April 2018

TOIT WESSELS, assistent-bestuurder: NAMPO en Bemarking, Graan SA

Graan SA het tydens die afgelope Kongres terugvoer aan lede oor die resultaat van die heffingsinkomste vir die 2017/2018-seisoen verskaf.

Mnr Anton Botha (nuutverkose voorsitter van die Bemarkingswerksgroep) het gesê dat alhoewel die pryse van die kommoditeite onder druk was, die lede hul bydraes met ‘n positiewe gesindheid gelewer het. Die uitsonderlike groot heffingsbedrag wat ontvang is, dui op die positiwiteit van ons produsente teenoor Graan SA.

Die 2017/2017-oes het ‘n bo-normale oes in die binneland opgelewer, met ongelukkig ‘n baie kleiner oes in die Wes- en Suid-Kaap (40% daling in wintergraanproduksie). Die ongekende droogte en hittetoestande wat dele van ons produksiegebiede beleef het, het beslis ‘n groot aantal produsente se oesgrootte beïnvloed.

Inkomste
Graan SA het ‘n heffingsinkomste van R21,1 miljoen gerapporteer, wat skitterend is gemeet teen die begrote syfer van R14,8 miljoen. Hierdie inkomste bo begroting kan toegeskryf word aan harde werk deur die Hoofbestuurslede en die bemarkingspan.

Die skitterende inkomste het daarom verseker dat daar met ‘n wins van R6,3 miljoen afgesluit kon word, teenoor die begrote verlies van R1,4 miljoen. Botha het almal betrokke bedank vir hul aandeel in hierdie uiters positiewe resultaat.

Agente
Die steeds groeiende mark met meer kopers, bly beslis ‘n uitdaging vir die bemarkingspan. Die vestiging van vennootskappe met al die kopers en handelaars van graan bly ‘n volgehoue projek.

Die getal agente wat Graan SA met die invordering van die heffingsgelde bystaan, het die afgelope jaar met drie toegeneem. Botha het ‘n woord van dank aan agente wat die invordering van die heffing deur hul kanale bewerkstellig het, uitgespreek.

Ledetal
Graan SA se fokus bly daarop om ons lede van diens te wees. Dit is verblydend om te kan rapporteer dat die opbetaalde lede met 17,5 % tot 2 971 lede gestyg het. Die 40%-toename van nuwe era-boere (uitgesluit studiegroepgelde) is vir Graan SA uiters positief.

Heffings
Graan SA Kongres het besluit om by die gedifferensieerde heffings op verskillende gewasse te bly. Die heffings is steeds in lyn met die gemiddelde prys van kommoditeite en werk uit op ongeveer 0,1% van die waarde per ton.

Tabel 1 toon die nuwe heffingsbedrag per kommoditeit soos vanaf 1 Maart 2018. Die 2017-voorstel om die studiegroepledegelde in 2018 na R50 per lid te verhoog, is weer bekragtig.

Dankie
Graan SA is en bly ‘n produsente-organisasie en die heffingsinkomste is die hartklop van die instansie. Dit verseker dat Graan SA sy werksaamhede kan voorsit.

Die voorsitter van die Bemarkingswerkgroep het weer eens sy dank teenoor lede uitgespreek vir hul getroue bydrae tot die organisasie en hul gerus gestel dat die fokus steeds is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees.

Die voorstel om R4 miljoen van die wins te oormerk vir Regs­hulpfondse (R3 miljoen vir Agri SA en R1 miljoen vir Graan SA) is deur Botha voorgehou en so aanvaar.

Hy het afgesluit deur te noem dat die insette, betrokkenheid en deelname van Graan SA se personeel op grondvlak – hetsy by boeredae/boereverenigings of Graan SA-inligtingsdae – definitief ‘n rol gespeel het in die insameling van die genoemde bedrag. Hy het voorts gesê dat dit nie ongesiens verby gegaan het nie en dat hy hul daarvoor wil bedank.

Publication: April 2018

Section: Review on Congress