Australië-besoek ’n belegging in kanola

Gepubliseer: 6 Februarie 2024

196
Corné Louw,
hoof: Toegepaste Ekonomie en Lede­dienste, Graan SA

Omdat die beskikbaarheid van kanolasaad ’n kroniese probleem in Suid-Afrika geword het, het Graan SA besluit om ’n afvaardiging na Australië te stuur aangesien byna alle kanolasaad wat in Suid-Afrika geplant word van Australië afkomstig is.

Die kanolabedryf het in die afgelope jare aansienlik gegroei, maar het egter ook gesukkel om betroubare en tydige saadvoorraad te kry. Aangesien 100% van Suid-Afrika se kanolasaad ingevoer word, is dit ’n voortdurende stryd en risiko vir die bedryf as geheel om genoeg saad te kry.

Graan SA se leierskap het saam met ander rolspelers in die kanolawaardeketting besluit dat ’n besoek aan Australië, waar die meeste van die huidige kiemplasma vandaan kom, voordelig sou wees. Dit was nodig om die maatskappye wat kanolasaad teel en dit in Australië vermeerder te besoek met die volgende uitkomste in gedagte:

  • Die bou van verhoudings met die besluitnemers, telers en saadvermenigvuldigers.
  • Om begrip te skep oor hoe afhanklik Suid-Afrikaanse kanolaprodusente is om saad van hulle te verkry.
  • Die soek van geleenthede om die saadwaardeketting so doeltreffend moontlik te maak.
  • Om die beperkings en hindernisse vanuit hulle oogpunt beter te verstaan.

Graan SA het deur sy strukture drie individue (twee produsente en een Graan SA-personeellid) geïdentifiseer om Australië in September 2023 te besoek.

Die organisasie is verteenwoordig deur Koos Blanckenberg (voorsitter van die Kanolaspesialiswerkgroep), Franco le Roux (ondervoorsitter) en Corné Louw (hoof: Toegepaste Ekonomie en Lededienste, Graan SA). Tydens die grootste gedeelte van die besoek was dié verteenwoordiging deel van ’n groter groep Suid-Afrikaners uit die kanolabedryf wat gegaan het om die Australiese bedryf te ondersoek en bande met hul besluitnemers te bou.

Franco le Roux en Koos Blanckenberg in Advanta se saadpakstoor by ’n besending vir Suid-Afrika.

Direkte besoeke is by Advanta Saad en Pioneer afgelê. Bande is ook tydens die Internasionale Kanolakongres wat in Sydney aangebied is met die ander saadmaatskappye gesmee.

Vervolgens van die hoogtepunte wat uitgelig kan word oor die Australië-besoek wat kanola betref:

  • Kompetisie in die Australiese saadmark is baie sterk en dit behoort tot groot voordeel vir Suid-Afrika ook te wees (ongeveer agt maatskappye, waarvan drie 90% van die saadmarkaandeel het).
  • As gevolg van die kompetisie is die pyplyn van nuwe, verbeterde kultivars iets om oor opgewonde te wees.
  • Die bande en kontakte wat met die besluitnemers en die telers in Australië gebou kon word, is van onskatbare waarde.
  • Suid-Afrika se saadbehoefte is verstaan en ter harte geneem.
  • Die Suid-Afrikaanse afvaardiging het besef dat Australië ook hulle eie uitdagings het. Hulle aanplantings het in een jaar gegroei van 2,5 miljoen ha na 3,5 miljoen ha. Dit het natuurlik geweldige druk op die voorsiening en beskikbaarheid van saad gehad.
  • Behalwe vir een gewilde kultivar, blyk dit dat daar genoeg saad vir die komende seisoen beskikbaar gaan wees.
  • Die meeste van die plaaslike maatskappye beplan om buffervoorraad aan te hou om die risiko van saadvoorsiening te verminder.
  • Omdat Australië se seisoen ’n bietjie later as Suid-Afrika s’n is, is die tydsberekening van saadverskaffing amper as die grootste risiko geïdentifiseer.
  • Dit was verblydend om te sien dat die plaaslike saadmaatskappye ’n goeie verhouding met hul vennote in Australië het.

GMO versus nie-GMO
Sal Suid-Afrika steeds ’n nie-GMO-mark kan bly sonder om ons mededingendheid te verloor? Dit is ’n belangrike vraag wat die Suid-Afrikaanse mark moet beantwoord. Alhoewel Roundup Ready-kanola vir produ­sente nog ’n hulpmiddel in die gereedskap­kis gee wanneer dit by onkruidbeheer en onkruiddoderweerstand kom, het dit nie ge­voel asof ons kultivarvooruitgang sal ver­loor as ons nie die GMO-roete volg nie. Suid-Afrika sal dan bloot ’n ander hulpmiddel vir onkruidbeheer moet kry.

Insetwaardeketting in Australië
Dit was duidelik dat daar geen direkte verkope van vervaardigers in Australië aan produsente plaasvind nie. Elke vervaardiger – of dit nou ’n saadmaatskappy of ’n agrochemiese maatskappy is – verkoop deur herverkopers/verspreidingsmaatskappye.

’n Spesiale woord van dank aan Advanta vir die administratiewe reëlings van die grootste deel van die besoek asook vir SSK, Kaap Agri en Graan SA wat die produsenteverteenwoordiging se direkte koste gedek het.