Die fees van die opwekkers

548

Beste Grootneef

Ons het so ’n tydjie gelede by die familie in die stad gaan kuier. Om daar uit te kom bly ’n stryd – die oorvol paaie, taxi’s en tollenaars maak dit ook nie makliker nie. Min het ons geweet wat in die stad op ons wag. Hoe dit ook al sy – dit is tog altyd lekker om die ou bekendes met aankoms te sien en te beleef. En om op te vang wat waar met wie gebeur het.

Die aand om die etenstafel het die ligte geflikker en toe heel gedoof. Die aanvanklike stilte is oomblikke later versteur deur ’n gekug van een of twee, en weldra ’n gedreun van vele in die buurt. Dit was ’n fees vir opwekkers – groot en klein, met kanne petrol en diesel wat opgeslurp is.

Die huise sonder ’n kragopwekker kon gou uitgeken word met ’n dowwe glans van gas- of paraffienlampe – pure plaas in die middel van die stad. So teen laataand het die gedreun van die opwekkers getaan soos een vir een afgeskakel is of drooggeloop het. Hul fees was verby.

Ou Neef, die volgende oggend was die woongebied egter een groot verkeersknoop. Die meeste robotte was steeds so uit soos ’n kers. Ubuntu en al die mooi goed van ’n reënboognasie was by die laaste uitlaatpyp uit, met net eiebelang wat elke kar aangedryf het. Hier en daar met swetsende bestuurders wat hul nerwe verloor het.

Die dag het heel skeef vir die meeste stadsbewoners begin deur laat by skool of kantoor op te daag. Steeds was dit egter het einde niet. Van die kitsbanke het gestaak en het op geen kaart of skakel reageer nie. Van die petrolstasies kon nie pomp nie. Vele winkelsentrums se ligte was gedoof met wagte wat besoekers by ingange weggekeer het. Die slaghuis se snitte was gedaan met ’n saag en ’n blokman wat lusteloos rondgestaan het. Van die woonbuurte se watertenks het leeggeloop tot daar net lug in die pype was. Op die vraag wanneer ’n nuwe stroom krag weer deur die stelsel sou vloei, was daar onsekerheid by almal.

Die beste deel van die besoek aan die stad, was die pad terug Vrystaat toe.

Ou Neef, dalk is ons dieper in die jêm met Eskom se deurmekaar sake as wat ons gedink het, met geen profeet wat hulle weer sal kan opwek nie. Baie besighede se voortbestaan hang aan ’n kragdraadjie. Indien kragtoevoer hulle sou pootjie, is daar nie alternatiewe nie. Eie kragvoorsiening met ’n opwekker of ’n sonpaneel is steeds ’n baie duur opsie. Eintlik is algar in en om die stad afhanklik van die kragstrome van Eskom.

Só van afhanklikheid en alternatiewe gepraat. Dit bly mos enige mens se strewe om onafhanklik te bly, jou eie ding te doen en die wêreld te verken. Soos ’n oupa Willem wat op 91 by sy kinders kom ouers vra het om weer te trou.

Die verbasing was groot oor die nuwe wending. Oupa is nou wel deur die Boereoorlog en die rebellie, maar om op 91 weer vrou te vat? Die vraag was natuurlik waar hy loop kuier het om weer die vonk van danigheid te laat opvlam. Toe verduidelik oupa dat hy op Donderdae by Huis Silwerkroon op die dorp gaan kuier het. En van die jongetjies van so tussen 60 jaar en 70 jaar wat daar rondsit en tee drink. En almal van hulle wat dink hy is nog ’n ramkat wanneer hy daar met sy eie kar voor die deur stop. Jy kan maar sê hy het sy pad oor ’n kan tee oopgekuier tot by ’n nuwe lewensmaat. So het hul dan die laaste jare saam geslyt totdat hy op 97 die laaste aftog geblaas het.

Ou Neef, buurman Dawie het by Graan SA se Kongres vertel dat Kanaän nie ’n plek is nie, maar dat dit in jou hart is. So ook is ouderdom bloot ’n nommer met ’n jaartal. Hou die vlam aan die brand met ’n gees van verkenning en die behoud van die goeie. Moet nooit permanent kamp opslaan of op ’n stoep bly sit nie. Want die wêreld is wyd – en daar is nog soveel om te sien, met
of sonder Eskom.

Groete aan Koster se manne. Met ’n opregte dank vir die vars gestookte wittetjies. Dié sal in die wintermaande (à la Jan Spies) ’n poort deur die koue wees.

 

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.