Dekgewaskeuses vir die winterreënvalstreek

299

Wat is ’n dekgewas en hoekom sou ’n produsent dit wou plant? Dekgewasse is maar net ’n enkele gewas of ’n kombinasie van gewasse (Foto 1) wat geplant word om ’n sekere doel te bereik. Dit mag wees om onkruid te onderdruk, erosie teen te werk, die grond se vrugbaarheid en kwaliteit te verhoog of selfs biodiversiteit in ’n agro-ekostelsel te verbeter.

Moet nooit vergeet nie dat enige plaas, maak nie saak waarmee daar geboer word nie, ’n agro-ekostelsel vorm. Ongelukkig het moderne boerdery baie van die natuurlike ekostelsels verwoes en daarmee saam is baie van die ekostelselfunksies verloor. Biodiversiteit speel ’n uiters belangrike rol in die dryf van hierdie ekostelselfunksies. Die insluiting van dekgewasse en veral kombinasies van gewasse kan help om die diversiteit in huidige produksiestelsels te verbeter.

Dekgewasse in die winterreënvalstreek
Wanneer ’n mens na dekgewasverbouing in die wêreld kyk, is dit duidelik dat dit meestal as ’n tussengewas gebruik word. Dit word tussen twee kontantgewasse aangeplant. In die Wes-Kaap sou dit beteken die dekgewas behoort dan in die somer geplant te word, aangesien dit ’n winterreënproduksiearea is. Dit is ongelukkig ’n baie moeilike proposisie.

In die Swartland is reën in die somer so skaars soos hoendertande, terwyl die Suid-Kaap wisselende somerreën kry. Dit sou van tyd tot tyd moontlik wees om ’n somerdekgewas in die stelsel te kry. Daar is wel al ’n paar produsente wat sukses het met somerdekgewasse in die suidelike Rûens en in die Dipka-area, anderkant Swellendam.

Die Direktoraat Plantwetenskappe was nog net een keer in drie pogings suksesvol met ’n somerdekgewas. Die spesifieke jaar het daar 200 mm gedurende die somer op die proef op Riversdal (Foto 2) geval.

Die enigste realistiese opsie wat dus oorbly vir die winterreënvalstreek, is winterdekgewasse. Dit beteken ’n aanpassing van die huidige rotasiestelsels om só ’n dekgewas te kan akkommodeer. Dit is egter nog een van die spoedwalle wat in die pad van dekgewasaanvaarding staan: Produsente is huiwerig om ’n kontantgewas te vervang met ’n dekgewas.

’n Verdere struikelblok is die feit dat die voordele van ’n dekgewas nie altyd onmiddellik sigbaar is nie. Gelukkig word daar tans verskeie navorsingsprojekte in die Wes-Kaap uitgevoer wat hierdie struikelblokke probeer aanspreek. ’n Derde rede vir die trae aanvaarding van dekgewasse, is die prys van saad.

Dekgewasprojekte en -resultate
Soeke na dit wat werk
Daar is tans drie dekgewasprojekte wat deur die Direktoraat Plantwetenskappe bedryf word. Die een projek se doel is om dekgewasse te identifiseer wat kan werk in die Wes-Kaap en om te kyk na moontlike kombinasies van hierdie gewasse. Die dekgewasse word met mekaar vergelyk ten opsigte van biomassaproduksie (dus as moontlike voerbron) en onkruid­onderdrukking.

Koring- en garsproduksie word ook gemeet in die daaropvolgende jaar en die effek van die dekgewasse op grondgesondheid word bepaal. Sodoende kan die beproefde resultate met produsente gedeel word ten einde hul keuses te verbeter.

In die tweede projek word daar gekyk na die effek van verskillende bestuursmetodes van dekgewasse op die beskikbaarheid van voedingstowwe vir die daaropvolgende gewas, asook die effek van die bestuur op die daaropvolgende koringoes. Hierdie navorsing maak deel uit van ’n groter wisselbouproef waarin daar gepoog word om insette te verminder oor tyd. Daar is twee dekgewasmengsels wat elke jaar geplant word binne die drie rotasiestelsels wat getoets word.

Uit die dekgewasidentifiseringsprojek se resultate (Tabel 1), is dit duidelik dat indien onkruid onderdruk wil word, Saia-hawer (swarthawer) die aangewese keuse sal wees. Met al die onkruiddoderweerstandsprobleme wat ondervind word en die druk wat op die huidige keuses van chemie is, moet daar na ander maniere van onkruidbestuur gekyk word.

