Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 4: Rhodesgras (Chloris gayana)

1558

Hierdie artikel is die vierde in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in bewaringslandbou-gebaseerde (BL-gebaseerde) gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word. Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en/of grondherstel.

Chloris gayana/Rhodesgras (Rhodes grass)

Volgens die literatuur is Rhodesgras in 1895 na Suid-Afrika ingevoer. ’n Inligtingsdokument deur die Voedsel en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO) wat op die internet gepubliseer is, lui: Katambora Rhodesgras is afkomstig van die walle van die Zambesi-rivier in Zimbabwe.

Katambora Rhodesgras is een van die gewildste kultivars van hierdie spesie en die saad is vir baie jare deur tabakboere in Zimbabwe geproduseer. Op die oomblik is Katambora en Boma die enigste twee kultivars op die Suid-Afrikaanse kultivarlys, hoewel die kultivar Giant (oorspronklik van Tanzanië) ook in Suider-Afrika gebruik word.

Soos die naam aandui, groei Giant baie hoog en lewer ’n hoë opbrengs, maar dit is nie smaaklik op ’n volwasse groeistadium nie en is minder droogtebestand as die ander kultivars.

Land met Rhodesgras in die voortplantingstadium van die eerste jaar.

Landbou-ekologiese verspreiding

Een van die redes vir die gewildheid van Rhodesgras is sy vermoë om by ’n verskeidenheid klimaats- en grondtoestande aan te pas. Oor die algemeen word daar voorgestel dat dit in gebiede met ’n reënval van 650 mm/jaar en hoër geplant word.

Hoewel dit goed groei in natter moerasgebiede in grond met ’n hoër klei-inhoud, groei dit ook goed in die droër gebiede van Limpopo. Dit is goed bekend vir sy vermoë om in grond met ’n hoë pH en selfs brakgrond te groei. Dit kan lae temperature en selfs ryp oorleef.

Rhodesgras is daarvoor bekend dat dit ’n swak meerjarige spesie is en kan vir drie of vier jaar baie produktief wees. Aangesien dit ’n hoë saadproduksie het, kan ’n mens egter hierdie periode effens verleng as dit gelos word om self weer te saai voordat dit ontblaar word.

Rhodesgrasproduksie teen 16 ton DM/ha.

Bestuur en benutting

As gevolg van sy wollerige/donsagtige saad moet dit in ’n goed voorbereide, fyn en ferm saadbed gevestig word. Dit moet behoorlik gerol word voordat en nadat daar gesaai is om ontkieming en vestiging te bevorder. Vestiging kan gedoen word met suiwer Rhodesgrassaad, teen 5 kg/ha tot 8 kg/ha in rye en 8 kg/ha tot 12 kg/ha as dit gestrooi word.

Wanneer verpilde saad gebruik word, moet die saaikoers met ten minste 30% verhoog word. Hierdie spesie ontkiem en vestig gouer as ander sterk meerjarige spesies en daar word dus altyd aanbeveel dat dit in ’n mengsel gesaai word.

Die volgende mengsels kan oorweeg word:

  • Rhodes- + Smutsvingergras: 2 kg/ha tot 4 kg/ha van elke spesie.
  • Rhodes- + Smutsvingergras + witbuffelsgras + borseltjiegras (bekend as die gewilde Potch-mengsel).
    Met ’n:

    • lae tot gemiddelde reënvaljaar word daar aanbeveel dat 1 kg/ha tot 2 kg/ha van elke spesie geplant word.
    • hoë reënvaljaar word daar aanbeveel dat 2 kg/ha tot 3 kg/ha van elke spesie geplant word.

Wanneer beter vogbewaring in droë seisoene vereis word, is dit raadsaam om die spesie in rye te plant. Die rye moet ongeveer 600 mm tot 900 mm van mekaar wees en dit moet behoorlik gekonsolideer word om goeie ontkieming te bevorder. Daar is bewyse dat die trekkerwiel- of kompressiewiel-plantmetode ’n betroubare metode is om hierdie doel te bereik. In gebiede met ’n hoër reënval word saadstrooiing (meer saad per hektaar) aanbeveel, met die vereiste van voldoende konsolidasie deur dit behoorlik te rol.

Die bloeiwyse van Rhodesgras.

Dit is belangrik dat alle aangeplante weiding vir volhoubare produksie oor die lang termyn bemes moet word. Rhodesgras sal in grond met ’n pH van 6 tot 7 groei, maar groei ook goed in grond met ’n hoër pH en in brak toestande.

Die fosforinhoud (P) van die grond moet voor vestiging 12 mg/kg tot 18 mg/kg wees, terwyl die kaliuminhoud (K) tussen 100 mg/kg en 120 mg/kg moet wees. Dit is belangrik om hierdie vrugbaarheidsvlakke te moniteer, veral in die geval van hooiproduksie waar geen herbenutting van mis en urine plaasvind nie.

’n Jaarlikse aanwending van 60 mg/kg tot 150 kg/ha suiwer N (± 200 mg/kg tot 600 kg/ha kalksteenammoniumnitraat), afhangend van reënval, word aanbeveel. As gevolg van hoë misstofpryse kan die volgende prosedure gevolg word: In lae reënvalgebiede, wend ± 30 kg N/ha (± 100 kg/ha kalksteenammoniumnitraat) in die vroeë somer aan nadat die eerste 50 mm tot 70 mm reën geval het.

Ná die eerste sny- of weidingsiklus, wend weer 30 kg N/ha aan, en as daar genoeg reën in Januarie is, kan ’n finale aanwending van 30 kg N/ha gedoen word (totaal 90 kg N/ha) as dit nodig is. In hoër reënvalgebiede (600 mm +) kan dieselfde strategie gevolg word, maar met hoër aanwendingskoerse (50 kg tot 60 kg N/ha of 170 kg/ha tot 200 kg/ha kalksteenammoniumnitraat).

