Risiko, veerkragtigheid en versekering: ’n strategiese noodsaaklikheid

39
Daan Hugo, besturende direkteur, FFG Agri

Kommersiële graanproduksie in Suid-Afrika funksioneer binne ’n toenemend komplekse en onvoorspelbare risikolandskap. Risiko is nie ’n uitsondering in landbou nie – dit is ’n permanente werklikheid. Om risiko heeltemal te vermy sou beteken om die sektor te verlaat. Die werklike uitdaging lê dus daarin om risiko doelbewus te identifiseer, te prioritiseer en strategies te bestuur om volhoubaarheid te verseker.

Vir kommersiële graanprodusente het hierdie uitdaging die afgelope dekade merkbaar toegeneem. Klimaatsverandering, insetkoste wat styg, infrastruktuur wat agteruitgaan en beleidsonsekerheid plaas toenemende druk op produksie- en finansiële stelsels. In hierdie konteks is tradisionele risikobestuur nie meer voldoende nie. Die fokus verskuif na die bou van veerkragtige boerderystelsels: stelsels wat skokke kan absorbeer, vinnig kan aanpas en steeds winsgewend kan funksioneer.

’n Kernkomponent van hierdie benadering is versekering – nie bloot as ’n vangnet nie, maar as ’n strategiese instrument.

Risiko in graanboerdery: ’n bestuursrealiteit
Risiko in landbou verwys na die moontlikheid om iets van waarde te verloor, hetsy opbrengs, inkomste, kapitaal of markposisie. In graanproduksie, waar insetkoste hoog en marges dikwels onder druk is, kan die impak van swak bestuurde risiko’s ernstig wees.

Doeltreffende risikobestuur bestaan uit drie hoofelemente: mitigering (versagting), oordrag en die vermoë om skokke te absorbeer. In ’n moderne konteks word hierdie derde element beter beskryf as veerkragtigheid – die vermoë om onder druk funksioneel te bly en vinnig te herstel. Hierdie drie elemente moet nie in isolasie bestuur word nie; dit is juis die integrasie daarvan wat ’n robuuste en volhoubare boerdery­stelsel skep.

Vir graanprodusente beteken dit dat risiko nie net bestuur moet word nie, maar sistematies in die boer­dery se strategie geïntegreer moet word.

Die Suid-Afrikaanse risikolandskap – klimaatsvolatiliteit
Onvoorspelbare weer bly die grootste enkele risiko vir graanprodusente. Droogtes, oorstromings, haelstorms en uiterste temperature is deel van die normale bedryfsomgewing. Hierdie verskynsels kom al hoe meer gereeld en intens voor, wat produksiebeplanning bemoeilik.

In Suid-Afrika verander klimaatsrampe die aard van versekerbare risiko’s – beide vanuit ’n dekkings- en prysperspektief. Die kernverskuiwing is dat uiterste weer nie meer as sporadiese afwyking beskou word nie, maar toenemend as ’n strukturele kenmerk van die risikolandskap. Vanuit ’n dekkingsperspektief is die belangrikste impak strenger onderskrywing. Ná groot klimaatsverliese raak versekeraars en herversekeraars meer selektief oor waar en hoe hulle kapasiteit ontplooi. Vanuit ’n prysperspektief beïnvloed klimaatsrampe premies deur die hele versekeringsketting. Dit verklaar waarom versekerdes dikwels premieverhogings ervaar selfs sonder eie eise. ’n Risiko kan goed presteer, maar steeds herprys word omdat die hele portefeulje, streek of gevaarklas verswak het.

Waterbestuur word toenemend deurslaggewend. Beperkte hulpbronne en mededinging tussen landbou, mynbou en stedelike gebruik plaas addisionele druk op produsente.

Die finansiële implikasies is groot: ’n Enkele swak seisoen kan kontantvloei ontwrig en langtermynbeleggings onder druk plaas.

Ekonomiese en markrisiko’s
Graanprodusente funksioneer in ’n vryemarkstelsel waar inset- en uitsetpryse voortdurend wissel. Brandstof-, kuns­mis- en elektrisiteitskoste is wisselvallig, terwyl graanpryse afhanklik is van globale markte en wisselkoerse.

Swak kontantvloeibeplanning en beperkte toegang tot finansiering is belangrike risikofaktore. Vir kommersiële produsente is finansiële dissipline dus ’n kernvereiste.

Infrastruktuur en operasionele risiko’s
Swak infrastruktuur en logistieke uitdagings verhoog produksiekoste en verminder doeltreffendheid. Probleme sluit in gebrekkige vervoer, swak instandhouding van toerusting en beperkte toegang tot betroubare dienste.

Alhoewel beurtkrag nie op die oomblik toegepas word nie het dit ’n bykomende risiko geskep, veral vir besproeiingsboerdery. Energie-onsekerheid raak elke aspek van produksie en vereis addisionele kapitaal­investering.

Beleids- en strukturele onsekerheid
Onsekerheid rakende grondhervorming en ander beleidskwessies beïnvloed langtermynbeplanning. Inkonsekwente implementering en stadige reaksie op rampe verhoog die risiko-omgewing.

Vir graanprodusente beteken dit dat strategiese besluite in ’n konteks van beperkte voorspelbaarheid geneem moet word.

Versekering: meer as net ’n veiligheidsnet
In hierdie uitdagende omgewing speel versekering ’n sentrale rol. Tradisioneel word dit gesien as ’n mega­nisme om verliese te verhaal, maar vir kommersiële graanprodusente is dit veel meer as dit. Versekering is ’n strategiese hulpmiddel wat stabiliteit, kontinuïteit en groei moontlik maak en is ’n sleutelbousteen van veerkragtige boerde­rystelsels. ’n Korttermynversekeringsmakelaar se rol is nie bloot om polisse te plaas nie. Ons is strategiese vennote wat help om risiko te struktureer, oor te dra en te optimaliseer met die doel om boerdery meer veerkragtig en winsgewend te maak.

