Wanneer laas het jy gehoor dat iemand sê hy was tevrede met sy koringoes? Dit is nie dat koring nie ’n winsgewende gewas is nie – nee, die opbrengs is net te min. Maar hoe nou gemaak? Jy het dan alreeds die beste kultivars wat op die mark beskikbaar is, geplant, maar dis steeds nie genoeg om die boeke te laat klop nie.
Toemaar, wag net so ’n bietjie…groot dinge is op pad. By LNR-Kleingraan is ons die afgelope twee jaar reeds besig met die evaluering van hoë-opbrengslyne, maar die eerste velddata is eers gedurende die pas afgelope seisoen ingesamel.
In Julie 2018 is ’n veldproef met 232 inskrywings wat oor potensiële hoë opbrengs beskik, geplant (sien Foto 1). Van hierdie inskrywings is reeds die vorige jaar op grond van opbrengsdata in die veld en met behulp van merkers in LNR-Kleingraan se molekulêre laboratorium geïdentifiseer.
Drie saadmaatskappye (Sensako, Pannar en LNR-Kleingraan) het ook die geleentheid gehad om hulle beste kommersiële kultivars in hierdie proef in te sluit, sodat vergelykings met plaaslike kultivars gemaak kon word. Hierdie kultivars het ook besproeiingskultivars en kultivars van die Wes-Kaap ingesluit. Tien kultivars is ontvang en 15 keer dwarsdeur die proef herhaal.
Die proef is onder aanvullende besproeiingstoestande geplant om die potensiaal van hierdie inskrywings te bepaal. Ongelukkig was dit nie ’n goeie reënseisoen nie en die aanvullende besproeiing het eintlik maar net die normale reënval van die Oos-Vrystaat vervang, alhoewel die verspreiding van die besproeiing meer gunstig was as wat reënval sou wees.
In Grafiek 1 word die reënval- en besproeiingswaardes met normale reënvalsyfers vergelyk net om die opbrengste wat behaal is, in perspektief te plaas. In totaal is 120 mm reënval in die tydperk tussen Julie 2018 en Desember 2018 gemeet, terwyl 250 mm besproeiing toegedien is. Die totaal van 370 mm was nie eers soveel as wat die langtermyngemiddeld van die gebied normaalweg is nie. ’n Gemiddeld van 50 mm tot 75 mm is egter dwarsdeur die seisoen tydens kritieke groeiperiodes toegedien wat voordelig vir koringontwikkeling was.
Die opbrengste wat hierdie inskrywings selfs onder hierdie nie-optimale toestande behaal het, dui daarop dat hier beslis potensiaal in hierdie materiaal is. Van die individuele opbrengste wat behaal is, was hoër as 8 t/ha en een inskrywing het ’n opbrengs van so hoog soos 9,6 t/ha behaal. Hierdie spesifieke inskrywing het ’n duisendkorrelmassa (DKM) van 45,8 en sowat 53 korrels per aar gehad.
Die gemiddelde opbrengs van al 232 inskrywings was 5,5 t/ha, terwyl die gemiddelde opbrengs van die tien kommersiële kultivars wat in die proef ingesluit is, 4,93 t/ha was en gewissel het van 3,75 t/ha tot 5,83 t/ha.
In Grafiek 2 word die opbrengsdata van die top 10% van al die inskrywings aangetoon, tesame met die tien kommersiële kultivars wat as kontroles in die proef ingesluit is. Die gemiddelde opbrengs van die 21 kultivars wat die top 10% verteenwoordig, was 7,07 t/ha. Dit is ’n verhoging van meer as 40% in opbrengs teenoor die gemiddelde opbrengs van die kommersiële kultivars.
Dit klink miskien te goed om waar te wees. Wel, dit is darem die top 21-inskrywings waarvan ons praat, maar as die gemiddeld van die hele proef (met ander woorde die totaal van die 232 inskrywings) met die kontroles vergelyk word, sien ons egter steeds ’n verhoging van 11% in opbrengs.
Bo en behalwe opbrengsdata is verskeie opbrengskomponente ook bepaal (Tabel 1). Die gemiddelde hoeveelheid are wat per m2 bepaal is, was 314 vir die inskrywings en 328 vir die kommersiële kultivars. Hier was dus nie noemenswaardige verskille nie.
Ons kommersiële kultivars het die vermoë om genoeg halms te produseer. Sodra ’n mens egter die ander syfers byvoeg, word dit duidelik waarom die inskrywings soveel beter presteer het. Wat DKM, korrels per aar, sowel as die grootte van die korrels betref, was daar betekenisvolle verskille tussen die inskrywings en die kultivars.
Miskien maak 1 mm of 2 mm in lengte of breedte per korrel dalk nie ’n indruk nie, selfs nie die 0,01 g/korrel nie, maar indien dit omgesit word na ’n verhoging van bykans 1 t/ha, laat dit ’n mens regop sit. En dit is presies wat gebeur.
’n Korrel wat 0,03 g weeg, teen sowat 42 korrels/aar en 328 are/m2 (soos in Tabel 1), lewer ’n opbrengs van 4,13 t/ha. Indien daardie selfde korrel 0,04 g sou weeg (deur ’n verhoging van 1 mm of 2 mm in lengte of breedte), sal dit, steeds teen 42 korrels/aar en 328 are/m2, ’n opbrengs van 5,51 t/ha lewer – ’n verhoging van bykans 1,4 t/ha. Dit laat die prentjie soveel beter lyk.
Met die volgende scenario kan ons die korrels dieselfde grootte hou, maar die hoeveelheid korrels per aar verhoog. Indien daar net tien korrels per aar meer ontwikkel, kan die opbrengs met sowat 1 t/ha opskuif. ’n Aar waaraan daar 42 korrels (teen 0,03 g/korrel) voorkom, teen 328 are/m2, sal ’n opbrengs van 4,13 t/ha lewer. Indien die hoeveelheid korrels vermeerder na 52 korrels/aar (steeds teen 0,03 g/korrrel), skuif die opbrengs op na 5,12 t/ha – byna presies 1 t/ha hoër.
Deur middel van hierdie projek beoog ons om met klein veranderinge ’n reuseverskil ten opsigte van opbrengs te maak. Hierdie hoë-opbrengslyne is reeds gedurende die eerste twee jaar van hierdie projek by LNR-Kleingraan geïdentifiseer. Gedurende die afgelope twee jaar is heelwat navorsing rondom merkerdata en laboratorium-fenotiperings gedoen. Die feit dat hierdie geselekteerde lyne ook in die veld so goed presteer het, gee opnuut hoop dat die beperkings wat daar tans op koringproduksie is, oorkom kan word.
Die lyne met die hoogste opbrengs gaan vir ’n tweede jaar in ’n veldproef op Bethlehem geplant word, tesame met ’n aantal nuwe toevoegings. ’n Geselekteerde groep van hierdie materiaal gaan in ’n aantal proewe in die onderskeie produksiestreke geplant word om te bepaal hoe hulle onder ander omstandighede presteer. Intussen is analises reeds in die kwaliteitslaboratorium van LNR-Kleingraan gedoen om hierdie lyne se kwaliteitseienskappe te bepaal.
Hierdie navorsing word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.