Die graanopbergingsbesluit

1979
Dr Charl van der Merwe,
besturende direkteur,
ViribusConsult

Die opberging van landboukommoditeite soos mielies en koring word reeds in die Bybel beskryf toe Josef graan opgeberg het om voorsiening te maak vir die sogenaamde maer jare. Terwyl grane seisoenaal verbou word, word dit regdeur die jaar gebruik en die behoefte bestaan dus om dit op te berg.

Sedert die afskaffing van die beheerrade, is daar opbergingskapasiteit op plase in Suid-Afrika geskep. Volgens ’n ondersoek in 2011 is 9% van die totale opbergingskapasiteit in
Suid-Afrika op plase.

Redes vir plaasopberging
Australië
’n Studie gedurende 2015 in Australië het getoon dat 22% van die totale opbergingskapasiteit in dié land op plase opgerig is. Volgens dié studie is die belangrikste redes vir die oprigting van opbergingskapasiteit op plase in Australië:

  • Verhoogde produksie;
  • die deregulering van koringuitvoere;
  • die behoefte om verhoogde stroperkapasiteit te bestuur;
  • die behoefte van produsente om meer beheer te hê oor die pad na die mark; asook
  • die herstrukturering van kommersiële silokapasiteit in die produksiegebiede.

VSA
Die opbergingskapasiteit op plase beloop tussen 55% tot 60% van die totale graanopbergingskapasiteit in die VSA. Die persentasie wissel egter van 30% in Kansas tot 75% in Noord-Dakota.

Verskille in aspekte soos vervoer, infrastruktuur, klimaat, die belangrikheid van lewendehawevertakkings en die intensiteit van produksie, is as redes vir dié verskille geïdentifiseer.

Die studie identifiseer die onderstaande aspekte as die belangrikste redes vir plaasopberging in die VSA:

  • Opbergingskapasiteit is beskikbaar wanneer dit benodig word.
  • Opbergingskapasiteit is beskikbaar gedurende surplusgraanjare.
  • Aanpasbaarheid binne die bemarkingsplan word verhoog.
  • Die moontlikheid om graan met spesifieke eienskappe apart op te berg, verbeter.
  • Kongestie tydens die stroopproses word verminder.
  • Die beskikbaarheid van graan vir veevertakkings word verseker.
  • Veranderlike koste verbonde aan die opberging van graan op die plaas kan laer wees as kommersiële tariewe.

Nadele
Die VSA-studie het ook die volgende nadele verbonde aan die opberging van graan op plase in die VSA geïdentifiseer:

  • Die produsent aanvaar verantwoordelikheid vir die behoud van die graan se kwaliteit gedurende die opbergingsperiode.
  • Die totale koste verbonde aan die opberging van graan op plase kan hoër wees as die tariewe van kommersiële opbergers.
  • Bykomende arbeid kan benodig word.
  • Al word geen graan opgeberg nie, bestaan die vastekostekomponent steeds.
  • Weer- en ander omstandighede kan veroorsaak dat produsente nie graan afkomstig van plaasopbergingstrukture op die verlangde tydstip aan kopers kan lewer nie.

’n Finansiële model is ontwikkel om die finansiële aspek ten opsigte van die opberging van graan op plase te ondersoek. In Grafiek 1 word die veranderlike koste verbonde aan die opberging van graan op plase in Kansas met die koste verbonde aan die opberging van graan in kommersiële strukture vergelyk. Die tariewe wat ’n kommersiële graanopberger hef, is ’n veranderlike koste vir ’n produsent, aangesien dit slegs van toepassing is as graan fisies by die opberger opgeberg word.

Gelykbreekpunt
Gebaseer op die inligting soos aangetoon in Grafiek 1, is ’n periode van vyf maande ’n belangrike gelykbreekpunt. Die veranderlike koste verbonde aan die gebruik van ’n kommersiële silo kan volgens die studie (Grafiek 1) laer wees as die kumulatiewe veranderlike koste verbonde aan plaasopberging indien die graan vir periodes korter as vyf maande opgeberg word. Na die vyfmaandeperiode is die kumulatiewe koste van die kommersiële silo’s in die studie hoër as die kumulatiewe veranderlike koste van plaasopberging in die studie.

’n Ander studie in die VSA gedurende 2015 het aangetoon dat die tradisionele pryskurwe beïnvloed word deur ’n toename in die opberging van grane op plase in die VSA en die gebruik van mielies vir etanolproduksie.

Minimum vereistes
Verskeie opbergingsmetodes, naamlik sinkbuise, silosakke, plastiekdamme, sinkdamme of store kan onder meer gebruik word om graan op te berg. Opbergingstrukture moet aan die volgende minimum vereistes voldoen:

  • Dit moet waterdig en lugdig wees.
  • Dit moet die graan kan binnehou.
  • Plaagdiere moet uitgehou word.
  • Die beheer van insekte moet vergemaklik word.
  • Dit moet die inlaai en uitlaai van graan vergemaklik.