Versekering as besluitnemingsinstrument
Versekering is nie net reaktief nie; dit maak beheerde risikoneming moontlik. Met voldoende dekking kan produsente met groter vertroue besluite neem. Dit sluit in:

  • belegging in hoër opbrengspotensiaal;
  • uitbreiding van produksie;
  • toegang tot finansiering; en
  • sluiting van termynkontrakte.

Versekerde boerderye dra minder sistemiese risiko, wat ruimte skep vir berekende groei. Versekering moet deel wees van die boerdery se operasionele en finansiële strategie.

Pasgemaakte versekering vir graanprodusente
Doeltreffende versekering moet aangepas wees by die spesifieke risiko’s van die onderneming. Een van die belangrikste elemente vir ’n kommersiële produsent is dat sy versekeringsoplossings in ooreenstemming is met sy boerdery se spesifieke risikoprofiel.

Daar is meer as net konvensionele produkte beskikbaar soos gestruktureerde versekering en deelname aan poelversekering. ’n Verantwoordelike makelaar sal hierdie opsies ook aanbied as dit voordeel kan inhou vir ’n kliënt se risikoprofiel.

  • Produksiedekking: Graanprodusente fokus tipies op dekking teen droogte, hael en oormatige reënval – risiko’s wat opbrengs direk beïnvloed.
  • Batebeskerming: Landboutoerusting soos trekkers en implemente, stoorfasiliteite en besproeiingstelsels verteenwoordig groot kapitale beleggings. Die verlies daarvan kan produksie ernstig ontwrig. Verskillende dekkingskeuses is beskikbaar.
  • Besigheidsonderbreking: Versekering teen inkomsteverlies tydens onderbrekings as gevolg van versekerde gevare help om kontantvloei te stabiliseer en die boerdery operasioneel te hou. Dit is veral belangrik in die pluimveebedryf.
  • Integrasie met finansiële bestuur: Versekering moet deel vorm van die boerdery se breër finansiële strategie.
  • Beskerming van die balansstaat: Onverwagte verliese kan die kapitaalbasis erodeer. Versekering beskerm hierdie belegging.
  • Stabilisering van inkomste: Deur inkomstewisselvaligheid te verminder, maak versekering beter beplanning moontlik.
  • Verbeterde toegang tot krediet: Banke vereis toenemend versekerde produksie. Dit verbeter finansieringsvoorwaardes en toegang tot kapitaal.

Die koste-uitdaging
Versekering kan duur wees, veral in hoërisikogebiede. Minder as die helfte van produsente gebruik sekere produkte soos oesversekering, wat risikopoelverspreiding beperk en pryse verhoog. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid om versekering as ’n deel van risikobestuursoplossings te sien en nie bloot as ’n koste nie.

Die analisering en prioritisering van ’n boerdery se spesifieke risiko’s saam met ’n makelaar is noodsaaklik om die oordrag van die relevante risiko’s na ’n versekeraar so te verpak dat die effektiefste koste-en-dekkingverhouding bereik word.

Tegnologie as ondersteuning
Moderne tegnologie maak beter risikobestuur moontlik. Verbeterde datagebruik en meer akkurate voorspelling help produsente om meer ingeligte besluite te neem. Presisieboerdery, satellietdata en analitiese platforms verhoog doeltreffendheid en verminder bloot­stelling aan risiko. Tegnologie en data maak dit vir versekeraars ook moontlik om risiko’s beter te analiseer en risikobeprysing meer akkuraat toe te pas.

Bou van veerkragtigheid
Versekering alleen is nie voldoende nie. Veerkragtigheid word op­gebou deur:

  • diversifikasie van produksie;
  • sterk finansiële bestuur;
  • belegging in infrastruktuur;
  • aanvaarding van tegnologie; en
  • strategiese vennootskappe.

Mededinging in ’n globale mark
Suid-Afrikaanse produsente kompeteer met lande waar landbou gesubsidieer word. Doeltreffendheid en risikobestuur is noodsaaklik om mededingend te bly.

Boerdery moet as ’n multidissiplinêre besigheid bestuur word, ondersteun deur tegnologie en sterk vennootskappe.

Gevolgtrekking
Risiko is onafwendbaar in Suid-Afrikaanse graanboerdery, maar dit is bestuurbaar. Die sleutel lê in ’n geïntegreerde benadering wat mitigering, risiko-oordrag en veerkragtigheid kombineer.

Versekering is ’n kernpilaar van hierdie benadering. Dit be­skerm nie net teen verliese nie, maar maak groei en volhoubaarheid moontlik. Produsente wat versekering strategies gebruik as deel van ’n breër risikobestuursraamwerk, sal beter toegerus wees om onsekerheid te hanteer en winsgewend te bly. Die realiteit dat risiko onvermybaar is vereis ’n skuif weg van tradisionele, reaktiewe risikobestuur na ’n geïntegreerde, proaktiewe benadering. Dit is waar ’n ervare makelaar ’n kritieke rol speel, nie net as ’n tussenganger nie, maar as ’n risikostrateeg.

In ’n omgewing waar verandering die enigste konstante is, is veerkragtigheid nie ’n keuse nie – dit is die fondament van sukses.

Vir meer inligting kontak Daan Hugo by 082 497 6500 of daan@ffg.co.za.