Die belangrikheid van markinligting: Wat leer ons daaruit?

2279

Deel 2: Witmielies

Die eerste gedeelte van dié reeks het in die Junie 2019-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn en het gehandel oor die algemene belangrikheid en die gebruik van inligting in die Suid-Afrikaanse graan- en oliesaadmarkte.

In deel 2 word na die spesifieke inligting van witmielies verwys. Aangesien die reeks grootliks fokus op die waarde van inligting in die graanmarkte, word daar veral gekyk na die inligting en wat daaruit geleer kan word. Ten einde hierdie doel te bereik, is dit belangrik om die tendense tussen die fundamentele markinligting en die pryse oor tyd met mekaar te vergelyk. Die vergelykings van die tendense word gedoen deur middel van seisoenale-indeksberekeninge.

Waarna om te kyk
Alhoewel vraag en aanbod die twee belangrikste aspekte is wat die pryse van enige kommoditeit beïnvloed, is dit belangrik om te onthou dat die beskikbare langtermyninligting nie net vir hierdie fundamentele aspekte aangewend kan word nie.

Betroubare langtermyndata het ’n baie groter waarde as slegs die fundamentele aspek daarvan. Hierdie tipe data kan aangewend word ter bevordering van markintelligensie aangesien dit bydra tot langtermyntendense waaruit goeie afleidings gemaak kan word. Indien hierdie tipe inligting nie tot die beskikking van die mark is nie, word dit uiters moeilik om werklik die fundamentele werking van die mark te verstaan. Die instandhouding van betroubare langtermyndatabasisse moet nie gering geag word nie.

Langtermyninligting bied aan die mark die geleentheid om verskillende tendense te trek en te ontleed om seker te maak die funksionering van die mark word reg verstaan. In hierdie artikel is seisoenale indekse gebruik om witmieliepryse asook beskikbare voorraadvlakke te vergelyk.

Seisoenale indekse
Die seisoenale-indeksberekeninge word gebruik om die tendense van die verskillende aspekte, wat die prys- en voorraadvlakke insluit, ten toon te stel en vergelykings te doen. Die seisoenale indekse druk die maandelikse pryse en beskikbare voorraad uit as ’n persentasie van die twaalfmaande- bewegende gemiddeld.

Hierdie is ’n goeie manier om vergelykings van die verskillende aspekte met mekaar te doen aangesien dit op dieselfde basis uitgedruk word. Die indeksberekening van die data gee die leser ’n goeie oorsig oor wat wanneer in die mark verwag kan word. Dit kan ook gebruik word wanneer bemarkingsbesluite geneem word.

Seisoenale tendense
Grafiek 1 illustreer die seisoenale tendense in die witmielieprys sowel as die beskikbare voorraad per maand. Die prysdata sluit beide die Julie-termynprys en die daaglikse pryse in vir die periode 2014 tot 2024.

Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat die witmielietermynpryse vir lewering in Julie gewoonlik gedurende Januarie ongeveer 8% hoër is as die gemiddelde jaarlikse prys. Die algemene tendens is dat die pryse nader aan strooptyd meer onder druk kom en gewoonlik tussen April en Oktober tussen 1% en 5% laer as die jaarlikse gemiddelde prys verhandel.

Grafiek 1: Seisoenale indekse van witmieliepryse en beskikbare voorraad

Aan die begin van die jaar (Januarie) het die indeks vir beskikbare witmielievoorraad op 109% gestaan, terwyl die daaglikse prysgemiddeld 101% was en die Julie-termynkontrakindeks 95%. Die indekstendense dui daarop dat pryse relatief naby aan die langtermynprys verhandel, met die meeste maande wat bo dié gemiddeld verhandel. Voorraadvlakke daal vinnig soos wat die seisoen vorder en teen Mei bereik dit ’n laagtepunt van slegs 42% van die jaarlikse gemiddeld.

Vanaf Junie begin voorrade geleidelik herstel weens verhoogde kommersiële lewerings en bereik dit ’n hoogtepunt van 166% van die jaarlikse gemiddeld in September, wanneer die grootste deel van die witmielie-oes alreeds gelewer is. Die termynprysindeks is geneig om te styg wanneer voorrade laer is, met ’n gemiddeld van 98%, wat 1% bo die jaarlikse gemiddeld is. Die tendens begin effens laer op ongeveer 95% in Januarie en styg geleidelik tot ongeveer 100% teen die einde van die jaar.

Ten slotte
Alhoewel hierdie artikel slegs een aspek van dit waarvoor die inligting gebruik kan word aantoon, is dit belangrik om die waarde van die langtermyninligting te verstaan. Daar is verskeie soorte inligting wat deur verskillende instansies bymekaargemaak word. Dit sluit daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse inligting in.

Die instandhouding van hierdie databasisse is noodsaaklik om die inligting aan die mark bekend te maak. Dit dra ook by tot die monitering van die werking van die mark aangesien die verskillende fundamentele aspekte van die mark in ooreenstemming met die prysbewegings in die markte geanaliseer kan word.

In die volgende gedeelte sal gekyk word na geelmielie-inligting.

Redakteursnota:
Die outeur het voorheen – toe hy in diens van Graan SA was – hierdie relevante reeks van ses aflewerings geskryf. Navrae kan gerig word aan Heleen Viljoen, landbou-ekonoom by Graan SA. Kontak haar per e-pos by heleen@grainsa.co.za of 086 004 7246. Volg ook Graan SA se gereelde markverslae op die organisasie se webtuiste by grainsa.co.za onder Graanekonomie.