Wees paraat teen die rooi gevaar wat alles verteer

20
Johan Terblanche,
brandbeskermingsbeampte,
Goudveld Brandbeskermings­vereniging

Vuur veroorsaak jaarliks baie skade en beserings. Heelwat van hierdie beserings en skade kan voorkom word as daar net van die begin af korrek opgetree word.

Veldvuurreaksieplan
Waaksaamheid is die belangrikste aspek wat skade en verlies voorkom. Dit is van kritieke belang vir ’n brandvereniging dat lede enige rook of brand onmiddellik rapporteer as hulle dit gewaar.

Wees altyd op die uitkyk vir rook wanneer jy uit die huis kom, op die plaas werk of dorp toe ry. As jy in die nag wakker word, kyk by die venster uit vir vuurgloede. Rapporteer dit dadelik op die relevante WhatsApp-groepe en wag dan ’n paar minute vir reaksie.

Indien daar geen reaksie is nie, bel die brandbeskermingsbeampte en maak seker hy is bewus daarvan. Sê ook op die groep in watter rigting jy die rook sien. Dit is die brandbeskermingsbeampte se plig om rond te bel en uit te vind waar die brand is. Die naaste persoon aan die brand moet daarheen ry, bepaal hoe groot dit is en hoeveel hulp wel nodig is.

Die persoon by die brand moet vir die ander lede ’n WhatsApp-ligging stuur. Die ander lede van die brandvereniging ontvang die boodskap en kan dan maklik tot by die vuur kom. Persone wat gaan help, sit net op die groep “Ek is op pad” – dan kan die brandmeester sien hoeveel hulp al op pad is en sy beplanning daarvolgens doen.

Sodra die brand onder beheer is of as daar te veel hulp op pad is, sal die brandmeester op die groep meld dat dit onder beheer is sodat die hulp wat die verste van die brand is, kan omdraai en huis toe gaan en nie onnodig hoef ry nie. Hoe vinniger lede reageer op die alarm wat gemaak is, hoe kleiner is die vuur wat geblus moet word.

Wanneer jy op die brandtoneel aankom, vind uit waar die brand begin het en neem foto’s van wat jy dink later nodig mag wees in ’n hofsaak. Let op na die rigting van die wind en ook na wie almal help by die brand. Hierdie besonderhede moet in ’n brandverslag kom. (Die besonderhede raak eers relevant sowat twee jaar na die brand wanneer die eis inkom.)

Vereistes vir veldvure
’n Veldvuur ontstaan meestal op die mees ongeleë tye, soos oor naweke wanneer die meeste mense kuier of nie waaksaam is nie. Die WhatsApp-groep rapporteer ’n veldbrand, almal spring in die bakkies met die bakkiesakkies op en daar gaan hulle.

Dit is hier waar grondeienaars die oorsaak kan wees van groot hartseer en skade. Die kuiermense wat van die dorp af kom, klim net so met plakkies, kortbroek en T-hemp en ’n lyf vol alkohol op die bakkie, sonder dat hulle beskermende klere aanhet of opleiding gehad het in veldvuurgedrag.

Alternatiewelik gaan haal die landbouer gou die plaaswerkers by hul huise waar ook hulle die naweek geniet, met dalk ’n oorinname van alkohol. Nou moet hulle in daardie toestand ’n veldvuur wat teen meters per sekonde oor die veld jaag, gaan help blus. Bogenoemde is ’n seker resep vir ’n hartseer ramp.

Wanneer daar na ’n veldvuur gegaan word, moet die volgende in plek wees:

  • Persone wat gaan om ’n veldvuur te blus, moet opgelei wees en moet beskermende klere aanhê.
  • Beskermende klere wat die hele liggaam kan beskerm, is twee lae katoen of wol bo-oor mekaar aangetrek, soos ’n T-hemp van katoen met ’n katoenoorpakbaadjie, asook lang sweishandskoene om die hande te beskerm en ’n dubbellaagkatoenbroek.
  • Pasop vir sintetiese klere – dit kan in die vel insmelt as dit naby vlamme kom.
  • Leerstewels met wolsokkies is noodsaaklik.
  • Leerstewels moenie ’n harde staalpunt voorin hê nie. Dit kan so warm word dat dit die tone brand.
  • ’n Nat, wyerandhoed van katoen met ’n nat kopdoek oor die neus en mond wat agter die kop vasgeknoop word.
  • ’n Stofdigte sweisbril (deurskynend) om die oë te beskerm.

Hierdie is die minimum vereistes vir beskermende klere – daar is ook beter en duurder opsies.

Wanneer jy vuur toe gaan, moet jou bakkiesakkie en bakkie in ’n 100%- werkende toestand wees. Onthou ook dat die petrol kan opraak. As jy naby die vuur kom, skakel die vuurvegter se enjin aan en sorg dat die bakkie se enjin altyd luier as dit naby ’n vuur is. Daar het al ’n hele paar bakkies uitgebrand omdat die bestuurder dit nie vinnig genoeg aan die gang kon kry nie.

As jy lid is van ’n brandbeskermingsvereniging, sal die sektorleier van die area beheer neem om die brand te veg. Rapporteer met aankoms eers by hom – hy sal jou indeel waar hulp benodig word.

’n Vuur het ’n gevaarlike en ’n veilige kant. Die gevaarlike kant is die ongebrande kant – windaf – of die rigting waarin die wind waai en die vuurtonge heen beweeg. Die veilige kant is die gebrande kant – windop – met ander woorde die wind waai van jou af na die vlamme toe.

Onthou dat die vuur ook sy eie wind kan maak as gevolg van die konveksiestrome van die hitte van die vuur. Dit kan veroorsaak dat die vuur eensklaps draai en die hitte na jou toe beweeg. Beweeg dan verder weg van die vuur af in die gebrande area in.

Pasop vir vuur onder ’n kraglyn. Brandslaners moet nie direk onder ’n kraglyn vuur blus nie omdat elektriesevonkspronge grond toe kan plaasvind as gevolg van die hitte en sodoende die werkers erg kan beseer.

Dit is makliker om die vuurlyn van agter af op te rol aan die linker- en regterflanke van ’n veldvuur – verkieslik in ’n span van twee tot drie bakkies agter mekaar. Daar moet ook ’n eenheid wees vir elke flank wat die opruimwerk doen en keer dat die vuur nie weer agter opstaan nie.

Van die beste hulpmiddels is die groot newelblasers van Stihl en Husqvarna, wat die roet, blare en miskoeke binne na die swartvlek blaas en voorkom dat die vuur weer agter opstaan.

Die brandmeester sal besluit waar en wanneer voorbrande begin moet word. Daar moet genoeg hulp wees voordat ’n voorbrand gemaak mag word. Baie groot vure het al by voorbrande begin, maak dus seker dat opdragte korrek uitgevoer word.

Daar is verskeie kursusse in hierdie verband beskikbaar. Kontak Johan Terblanche by 082 954 3160 of johanrusmysiel@gmail.com vir meer inligting.