. Dit kan ook uit Grafiek 1 gesien word dat die pryse redelik laer as die gemiddelde pryse is wanneer daar groot voorrade is en dat die pryse toeneem namate die voorrade afneem.

Pariteitspryse
Pariteitspryse speel ook ’n belangrike rol in die plaaslike prysbepaling, aangesien die plaaslike mark altyd iewers met die internasionale mark gaan meeding – hetsy dit aan die invoer- of aan die uitvoerkant is. Grafiek 2 toon die seisoenale indekse van die plaaslike geelmielieprys, die in- en uitvoerpariteitsprys asook die Amerikaanse mielieprys.

Die Amerikaanse prys en die pariteitspryse volg redelik dieselfde tendens omrede laasgenoemde vanaf die Amerikaanse prys bereken word. Die wisselkoers is die ander groot veranderlike in terme van die pariteitspryse.

Dit is duidelik dat die Amerikaanse prys sowel as die pariteitsprys oor die algemeen tussen Julie en Desember ongeveer 2% laer verhandel as die jaarlikse gemiddelde prys, terwyl dit vanaf Januarie tot en met Junie ongeveer 1% bo die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.

In Amerika is die strooptyd in die tweede helfte van die jaar en is die pryse oor die algemeen dan laer as gedurende die eerste helfte van die jaar. Wanneer hierdie pryse met die plaaslike pryse vergelyk word, is dit opvallend dat laasgenoemde baie meer wisselvallig is as die Amerikaanse pryse.

Die plaaslike mielieprys is gemiddeld gedurende Januarie 8% bo die jaarlikse gemiddeld en gedurende Julie 6% onder die jaarlikse gemiddeld. Dit is ’n 14%-verskil tussen die hoogste en die laagste gemiddelde pryse, terwyl die Amerikaanse pryse oor die algemeen tussen 2% bo die gemiddeld tot 2% onder die gemiddeld verhandel.

Hierdie wisselvalligheid van die plaaslike mark kan grootliks toegeskryf word aan die onbestendigheid in die plaaslike produksie en die vraag-en-aanbodsituasie van jaar tot jaar.

Uitvoere
Suid-Afrika is meestal ’n netto uitvoerder van mielies. Omdat geelmielies die grootste rol speel in terme van uitvoere, word die plaaslike geelmieliepryse met die fisiese uitvoere wat per maand plaasvind, vergelyk.

Grafiek 3 toon aan dat die meeste uitvoere gedurende Augustus ongeveer 90% meer is as die jaarlikse gemiddelde hoeveelheid geelmielies wat uitgevoer word. Oor die algemeen is die hoeveelheid geelmielies wat tussen November en Mei uitgevoer word 31% minder as die gemiddelde jaarlikse uitvoere, terwyl die uitvoere wat gedurende Junie tot Oktober plaasvind ongeveer 38% meer is as die jaarlikse gemiddeld.

Die meeste uitvoere vind plaas wanneer die plaaslike pryse ook onder die jaarlikse gemiddelde pryse verhandel, terwyl die uitvoere aansienlik minder is wanneer die pryse bo die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.

Ten slotte
Alhoewel die inligting in hierdie artikel slegs een aspek van dit waarvoor die inligting gebruik kan word, toon, is dit belangrik om die waarde van die langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaar gemaak word. Hierdie inligting sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark, aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.

In die volgende deel sal gekyk word na koringinligting.