Die dekgewasse word met minimum insette bestuur (geen kunsmis behalwe met plant nie, geen siekte- of insekbeheer nie – dus net plant- en termineringskoste). Net voor saadset word die dekgewas met behulp van ’n kneusroller (crimping roller) getermineer (Foto 3). Daar word gepoog om nie die gewas met chemie te dood nie, aangesien daar solank as moontlik lewende wortels in die grond moet bly sodat dit koolhidrate kan afskei wat die organismes voed en bydra tot die bou van die grondstruktuur.

Indien die tydsberekening met die rol van die gewas uit was en die vrees bestaan dat daar wel saadset plaasgevind het, kan die dekgewas gespuit word om moontlike opslag in die volgende seisoen te keer. Dit kan ook gedoen word met die bespuiting van ’n skroeimiddel. Op dié manier bly die wortels nog lank lewend en word koolhidrate in die grond afgeskei wat die mikro-organismes voed.

Tabel 1 toon ook die biomassa (droë massa) wat by Caledon en Tygerhoek in ’n baie droë jaar verkry is gedurende die 2017-seisoen.

2016 se droëmassasyfers was byvoorbeeld oor die 4 t/ha. Daar is in 2017 weer koring en gars geplant om die effek van die verskillende kombinasies van dekgewasse te evalueer. Die koring wat na die dekgewasse geplant word, ontvang slegs kunsmis tydens plant. Daar word wel siekte- en insekbeheer gedoen. Opbrengsresultate van die koring en gars wat in 2017 na die 2016-dekgewasse verbou is, toon baie belofte. Daar was verhoogde opbrengs en beter graderings teenoor die kontroles.

Op Riversdal was die koring se gemiddelde opbrengs na die dekgewasse 1,5 t/ha, in vergelyking met die wisselbouproef se gemiddelde van 1,4 t/ha. Die stelsel wat gevolg word, is: Dekgewas, koring, koring. Gradering vir die koring na al die mengsels, behalwe een mengsel, was B1, terwyl die wisselbouproef B3 was. Die beste opbrengs van 1,74 t/ha is verkry na die mengsel van rog, wieke en fababone. Dit moet in ag geneem word dat dit ’n uitsonderlike droë jaar op Riversdal was – die gebied het slegs 126 mm reën gedurende die produksieseisoen ontvang.

Op Caledon was die gewasvolgorde soos volg: Medics, dekgewas, koring. Op Caledon was die koring gemiddeld 2,6 t/ha, met ’n hoogste opbrengs van 3,07 t/ha na die mengsel van rog, wieke en fababone. Op die naasbeste mengsel van rog, wieke, witmosterd en ertjies, is ’n koringopbrengs van 2,9 t/ha behaal. Al die koring is as B1 gegradeer. Op Tygerhoek is gars bo-oor die dekgewaspersele geplant. Die stelsel in die kamp was soos volg: Koring, dekgewas (lupiene vir die res van die kamp), gars. Daar was geen betekenisvolle verskille tussen die opbrengs van die kontantgewas na die mengsels nie. Die gemiddelde garsopbrengs was 4,8 t/ha (moutkwaliteit), terwyl die kontrole wat normaal behandel is en geen dekgewas in die seisoen vooraf gehad het nie, 3 t/ha was.

Wanneer dit by die samestelling van die mengsels kom, is dit belangrik om die verhouding van die verskillende gewasse se saad reg te kry, want as die een tipe domineer, kan die effek van sommige van die ander gewasse verloor word. Dit is dan ook deel van die proses van dekgewasontwikkeling om aan die verhoudings te skaaf.

Die voordeel in die gebruik van ’n mengsel is veelvuldig. Stikstofbindende peulgewasse in die mengsel sit stikstof in die grond, terwyl die verskillende gewasse se wortel­dieptes ook verskil en dus die mikrobiologie op veelvuldige vlakke voed. Verskillende gewasse skei ook verskillende koolhidrate af wat bydra om die diversiteit van mikro-organismes te beïnvloed. Sommige van die grasse kan oppervlakverdigting verlig, terwyl brassicas, soos spesifieke radystipes, dieper kompaksie kan aanspreek.