As gevolg van Rhodesgras se inherente smaaklikheid kan dit vir ’n hele jaar lank in ’n voervloeiprogram gebruik word. Benewens dat dit vir weiding gebruik word, maak Rhodesgras uitstekende hooi en word as ’n goeie staandehooi-opsie in die winter beskou.

Om as ’n wintervoer gebruik te kan word, moet die gras vroeg in die somer as weiding of hooi benut word en dan vanaf middel Januarie tot aan die begin van die winter rus. Bemesting in Januarie is dan van die uiterste belang.

Bestuursuitdagings

As dit oorbenut word, het Rhodesgras die neiging om op ’n vroeë stadium te vrek. Daar word gespekuleer dat sy groeipunte hoër bokant die grondvlak sit as by ander grasse en dus makliker deur kort beweiding beskadig word.

’n Tweede teorie is dat die gras sy energiereserwes gedurende die winter in die wortelkrone asook in die basis van die plant (bokant grondvlak) stoor, en dat kort lentebeweiding nadelig kan wees. Die feit dat ’n veld van Rhodesgras in die Vrystaat vir 17 jaar oorleef het omdat dit net vir hooi gesny is en nie bewei is nie, kan bogenoemde teorieë ondersteun.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

As gevolg van Rhodesgras se vermoë om deur uitlopers of ranke te versprei, is dit ’n goeie spesie om vir erosiebeheer te gebruik. Rhodesgras het ook ’n verdere voordeel met sy vermoë om aalwurms te beheer. Albei hierdie eienskappe maak dit ’n nuttige rotasiegewas vir tabak-, tamatie-, aartappel- en pynappelboere.

Die belangrikste eienskappe van Rhodesgras is:

  • Dit ontkiem en vestig vinniger as die meeste ander meerjarige, subtropiese grasspesies.
  • Dit produseer uitlopers wat die grond vinnig bedek en erosie voorkom.
  • Dit het die vermoë om aalwurms in die grond te beheer en word om daardie rede as ’n rotasiegewas vir tabak, tamaties, aartappels en pynappels gebruik.
  • Dit is by brakgrond en selfs beperkte versuipte grond aangepas.
  • As dit oorbewei word, sal die groeikrag afneem en dit kan binne drie tot vyf jaar verdwyn.

Hierdie eienskappe maak dit ’n baie nuttige en veelsydige aangeplante weiding.

Diereproduksie-aspekte

Navorsing het getoon dat ’n weidingskapasiteit van tot 2 GVE/ha bereik kan word, met ’n totale gewigstoename van 0,6 kg/GVE/dag, met ’n totale massa van 448 kg/ha. In uiters hoë reënvalseisoene kan daar verwag word om 23 ton/ha hooiproduksie te bereik.

Die voedingswaarde van Rhodesgras is hoogs afhanklik van klimaatsfaktore, grondvrugbaarheid en bemesting. Die ru-proteïeninhoud van jong groeisels kan tussen 15% en 17% wissel, maar kan ook so laag as 4% wees as die aangeplante weiding baie volwasse is, met ou stingels.

Graangewasproduksie

Nadat ’n tipiese rusoesgewasstelsel met Rhodesgras vir ’n tydperk van ongeveer vyf jaar lank gebruik is, behoort die grond genoeg herstel te wees om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te kweek. Onkruiddoders maak die aangeplante weiding vinnig dood en die aangeplante weidingreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder, asook hulle tempo van mineralisasie verlaag.

Wanneer ’n besluit geneem is om die rusoes te beëindig, moet alle aangeplante weidingskomponente beskou word as “onkruid” wat verwyder moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe gesien word nie.

Afhangend van die aangeplante weidingspesie en die situasie (byvoorbeeld droë of nat gebied) kan die aangeplante weiding doodgemaak word ’n seisoen voordat graangewasse geplant word om toe te laat dat die grondprofiel met water aangevul word. Die watervereistes vir die eerste oes wat ná die aangeplante weiding beplan word, sal die tydsberekening vir die verwydering van die aangeplante weiding beïnvloed. Betroubare en tydige seisoenale reënvalvoorspellings kan met hierdie beplanning help.

Ná die aangeplante weidingfase sal die graangewasopbrengs beperk word as die grondprofiel droog is, tensy die grondwaterprofiel aangevul word. Nadat die aangeplante weiding verwyder is, moet onkruid in die braakland beheer word om grondwater te bewaar om die maksimum voordele uit die rusoes te verkry. ’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die aangeplante weidingsgewas te plant sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur. Normale geïntegreerde bemestings- (gegrond op grondvrugbaarheidsvlakke en opbrengsmikpunte), onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word.

Gevolgtrekking

Rhodesgras is ’n gras wat sterk aanbeveel word. Dit word beskou as ’n gras met baie funksies binne ’n gewas- en lewendehawe-produksiestelsel. Dit verskaf nie net hooi en weiding van ’n goeie gehalte wanneer dit in ’n rusoes-gewasverbouingstelsel as aangeplante weiding gebruik word nie, maar dit dien ook as ’n berokingsmiddel vir grond wat byvoorbeeld met aalwurms besmet is.

Die gras vestig vinnig en dit het die vermoë om gedegradeerde en/of kwesbare grond met ’n hoë erosiepotensiaal te stabiliseer deur te verhoed dat die grond deur oorbeweiding gedestabiliseer raak. Soos by baie aangeplante weidings, as aangeplante weiding van ’n hoë gehalte vereis word, is verantwoordelike bemesting op toepaslike tye noodsaaklik.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.