Plaaslike produsente het ’n keuse
Suid-Afrikaanse graanprodusente het vandag die keuse of hulle gebruik wil maak van die dienste van ’n kommersiële silo en of hulle self die graan wil opberg deur van bogenoemde metodes gebruik te maak.

Graanopberging het ’n veranderlike en ’n vastekostekomponent. Die vastekostekomponent gaan gepaard met kapitale beleggings wat ’n langtermynaard het. Ten einde die impak van graanopberging op ’n boerdery se kapitaalaanwending te ontleed, is ’n studie gedurende 2012 onderneem waarvolgens ’n geheelplaasbeplanningsmodel ontwikkel is. Die model ontleed die effek van verskillende opbergingsmetodes op die kapitaalaanwending binne die boerdery oor ’n tydperk van 20 jaar volgens die nettohuidigewaarde-metode.

Volgens die nettohuidigewaarde-metode word die kapitale belegging afgetrek van die totale netto kontantvloei oor die periode. ’n Verdiskonteringskoers (wat die minimum aanvaarbare opbrengskoers verteenwoordig) word gebruik om toekomstige kontantvloei gelyk te stel aan die huidige waarde.

Die studie het die volgende aspekte in ag geneem:

  • Verskillende opbergingsmetodes, naamlik kommersiële silo’s, sinkbuise op die plaas, silosakke op die plaas, plastiekdamme op die plaas en sinkdamme op die plaas.
  • Die grootte van die produksie-eenheid, naamlik 15 000 ton, 5 400 ton, 1 360 ton en 300 ton.
  • Die afstand vanaf die kommersiële silo, naamlik 15 km, 30 km en 50 km.
  • Verskillende bemarkingstrategieë, naamlik:
    • Verkoop al die mielies tydens oestyd.
    • Verkoop al die mielies in Desember.
    • Verkoop al die mielies tydens oestyd en koop ’n koopopsie (call).

Tydens die studie is die onderstaande aannames gebruik:

  • Geen vreemde kapitaal word gebruik om kapitale goedere aan te koop nie.
  • Dieselfde hoeveelheid kapitaal was vir al die scenario’s op dieselfde produksie-eenheid beskikbaar.
  • Surpluskapitaal is ekstern belê.
  • Geen surplusse of tekorte ten opsigte van voorraad word in die verskillende opber­gingsmetodes realiseer nie.
  • Vervoerkontrakteurs is gebruik om die graan tussen die plaas en kommersiële silo te vervoer.
  • Op die plaas word die graan met trekkers en sleepwaens van die land na die sentrale opbergingspunt vervoer.

Resultate
Die resultate van die studie kan soos volg opgesom word:

  • Die winsgewendheid van die produksie-eenheid kan deur die keuse van opbergingsmetode beïnvloed word.
  • Die effektiwiteit waarmee kapitaal in die boerdery aangewend word, kan deur die keuse van opbergingsmetode beïnvloed word.
  • Die grootte van die produksie-eenheid kan die keuse van opbergingsmetode beïnvloed.
  • Soos die produksie-eenhede groter word, word die verskil ten opsigte van die impak van die verskillende opbergingsmetodes op die effektiewe aanwending van kapitaal binne die boerdery kleiner.
  • Die interaksie tussen die spesifieke opbergingsmetode en die bemarkingstrategie moet in ag geneem word wanneer ’n opbergingsmetode gekies word.
  • Variasie in opbrengste kan die keuse van ’n opbergingsmetode beïnvloed.
  • Die gebruik van graan vir veevertakkings op die plaas kan die keuse van opbergingsmetode beïnvloed.
  • Logistieke aspekte kan die keuse van opbergingsmetode beïnvloed.
  • Die waarde van die graan wat opgeberg word, is meer as die koste verbonde aan die opberging van die graan.

Graanhantering en -opberging vorm ’n integrale deel van die graanwaardeketting. Dit is daarom belangrik dat ’n deeglike ontleding van die risiko’s sowel as die finansiële, operasionele en logistieke aspekte gedoen word, voordat ’n besluit geneem word ten opsigte van die opbergingsmetode wat gebruik gaan word.

Vir navrae, kontak dr Charl van der Merwe by charl@viribusconsult.com.

Bronne

  1. Dhuyvetter, K. 1999. On-farm vs commercial grain storage in Kansas.
  2. Risk and Profitability Conference, Manhattan. 19 – 20 August 1999.
  3. Dhuyvetter, K, Harner, JP, Tajchman, J, & Kastens, TL. 2007. The economics of on-farm storage. Kansas: Kansas State University.
  4. Flory, C (August 2015 – formal editor Profarmer USA – personal meeting) aangehaal deur Freeth, A. 2015. On farm storage and the grain supply chain. 2015. Nuffield Australia.
  5. Freeth, A. On farm storage and the grain supply chain. 2015. Nuffield Australia.
  6. Pearson, C. 2006. Grain storage as a marketing strategy. Alberta: Government of Alberta.
  7. Van der Merwe, CD, Willemse, J, & Lubbe, A. 2012. Die impak van verskillende gaanopber­gingsmetodes op die aanwending van kapitaal in ’n mielieboerdery in die Noordwes Provinsie.