Dekgewasbestuur
Die navorsing oor die bestuur van dekgewasse word tans op Langgewens Navorsingsplaas, naby Moorreesburg, gedoen. Drie maniere van bestuur word met mekaar vergelyk en sluit beweiding (Foto 4) asook die maak van hooi en ’n deklaag in (Foto 5). Vergelyking van die drie metodes van dekgewashantering vind plaas ten opsigte van die beskikbaarheid van voedingstowwe na oes in die residu en grond, die voedingswaarde van die materiaal en die effek van die bestuur op die daaropvolgende koring.

Twee mengsels word gebruik: Die een mengsel is oorwegend graangewasse, terwyl die ander mengsel oorwegend peulgewasse is. Die biomassa wat geproduseer word, word alles bo-op die grond gelos óf verwyder as hooi óf drukbewei en dan toegelaat om te hergroei om sodoende bedekking te bewerkstellig. Op hierdie stadium is voervloei nie direk deel van die navorsing nie, maar dit sal onder die loep kom vanaf 2019.

Wat wel werk, is om die dekgewas vroeg te saai, al is dit droog, sodat daar vroeg potensiaal is sodra die eerste goeie reën val. Die vee kan dan na die eerste beweiding geskuif word na kampe waar die voer later is en kan dan weer later teruggebring word sodra hergroei plaasgevind het. Op Langgewens is vier kampe vanjaar so bestuur en is die dekgewasmengsel met ondergemiddelde reën vier keer bewei.

Soos ’n mens sou verwag, het die verwydering van materiaal as hooi die grootste impak op die beskikbare voedingstowwe gehad in vergelyking met die ander twee metodes. Wat baie interessant is, is die verskynsel dat daar so te sê geen verskil tussen die beweiding en die deklaag was in byvoorbeeld die hoeveelheid beskikbare stikstof aan die einde van die seisoen nie. Die redes hiervoor is natuurlik die misfaktor en dit wil voorkom asof die hergroei ook ’n hoër konsentrasie van voedingstowwe gehad het.

Wanneer die biomassa as hooi verwyder word en gevoer word, kan die inry van mis na die tyd ook ’n moontlike verskil maak in die beskikbaarheid van voedingstowwe. Die data word tans in ’n MSc-tesis verwerk en sal by ’n latere geleentheid in meer diepte bespreek word.

Die beweiding wat toegepas is, is die ekwivalent van 154 vleismerino-ooie, met ’n gemiddelde gewig van 75 kg elk, per hektaar vir tien dae. As gevolg van sekere logistieke beperkings is daar nie na massa-toename gekyk nie. Dit sal deel uitmaak van ’n komende projek waarin moontlike verskille in groeitempo tussen die verskillende mengsels en moontlik ook tussen verskillende skaaprasse, ondersoek sal word.

Hierdie proef het in 2016 begin en die eerste koring na die behandelingsmetodes is in 2017 (tydens die droogte) ingesamel. Die opbrengs was gemiddeld 2,3 t/ha vir al drie behandelings en daar was nie betekenisvolle verskille tussen die metodes nie, selfs nie eers tussen die twee dekgewasmengsels nie.

Die koring wat wel na die peulmengsel verbou is, se proteïenvlakke was hoër. Die tweede koringoes na die dekgewasse is reeds ingesamel, maar al die ontledings is nog nie voltooi nie. Die volgende stap in die proses is om na die ekonomie van die metodes te kyk.

Die feit dat daar tot dusver nie verskille tussen die deklaag en die beweiding is nie, kan beteken dat die dekgewasse se voordele geniet kan word en ’n addisionele inkomste steeds daarmee gegenereer kan word. Daar is ook ’n daadwerklike poging om die mengsels meer bekostigbaar te kry.

Samevatting
Dekgewasse het die vermoë om soveel veelsydigheid aan produksiestelsels toe te voeg. Verhoogde biodiversiteit geld nie net vir plantspesies nie, maar dien ook as lokaas vir voordelige insekte, bestuiwers en ’n diverse mikrobe-populasie in die grond. Moenie net vaskyk in die hede nie, maar rig die blik op die toekoms as dit by die dekgewasse kom. Dit mag dalk dividende oor ’n langer tydperk uitbetaal.

Kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.com vir navrae oor die artikel.