Die getooide jagter

157

Beste Grootneef

April was die maand van die groot waters deur die Vrystaat. Spruite het hoogwater gevloei en damme het oorgeloop. Strome van seën. Uit Hennenman se wêreld laat weet neef Jaco dat in November 2018 die laagste reënval in 112 jaar aangeteken is. In April vanjaar is egter die meeste reën ooit in 112 jaar op die plaas gemeet. Van sandveld tot ’n paradys in ses maande!

In Mosambiek het water en wind gewys hoe kragtig die natuur is. In sekere dele is meer as ’n meter reën gemeet. Ons harte gaan uit na die arme mense wat huis en haard verloor het.

Ou Neef, die posdiens is nie aldag ’n betroubare bron nie. Laas week nog het ’n Kerskaartjie uit die bloute opgedaag. Deel van die pospakkie hierdie week was egter ’n jagbylaag, net betyds vir die winter! Met die deurblaai lyk dit of jagtery al meer ’n boetieksport geraak het. Die modegiere in volkleur wys gewere met blou kolwe en messe vir die skoner geslag in pienk. Met hoede, stewels en jagbaadjies wat selfs vir dr Livingstone winkel toe sou gelok het.

Op die agterblad van die bylaag pryk ’n volbladadvertensie van ’n towersproei wat jy kan aanspuit om na niks te ruik nie. Dit bied ook kapsules vir wasgoed, sodat niks na iets ruik nie. Met dié sproei aan, sal jou eie honde eers ’n week later vir jou blaf. Geen buffel of ondier sal weet van jou nie.

Ou Neef, baie stedelinge verdwaal só tussen die duur winkelrakke om hulle op te tooi vir ’n jag, dat hulle skoon vergeet waaroor jag eintlik gaan. Net om dan steen en been te kla oor die pryse van biltongbokke.

En daar verlang ek plotseling na oom Frank op sy Bosveldplaas. Oom Frank het eenvoudig geleef. Die dorp en stadsliggies was by hom derde natuur. Sy element was die Bosveld. Die huisie was klein en eenvoudig, met ’n kombuis en twee slaapkamers. Daar was nie kraglyne naby die werf nie – die stofie en yskas is met gas aangedryf. Die ligte in die aand, ’n kersie en paraffienlamp, met ’n gaslamp wat in die kombuis staan en sis.

Op die plaas was net een boorgat. Die kosbare water is met pype herlei tot by ’n tenk naby die huis. Die water vir die anderkant van Langrand is met ’n ysterpyp deur die nekkie in die kloof geneem tot waar dit in die sinkdam geplons het. Die ou Lister-enjin was mans genoeg om twee keer ’n week die water oor die berg te stoot.

Daar op oom Frank se plaas het jy geleer dat jy net ’n gas in die bos is. Die grys skim van ’n koedoebul kon sonder die rol van ’n klippie in die bos verdwyn. ’n Ribbok se fluit was meestal hoe jy verneem het dat hulle jou gewaar het. Rooibok en bosbok het moeiteloos deur die doringveld gevleg. Dit was maar mense in winkelskoene wat klippe laat rol of takke laat kraak het.

Dié wat gelukkig genoeg was om tydens die kuier ’n rooibokkie te skiet, het die karkas sommer aan ’n boom in die skadu laat hang – vel aan met ’n lapsak oor. Koelkamers was vir die volgende geslag.

Die fyn wild was ook volop. ’n Eekhoring in die boomtop of die geskrop van patryse tussen droë blare was deel van die bostaal. Met een jagtog het ek halfpad die berg uit onder ’n boom gaan sit om ’n lemoen te skil. Van die sousies het op my broek gemors. Asof uit die niet, het ’n skoenlapper verskyn en met ’n fyn roltong in die meevaller gedeel.

In die nekkie van die kloof deur die berg, het ek een oggend ook op ’n Bosveldtragedie afgekom. Die dun stamme van die mopanies was geknak en die veld fyngemaal. Onder ’n maroelaboom het die twee koedoebulle gelê – hul horings inmekaar gesluit – ná ’n geveg tot die dood oor wie baas van die berg moes wees.

Wanneer die son oor die winterveld gesak het, het die kampvuurtjie begin gesels. Knetterstompies het vonke die lug in gedryf. Wanneer die luggie effe uit die suide gestoot het, het die hardekole blou-warm gebrand. Die Suiderkruis het snags helder oor Langrand gehang.

Die aarde en die bos het tydloos aanbeweeg. Net die besoekers kon een keer ’n jaar sien dat nog ’n somer vir die ander een verby is.

Ou Neef, toe ek deur die tydskrif met die “fênsie” jagmodes blaai, het ek gewonder wat oom Frank daaroor sou sê. En of die trop rooibokkies sou staan en grinnik vir die stadsjapies in hul “camo” wat verby stap, sonder om hul in die bosse te gewaar.

Groete op die Oosgrens!