Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

1544

Deel 2: Witmielies

Luan van der Walt,
landbou-ekonoom, Graan SA

Die eerste gedeelte van dié reeks het in die Junie-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn en het gehandel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en oliesademarkte.

Deel 2 gaan meer na die spesifieke inligting van witmielies verwys. Aangesien die reeks grootliks fokus op die belangrikheid van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale indeksberekeninge.

Waarna om te kyk
Alhoewel vraag en aanbod die twee belangrikste aspekte is wat die pryse van enige kommoditeit beïnvloed, is dit belangrik om te onthou dat die beskikbare langtermyninligting nie net vir hierdie fundamentele aspekte aangewend kan word nie.

Betroubare langtermyndata het ’n baie groter waarde as slegs die fundamentele aspek daarvan. Hierdie tipe data kan aangewend word ter bevordering van markintelligensie aangesien dit bydra tot langtermyntendense waaruit goeie afleidings gemaak kan word. Indien hierdie tipe inligting nie tot die beskikking van die mark is nie, word dit baie moeilik om werklik die fundamentele werking van die mark te verstaan. Die instandhouding van betroubare langtermyndatabasisse moet nie gering geag word nie.

Langtermyninligting bied aan die mark die geleentheid om verskillende tendense te trek en te ontleed om seker te maak die funksionering van die mark word reg verstaan. In hierdie artikel is seisoenale indekse gebruik om die witmieliepryse asook beskikbare voorraadvlakke te vergelyk.

Seisoenale indekse
Die seisoenale indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan ook gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Seisoenale tendense
Grafiek 1 toon die seisoenale tendense van die witmielieprys asook die beskikbare voorraad per maand. Die prys sluit die Julie-termynprys asook die daaglikse pryse in.

Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat die witmielietermynpryse vir lewering in Julie gewoonlik gedurende Januarie ongeveer 8% hoër is as die gemiddelde jaarlikse prys. Die algemene tendens is dat die pryse nader aan strooptyd meer onder druk kom en gewoonlik tussen April en Oktober tussen 1% en 5% laer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.

Die daaglikse witmieliepryse volg min of meer dieselfde tendens met die pryse wat gedurende Januarie ongeveer 7% bo die jaarlikse gemiddelde pryse is. Die daaglikse prys se tendens plat vinniger af aan die begin van die jaar, maar tel ook weer vinniger op namate die stroopproses redelik voltooi is.

Tussen April en Oktober verhandel die daaglikse witmieliepryse gewoonlik tussen ongeveer 2% en 6% onder die jaarlikse gemiddelde pryse, terwyl dit tussen November en Maart tussen 2% en 7% bo die jaar se gemiddelde pryse verhandel.

Die indeks van beskikbare voorraad toon aan dat die voorraad oor die algemeen gedurende April die laagste is van al die maande en dat dit gedurende hierdie maand ongeveer 58% laer is as die gemiddelde beskikbare voorraadvlakke vir die jaar. Aan die einde van Augustus is die meeste witmielies beskikbaar en is dit gewoonlik 58% meer as die jaarlikse gemiddelde beskikbare hoeveelheid witmielies.

Ten slotte
Alhoewel hierdie artikel slegs een aspek van dit waarvoor die inligting gebruik kan word, aantoon, is dit belangrik om die waarde van die langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaar gemaak word. Dit sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om hierdie inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.

In die volgende gedeelte sal gekyk word na die geelmielie-inligting.